Hierdie kort-kortverhaal handel oor 'n muis wat hulp van 'n padda soek om van die een kant van die stroom na die ander te kom.Muis moes baie dringend aan die oorkant van 'n stewige stroom kom. Sy familie aan die oorkant is siek en Muis wil hulle gaan help. Omdat Muis nie kan swem nie, het hy allerhande planne gemaak om aan die oorkant te kom, maar die een plan was meer gevaarlik as die ander plan. Gelukkig sien hy 'n padda op 'n klip in die son sit en bak en besluit om hom te nader vir hulp. Hy ken nie dié padda nie en na heelwat mooi praatjies en beloftes stem die padda in om die muis te help. Muis maak homself aan die padda vas, want hy wil nie in die water val nie. Padda het egter ander planne gehad en duik in die water in net nadat Muis homself stewig op Padda se rug vasgemaak het. Padda bly lank genoeg onder water totdat hy seker is die muis op sy rug het verdrink.
Padda swem met 'n groot glimlag op sy gesig na bo en spring op sy gunstelingklip. Hy kan nie glo dat die muis hom so maklik geglo het nie en sonder enige moeite het hy 'n kitsmiddagete op sy rug. Hy was nog besig om die toue los te maak waarmee Muis homself vasgemaak het, toe word hy deur meneer Valk opgetel. Meneer Valk is op sy beurt baie in sy skik dat hy twee porsies kos kry met net een poging.
Wat het ek uit hierdie storie geleer?
* Moenie iemand vertrou wat jy moet smeek om jou te help nie.
* Moenie vreemdelinge vir hulp vra nie.
* Moenie iemand wat jou hulp nodig het, te na kom nie.
* Jy kry van jou eie medisyne terug, as jy vir ander lieg.
No comments:
Post a Comment