Ek skryf net 'n baie kort briefie om ons tannie Christelle terug te verwelkom by die werk. Ek het die laaste ruk aanmekaar vir julle geskryf en ek besef dat te veel van 'n goeie ding, nie goed is nie. Tog wil ek nie hierdie kans deur my vingers laat glip om vir tannie Christelle duidelik te laat verstaan dat ons haar gemis het en dat haar plek in die kantoor en in ons harte leeg was nie.
Ek, in my hoedanigheid as hoof van sekuriteit, het haar regtig gemis. Daar is so baie dinge wat ek graag met haar sou wou bespreek, veral as ek hond se gedagtes gekry het, maar dan het ek maar op my instinkte staatgemaak. Ek het hierdie afgelope week ook agtergekom dat jy nie slapende honde moet wakker maak nie, want jou eie honde byt die seerste.
Dankie, tannie Sanette, dat jy nie tannie Christelle se verjaardag vergeet het nie en dat jy vir haar haar gunstelingkoek gebak het. Ek, Tommie en ouma Annie het koppe bymekaar gesit om vir jou spesiale wense te skryf. Tannie Sanette het ons gehelp met al die byvoeglike naamwoorde.
'n Verjaardag is 'n sprankeling
wat jý alleen kan voel ...
'n Verjaardag is 'n warmte
wat jý alleen gewaar ...
'n Verjaardag is genoeglikheid
wat jý alleen verstaan ...
'n verjaardag is 'n dag,
net 'n bietjie sonniger,
en helderder,
'n bietjie liefliker
en baie gelukkiger
as 'n gewone dag ...
en die beste van alles ...
dis alles joune!
Liewe tannie Christelle, ons hoop dat jou verjaardag saam met jou familie baie spesiaal was en dat jy met ons definisie van 'n verjaardag saamstem.
Ruben-groete tot volgende keer!
Ai ou Ruben, jy is sommer n uitstaande hond wat sommer gou hond of haar kan uitmaak. Jys sommer n hond uit een stuk. Jy mag maar sommer jou stertjie hoog waai. Christelle baie geseënde jaar vir jou. Lekker slaap almal.
ReplyDeleteDankie, Anoniem! Ek is altyd opgewonde om pos van jou te kry. Tannie Christelle sê baie dankie vir haar goeie wense! Vreugde!
ReplyDelete