Jare terug was daar twee broers; die ouer een was altyd gemeen en onvriendelik teenoor sy jonger broer. Hy het sy broer altyd minderwaardig laat voel. Die ouer broer het vuurmaakhout in die bos gekap vir 'n inkomste en dan het hy dit op die mark gaan verkoop. Op 'n dag het hy op 'n magiese boom afgekom. Die boom het hom gesmeek om hom nie af te kap nie en het hom goue appels in ruil belowe. Die ouer broer het in sy geestesoog gesien dat hy sommer baie gou ryk gaan word sonder dat hy harder hoef te werk. Die ouer broer was egter teleurgesteld oor die aantal appels wat die wonderboom hom elke dag gegee het.
Hy besluit toe so in die stilligheid om wel die boom af te kap. Hierdie boom behoort meer hout as vyf ander bome te gee. Maar die wonderboom het presies geweet wat in die ouer broer se gedagtes aangaan en hy het hom met honderde naalde toegegooi toe die ouer broer onder die boom gestaan het. Die broer het in die allervreeslikste pyn op die bosgrond geval. Sy jonger broer het hom gaan soek toe hy nie sy gewone tyd by die huis opdaag nie en hom uiteindelik gevind waar hy op die grond lê en krul van pyn. Die jonger broer het hom jammer gekry en onmiddellik begin om elke naald versigtig uit te haal. Die ouer broer het uiteindelik vir sy jonger broer verskoning gevra dat hy hom só sleg behandel het. Die magiese boom het hierdie herstel van broederbande gesien en besluit om vir hulle meer goue appels te gee.
Wat het ek uit hierdie storie geleer?
Wat het ek uit hierdie storie geleer?
* Goedhartigheid sal altyd beloon word.
* Moenie kwaad met kwaad vergeld nie.
No comments:
Post a Comment