'n Eensame olifant wat baie alleen was ... eintlik stoksielalleen, het na vriende in die bos gesoek. Die aap het geweier om die olifant se vriend te wees, omdat die olifant nie in die bome kon rondswaai nie. Die haas het die olifant ook weggewys, omdat olifant te groot was om saam met hom in sy sitkamer te sit en tee te drink en wortelkoek te eet. Die padda het geweier om die olifant se vriend te wees, omdat olifant nie kon spring nie. Elke dier wat olifant raakgeloop het en hom gevra het om sy vriend te wees, het net nee vir die arme olifant gesê. Hierdie diere se verskonings was werklik belaglik en olifant het besef dat niemand hom vir 'n maat wil hê nie. Dit het hom nog allener laat voel ...
Die volgende dag sien olifant hoe die klomp diere in die bos baie vreesbevange is en so vinnig as wat hulle kan, weghardloop. Olifant stop 'n beer wat ook aan die hardloop is en dié sê dat daar 'n tier is wat hulle jaag en hulle wil aanval. Olifant is nie bang vir die tier nie en het die tier mooi gevra om te stop, maar die tier het vir die olifant gesê om uit sy pad te bly. Die olifant het driftig in die rigting van die tier marsjeer om die tier te skop sodat hy hom kan afskrik.
Dit is toe dat die ander diere besef het dat dié olifant die perfekte grootte het om hul vriend te wees. Hy is selfs nie eens bang vir die tier nie.
Wat het ek uit hierdie storie geleer?
* Vriende kan enige vorm of grootte wees.
* Vriende kan mekaar help.
No comments:
Post a Comment