Vader Krismis verstaan nie Kersbome wat van dennebome gemaak is nie. Hy hou van Kameeldoringbome. Hulle werk lekkerder, want elke seisoen sit hulle hul eie mooigoed op. Fluweel-sade.
Kinders wat stout was, kry nie presente nie. Maar in Kersfeestyd is alle kinders soet. Kinders mag in elk geval so ‘n klein bietjie stout wees, want dis wat kinders kinders maak. Maar hulle mag net stout wees todat ma sê “dis nou genoeg” en hulle is bietjie soeter as pa van die veld af terugkom.
Kalahari-kinders speel nie met iPads nie en hulle ken nie van Apps nie. Hulle speel met kruiptolletjies en bicycle rims. Die rykes speel met ‘n platkar wiel. Maar die rykes en armes hou van mekaar. Hulle deel speelgoed. En kos. En komberse.
Wanneer Kalahari kinders die aand voor Kersfees gaan slaap, gaan slaap hulle nie. Hulle lê wakker deur die langste nag van die jaar. Hulle probeer wakker bly om te sien wanneer Vader Krismis aankom, want niemand het hom nog ooit, ooit gesien nie. Maar wanneer dit baie laat raak, so teen tien-uur die aand, kan hulle nie meer nie, dan gooi Klaasvakie hulle sommer met twee hande vol rooisand.. en dan, die volgende oggend, het hulle weer nie vir Vader Krismis gesien nie. Hulle dink, Vader Krismis en Klaasvakie werk saam, want dit gebeur altyd.
Wanneer kinders op Kersdag wakker word is hulle baie opgewonde, want Vader Krismis was daar. Hy het dan vir elkeen so ‘n ietsie gelos om vir die volgende jaar mee te speel. Dogtertjies kry gewoontlik poppe. Wit poppe, want by die stad se winkels is daar baie meer wit poppe as bruin poppe. Wit poppe is ook baie keer op special. Seuntjies kry kaskarre en ketties. Met haasrek, wat ook al die pad van die stad af kom. Die koperasie hou dit aan.
Kinders en ma’s en pa’s trek op Kersoggend hulle mooiste en beste klere aan, want hulle gaan dan kerk toe om die storie van Josef en Maria te hoor en om Stille Nag te sing.
Na kerk gaan die kinders met hulle nuwe poppe en kaskarre en ketties speel, want ma gaan besig raak om baie kos te maak. Gewoontlik kom al die ooms en tannies en niggies en nefies ook kuier. Hulle bring ook hulle kos saam. En hulle ketties en poppe en kaskarre.
Op Kersfees kry die werfbrak ook ‘n geskenk. Hy kry ‘n skoongesnyde been en al die ekstra vet wat die ma’s van die vleis afsny. Die hond word baie keer siek op Kersfees.
Partykeer word pa’s ook siek op kersfees, maar dis ‘n ander soort van siek wees. Hulle raak eers snaaks en dan raak hulle aan die slaap.
Terwyl pa’s siek is en slaap, was ma’s die skottelgoed en dan gaan slaap hulle ook. Dan moet die kinders weer soet wees, anders kry hulle volgende jaar nie poppe en kaskarre en ketties nie.
Kinders hou baie van Kersfees, want hulle weet dat Kersfees daar is omdat Liewe Jesus almal liefhet en hulle eendag in die hemel wil hê.
Geseënde Kersfees!
[Dankie, Christelle, vir die deel.]
Dit is so kosbaar. Ek het dit omtrent geniet.
ReplyDeleteDankie vir jou terugvoer. Die opregtheid van 'n Kersfees in die Kalahari staan in sterk kontras met 'n stadskersfees. Mag jy net soveel vreugde vind in die gedagtes en skryfstukke van 2025! Vreugde!
ReplyDelete