Partykeer dink ons dat ons lewe beter sal wees, as ons net ryker is, meer geld het, nie so sukkel om 'n bestaan te maak nie. Geld lyk en voel asof dit die oplossing van al ons probleme gaan wees. Hierdie manier van redeneer klink reg en daar is baie ander wat met jou gaan saamstem. Wayne se pa het ook so gedink. Daarom het hy een naweek vir Wayne na die platteland gevat om aan hom te wys dat die dinge wat hy in die stad ervaar, sien en beleef het, die beste is. Wayne se pa wou hê dat sy manier van dink ook sy seun se manier moet wees.
Hy wou die plattelanders se manier van lewe duidelik onderstreep met dade en nie woorde nie. Hulle het die naweek spandeer op 'n plaas van doodgewone goeie mense, niks was uitspattig nie - nie die huis, werf of bakkie nie - die ideale situasie om sy standpunt te onderstreep.
Op pad terug huis toe vra die pa vir sy seun: “En wat het jy alles hierdie naweek geleer?”
Die seun het gesê: “Dit was eenvoudig net wonderlik, Pa.”
“Het jy toe gesien hoe arm mense lewe?” vra sy pa.
“O ja,” antwoord Wayne.
“En wat het jy alles geleer?” vra sy pa.
Wayne het opgewonde geantwoord: “Ek het gesien dat ons net een hond het, maar hulle het vier. Ons het ʼn swembad in die middel van ons tuin, maar hulle het 'n hele rivier sonder ʼn einde. Ons het ingevoerde lampe in ons tuin, maar hulle het elke nag die helderste sterre. Ons het ʼn patio in ons binnehof, maar hulle het ʼn hele horison sonder einde. Ons woon op ʼn erf in die stad. Hulle het landerye wat eindeloos uitstrek. Ons het werkers om ons te help, maar hulle help mekaar. Ons het mure rondom ons erf om ons te beskerm. Hulle het goeie vriende en omgeebure wat hulle beskerm. Ons koop ons kos in die supermark. Hulle kweek hulle kos op hul eie grond - die organiese kos waarvoor ons só baie betaal.”
Die pa was eenvoudig net sprakeloos! Hy het nie geweet wat om sy seun te antwoord nie,
Wayne het die gesprek afgesluit: “Baie dankie, dat Pa vir my geleer het hoe arm ons eintlik is.”
Rykdom lê nie altyd in materiële dinge nie. Rykdom kan ook in goeie waardes en waardering lê!
No comments:
Post a Comment