Monday, 17 March 2025

Werk saam met Loumari en Toors


Loumari en Toors het planne en ideale vir Christina Kiddie Kinder- en Jeugsorgsentrum, maar om hierdie planne 'n werklikheid te maak, het hulle hulp nodig. En dit is waar elkeen van ons lesers in die prentjie kom. Kom ons vat hande en maak dit vir hierdie twee matrieks moontlik om hul drome 'n werklikheid te maak. Eerste op hul lysie is om paaseiers in te samel. Paasnaweek gaan die bekende paashaas 'n prettige draai by Christina Kiddie sentrum maak om kinderharte bly te maak. 

Hou gerus hierdie spasie dop vir al hulle ander planne! Sterkte Loumari en Toors!!

Sunday, 16 March 2025

As 1 Korintiërs 13 net vir Pappas geskryf was:

'n Pa verbly hom nie oor 'n kind se foute met:
"Ek het jou gewaarsku, maar jy wou nie luister nie."
Hy is verheug as hy sy kinders die waarheid hoor praat.
Daarom wil hy sy kinders se skandes met liefde bedek.
In hulle glo,
die beste vir hulle hoop,
en hulle kleredrag, klaery en kritiek verdra.
'n Opregte drukkie en 'n intieme gesprek
van 'n ouer bly lank in 'n kinderhart ...
Maar die preek of toespraak wat hy liewer in die tyd wou skryf - 
sal oormôre weer vergete wees.
Toe ek 'n jong man was, 
was ek gesteld op my voorkoms,
my motor 
en my geleerdheid ...
Maar noudat ek pa geword het,
wil ek graag my kinders met liefde,
balans en geloof grootmaak.
Nou kyk ek nog vas teen rebelse klein gesiggies,
maar eendag as hulle groot is,
sal hulle verstaan wat ons hulle wou leer,
en wat God ons almal leer.
En nou: Geduld, aanmoediging en liefde bly.
Maar die waardevolste hiervan is 
ONVOORWAARDELIKE LIEFDE!!!

[Dankie, Anoniem, vir die deel hiervan.] 

Saturday, 15 March 2025

Ruben-humor: Diereraaisels

* Hoekom loop 'n skilpad nooit agteruit nie?
Hy is bang hy stamp teen iets omdat hy nie 'n truspieëltjie het nie.

* Wat is stadiger as 'n tiener-skilpad?
Sy oupa

* Wat sê die slak vir die skilpad toe hy wou gaan swem?
"Hou my dop."

* Wat sê die kangeroe-ma vir haar tiener?
"Ek gee nie om dat ander kinders dit doen nie, maar jy plak nie prente in jou kamer nie."

Thursday, 13 March 2025

Advertensie: Besoek West End Slaghuis gerus in Maart

Klik HIER en besoek gerus ons Facebookblad vir Maart-winskopies.

Daar is nou gereserveerde parkering vir West End Kliënte by die Hadisonpark Sentrum!

Onthou: Goed - Beter - West End!

Een minuut storie: Olifant en vriende


'n Eensame olifant wat baie alleen was ... eintlik stoksielalleen, het na vriende in die bos gesoek. Die aap het geweier om die olifant se vriend te wees, omdat die olifant nie in die bome kon rondswaai nie. Die haas het die olifant ook weggewys, omdat olifant te groot was om saam met hom in sy sitkamer te sit en tee te drink en wortelkoek te eet. Die padda het geweier om die olifant se vriend te wees, omdat olifant nie kon spring nie. Elke dier wat olifant raakgeloop het en hom gevra het om sy vriend te wees, het net nee vir die arme olifant gesê. Hierdie diere se verskonings was werklik belaglik en olifant het besef dat niemand hom vir 'n maat wil hê nie. Dit het hom nog allener laat voel ...

Die volgende dag sien olifant hoe die klomp diere in die bos baie vreesbevange is en so vinnig as wat hulle kan, weghardloop. Olifant stop 'n beer wat ook aan die hardloop is en dié sê dat daar 'n tier is wat hulle jaag en hulle wil aanval. Olifant is nie bang vir die tier nie en het die tier mooi gevra om te stop, maar die tier het vir die olifant gesê om uit sy pad te bly. Die olifant het driftig in die rigting van die tier marsjeer om die tier te skop sodat hy hom  kan afskrik.

Dit is toe dat die ander diere besef het dat dié olifant die perfekte grootte het om hul vriend te wees. Hy is selfs nie eens bang vir die tier nie.

Wat het ek uit hierdie storie geleer?
* Vriende kan enige vorm of grootte wees.
* Vriende kan mekaar help.

Wednesday, 12 March 2025

Rosetta se goeie wense: Getrouheid

Mag jy skep
wat vir jou mooi is
en doen waarvan jy hou.
Mag jy altyd weet ons
Vader is elke dag
getrou!

[Alet van Zyl]

Saturday, 8 March 2025

Dankie, Koester Karos-lesers, vir 74 000 e-besoeke!

International Women's Day: Dream Wings

Woman, you're strength, a sun's bright glow,
A heart that dreams, a soul so good, you know.
Your voice, a song, a free-flowing flight,
Your dreams, so high, a safe and steady light.
The shadows of the past, now far away,
Your future shines, so bright and free today.
With dream wings spread, you rise and soar,
A world anew, where hopes forevermore.
For every woman, a star's soft gleam,
Your dreams are vast, your path, a divine theme.
Today we celebrate, your strength and pride,
Your dream's bright fire, that will never be denied.

[Thank you, Israel Xaba - a creative word magician!]

Ruben-humor: Diereraaisels

* Wat sê die een duisendpootmannetjie vir die ander duisendpootmannetjie toe 'n duisendpootwyfie verby kom?
"Mooi bene, mooi bene, mooi bene ..."

* Wat het meer pyn as 'n kameelperd wat 'n seer keel het?
'n Duisendpoot met winterstone.

* Hoe weet 'n mens aan watter kant van die erdwurm sy kop is?
Vertel 'n grap en kyk watter kant lag.

* "Waar's jou pa?" vra Slakkie Slak.
"Hy't gaan visvang," sê Eddie Erdwurm.

Friday, 7 March 2025

Wêreldbiddag vir vroue

Heer ...
Vanoggend bid ek vir elke liewe dogter en vrou in besonder tydens hierdie Wêreldbiddag vir vroue.
Dat U hulle elkeen sal omvou met U groot liefde en ontferming.
Beskerm hulle van enige gevaar, siekte en lyding.
Mag U genade sag oor hul reën.
Mag Sy vrede hulle laat ontspan.
Ek bid dat elke aanslag van die lewe, hul sal laat glimlag ... met die wete ...
Die Heer is in beheer!

Kia orana! 
"Mag jy lank lewe en mag jy goed lewe. 
Mag jy soos die son skyn.
Mag jy met die golwe dans."
Amen 

Mag jy vandag jou blomkrans met waardigheid dra.

Portia's Friday advice

Thursday, 6 March 2025

Dankie vir 73 000 e-besoeke!

 

Advertensie: Besoek Sandwich Shop gerus in Maart

Besoek ons gerus HIER om op hoogte te kom van al ons spesiale aanbiedinge vir Maart by Sandwich Shop.

Onthou: Sandwich Shop maak Maartmaand se kosmaak maklik. Kom kuier vir ons of gee ons 'n luitjie by 053 832 4440 of 053 832 4149.

Drie minute dinkstorie: Hewige rusie tussen donkie en tier


Donkie en tier is in ‘n hewige rusie oor watter kleur die gras is. Vir ons klink dit na 'n onbenullige stryery, maar hierdie twee is doodernstig oor hulle onderskeie standpunte.

Donkie hou voet by stuk dat die gras blou is, en tier stry en sê dis groen. Dis tog net logies. Die hemel is blou. Na bykans ‘n uur se stryery maak donkie die voorstel: “Kom ons gaan na Koning Leeu - hy is die slimste van al die diere en hy sal vir ons die regte antwoord gee.”

By Koning Leeu aangekom, val donkie sommer met die deur in die huis. “Koning Leeu, ek sê die gras is blou, maar tier hou aan stry dat dit groen is. Watter kleur is die gras regtig?”

Leeu kyk die twee stip aan, dan gluur hy vir tier. “Donkie is heeltemal reg,” brul hy. “Die gras is blou! En Tier, vir jou onnoselheid, mag jy vir 5 dae lank niks sê nie!” Doodtevrede bulk en dans Donkie terug na sy grasland toe om verder te wei. 

Tier kyk geskok na Leeu en vra: “Mag ek iets sê voor ek stilbly vir 5 dae? Jy weet net so goed soos ek dat die gras groen is! Waarom sê jy vir Donkie dis blou??!!” 

“Omdat jy so dom was om met hom te stry oor iets wat ‘n voldonge feit was,” antwoord Leeu droog. “Jy het jou soos ‘n donkie gedra!”

Toepassing:  
Daar is nog ‘n voldonge feit waaroor niemand mag stry nie - ons het meer as genoeg rede om die Here te loof en te prys! Psalm 149 roep ons weer op om ‘n nuwe lied vir God te sing - kom ons kyk gou na wat die Psalm sê: Maak jou loflied elke dag nuut! Elke dag gebeur daar iets met ons wat nie gister gebeur het nie - gebruik dit om teenoor mense oor God te getuig (vers 1). Vind daardie nuwe ietsie elke dag.

En dit hoef nie net liedere te wees nie - dans voor die Here (verse 2-3)! Slaan ritme met jou borsel op die spieëlkas. Borsel jou tande met ‘n vrolike ritme! God geniet dit so as ons Hom loof en prys, dat Hy dan sommer namens ons veg en vir ons die oorwinnings behaal (verse 4-6). Dit alleen is al reeds meer as genoeg rede om Hom onophoudelik en met groot genot te prys!

Ons lofsange teenoor God bind kettings om ons vyande se enkels, vernietig ons omstandighede wat ons probeer onderdruk en tel ons op bokant alles sodat ons saam met Hom kan triomfeer (verse 7-9).
Moenie jou soos ‘n donkie gedra en probeer stry oor dinge wat jy rondom jou sien nie. Wéét wat die waarheid is: die Here leef en regeer! Maak nie saak watse twak die lewe vir jou probeer vertel nie - hou aan om die Here te loof, want Hy regeer! Moenie eens met die wêreld probeer redeneer nie - hou net aan om die Here te loof! 

As tier maar net die onderwerp verander het en God begin loof het ... maar toe wil hy sy punt bewys deur te stry. Daar is geen rede vir ons om ‘n punt te bewys nie – dis reeds vir ons aan die kruis gedoen. Al wat ons nou moet doen, is om net die Here te loof!

[Dankie, Rosetta!]

Wednesday, 5 March 2025

Rosetta se goeie wense: Die spoed van een dag


God stap saam met ons
teen die spoed van
een dag op 'n slag.
Hy gee jou vandag se lewe.
Jy het vandag -
nog net vandag ...
net Hy weet van môre.
Gryp vandag aan!
Maak dit vol met vreugde
en dankbaarheid in die Here! 

Saturday, 1 March 2025

Ruben-humor: Diereraaisels

* Wat sê 'n muis van 80 kg as hy 'n kat sien?
"Hier ... Kietsie ..., Kietsie ..." 

* Wat het die slak gesê toe hy op die skilpad se rug ry?
"Hokaai, jou jaagduiwel."

* "Ons kat is weg!"
"Plaas 'n advertensie in die koerant."
"Dit sal nie help nie. Hy kan nie lees nie."

* Hoe bekruip 'n duisendpoot sy prooi?
Voetjie vir voetjie, voetjie vir voetjie, voetjie vir voetjie ... 

World Compliment Day


Research shows that the right words at the right time can make a huge difference when a person is feeling stressed or anxious. Just this one interaction starts a domino effect of positivity that spreads through your entire workplace or friends! Koester Karos wants to start the chain reaction of a positive year by sharing some appreciative compliments.