Thursday 12 September 2024

Ruben bemarker van BRAAI 4 CHARITY-etekaartjies


My liewe Maats 

Ek kan nie glo dat tyd so vlieg nie! Ek weet ek klink nou presies soos my ouma aan my ma se kant, maar sy het gereeld vir ons herinner aan die feit dat ons nie tyd moet mors nie, en ons mag ook nie ledig wees nie. Haar geliefkoosde gesegdes was altyd: "Ledigheid is die duiwel se oorkussing" en as dit lyk asof jy nie besig is nie, dan het sy gou vir jou werk uitgedeel. Gelukkig was speel baie belangrik en het sy jou nooit gepla as jy besig was om te speel nie. O ja, ouma sou jou speeltyd onderbreek as jou huiswerk nie klaar is nie. Sy was baie erg oor eers huiswerk en dan speel.

Ouma Luna was ook lief om te sê: "Met die water wat verby is, sal jou meule nooit weer maal nie." Ek het eers die waarde daarvan besef toe ek groter geword het. CJ Langenhoven, een van die groot skrywers in Afrikaans was lief om die mense op te voed deur spreuke en gesegdes. In kort beteken dit dat jy nooit tyd moet mors nie, want geleenthede klop net een keer aan jou deur - gryp dit met altwee pote aan. En nou kom ek eers terug by my eerste sinnetjie van my brief - ek was die hele kwartaal so besig, dat daar nie eens tyd was vir my normale briefskrywery nie.

Buiten my sekuriteitswerk, en rondspeel oor naweke, moes ek ook toesien dat huiswerk en leerwerk nie afgeskeep word nie, veral met die huidige toetsreeks - ons hier by CK hou nie van swak punte nie. Op een of ander manier het advertensie ook deel van my werk geword en dit doen ek graag. Dit voel vir my asof my kommunikasieplatform vergroot het. 
Dit is juis die rede vir my skrywery. West End Vleismark gaan 'n BRAAI 4 CHARITY hou. Die wonderlike nuus is dat Christina Kiddie Kinder- en Jeugsorgsentrum by hierdie wonderlike inisiatief gaan baat. 'n Heerlike ete vir slegs 'n R100. Moenie dat hierdie geleentheid deur jou vingers glip nie. Merk 24 September op jou almanak en vertel vir al jou vriende in Kimberley en omgewing van hierdie spesiale geleentheid. 

Kaartjies is te koop by West End Vleismark en by Christina Kiddie Kinder- en Jeugsorgsentrum. Die goeie nuus is dat jy my kan ontmoet as jy die kaartjies by KJSS koop en dan kan ons 'n selfie neem. Ek is juis besig om my werkshoekie 'n persoonlike gevoel te gee. Ek is baie lief vir mense, maar dit weet julle al en ek hou daarvan om saam met mense afgeneem te word wat uitreik en 'n sagte hart het. Dis julle mense wat die wiele van die land aan die rol hou. Daarom sê ek by voorbaat dankie vir elkeen wat 'n kaartjie gaan koop. Kom ons vat hande en maak dit 'n grootse poging.

Vir die West End Vleismark-eienaars wil ek graag voorspoed vir julle besigheidstoekoms toewens. Mag julle van krag tot krag gaan en 'n baie spesiale DANKIE vir hierdie wonderlike inisiatief. Dankie dat ons hier by Christina Kiddie Kinder- en Jeugsorgsentrum vir julle belangrik is. Ons waardeer die TYD en MOEITE wat julle bereid is om in te sit vir 'n verdienstelike saak.  

Sien julle 24 September by West End Vleismark Hadisonpark. Etes is vanaf 12:00 beskikbaar - 'n liplekker-vooruitsig!

Ek groet eers vir julle tot 'n volgende keer.
Ruben-groete!






Ns. Ek het nog nie my eie Facebook nie, maar klik solank HIER vir inligting oor West End Vleismark Hadisonpark.         

2 comments:

  1. Sjoe Ruben jy is n regte ou staatmaker wat glad nie n lui haar op jou kop het nie. Welgedaan met al die harde werk. Ons is baie trots op jou.

    ReplyDelete
  2. Dankie, Anoniem, vir die kompliment. Ek bêre dit in my hondehart. Jy is reg, ek het nogal 'n baie vol program, maar ek geniet elke oomblik daarvan. 'n Mens word mos nie moeg as jy ander help nie. Ruben-vreugde!

    ReplyDelete