Sunday 24 May 2020

Hoe gaan dit met jou kinders?


James Ryle het die volgende tydens 'n konferensie van die organisasie Promise Keepers vertel. Toe hy twee was, is sy pa tronk toe gestuur. Toe hy sewe was, is hy in 'n kinderhuis geplaas. Op 19 was hy in 'n motorongeluk betrokke waarin 'n vriend gesterf het. Hy het dwelms verkoop om geld vir sy regskoste bymekaar te maak, maar is gearresteer en het tronkstraf uitgedien. James het in die gevangenis tot bekering gekom.

Na sy ontslag het hy hom tot die bediening gewend. Jare later het hy sy pa opgespoor. Sy pa het gevra, 'In watter tronk was jy?' Op James se antwoord, het sy pa gesê, 'Ek het daardie gevangenis help bou.' Hy was 'n sweiser wat aan verskeie tronke gewerk het. James het gesê, 'Ek was in die tronk wat my pa help bou het' Jou kinders sal miskien nie altyd na jou raad luister nie, maar hulle kan nooit aan jou invloed ontsnap nie. 'n Kind wat sy of haar eerste 18 tot 21 jaar saam met jou slyt, sal nie anders kan nie, as om sommige van jou misstappe te herhaal, wrewelrig te wees jeens jou, maar hopenlik ook bly te wees oor jou nalatenskap.

God het oor Abraham gesê, 'Ek het hom gekies sodat hy sy seuns en hulle gesinne kan opvoed om die Here te gehoorsaam, deur te doen wat opreg en regverdig is.' Sal God dieselfde van jou kan sê? Die evangelis Filippus het die stad Samaria bekeer, maar meer nog, hy het '...vier ongetroude dogters gehad met die gawe om te profeteer' (Handelinge 21:9). Sy kinders het moreel en geestelik goed gevaar. Hoe staan sake met jou kinders?


No comments:

Post a Comment