Ek kan nie ophou dink aan die bevoorregte posisie waarin ek my bevind nie. Nou wonder ek, is dit net ek wat so voel of voel julle dieselfde?
Kom ek begin by die geleentheid wat my dink aan die dink gesit het. My sekuriteitswerk by CK is baie belangrik en ek kry mos nie sommer 'n afdag of afnaweek nie. Dus kry ek nie baie keer die kans om op uitstappies te gaan nie, maar Saterdag was vir my 'n absolute hoogtepunt.
Saterdag se uitstappie na Mokala Nasionale Park het waarde toegevoeg tot my hondwees. Ek het so baie geleer, ervaar en geniet. Ek weet dit het miskien nie so gelyk nie, maar ek is letterlik my blaf belet. Omdat ek nie die wilde diere mag ontstel nie, is ek baie mooi die leviete by die koshuis voorgelees. As ek nie my beste poot gaan voorsit nie, mag ek nie saamgaan nie. Daarom dat daar nie 'n geluid uit my mond uit ontsnap het nie.
Ek het nie geweet dat daar soveel diere by Mokala is nie. Ek het agterna gaan oplees oor SANParke en al die goeie werk wat hulle doen.
Wel, Maats, ek het besluit oom Charles moet 'n natuurmedalje kry. Die wildrit sou nie naasteby so leersaam en interessant gewees het as hy nie saam was nie. Hy ken al die paaie in die park soos die palm van sy hand en hy weet presies waar die wegkruipplekke van die verskillende diere is. Ek het by die huis 'n lysie kom maak van alles wat ons gesien het - dis so jammer ons kon nie tydskriffoto's van almal kry nie.
* Die hoogmoedige kameelperde met hulle lang nekke is my persoonlike gunsteling.
* Volstruise wat nie 'n bang veer op hulle lyf het nie, maar tog 'n achilleshiel het. Kan julle nog onthou wat oom Charles gesê het?
* Die statige gemsbokke.
* Blouwildebeeste (kan julle onthou watter dier is die nar van die veld?)
* Dosyne springbokkies wat uitgelate gebokspring het, net omdat hulle weet dat daar nie leeus is nie. Julle het oom Charles lekker gepeper met daardie vraag. Dit lyk vir my julle is die bangste vir die koning van die diereryk.
* Die twee koedoes wat vir baie opwinding gesorg het toe hulle voor die kombi oor die pad gehardloop het.
* Die mooie lechwes wat so grasieus tussen die bome beweeg.
* En natuurlik is daar 'n hele paar bobbejane wat ons dopgehou het - hulle het nogal baie menserig opgetree.
* Iets wat nie een van julle juis opgelet het nie, was die verskeidenheid voëls. 'n Mens kan 'n uitstappie maak net om voëls te kyk. Ek het 'n voëltjie hoor fluit dat daar reeds 139 verskillende soorte gelys is. ('n Wenk: vat vir oom Charles saam om vir julle die verskillende soorte te wys.)
Dit vat my terug na my inleidingsparagraaf - daar is só baie mense wat hierdie besondere dag vir ons moontlik gemaak het - besef ons dit of aanvaar ons dit as vanselfsprekend? Dankie, SANParke, oom Charles, tannie Raedun, tannie Christelle en ons koshuisma's - julle is werklik spesiaal.
En dan het ons ons innerlike onder die skadu's van die mooi kameeldoringbome versterk. 'n Regte egte piekniek in die veld. (Klik HIER vir foto's van ons piekniek.) Dis juis hierdie mooi bome wat aan die park sy naam besorg het: Mokala - kameeldoringbome - die boomjuweel van die Noord-Kaap!
Groetnis tot 'n volgende keer. Leef dankbaar!
Ruben
Sjoe Ruben. Jy het omtrent n wonderlike tyd saam met die maats gehad. Lyk my julle was lekker bederf en jyt so mooi saamgewerk dat ek seker is jy gaan nog op baie uitstappies gaan. Tonne liefde xxx Nerine
ReplyDeleteDankie, Nerine. Jy is reg - ek probeer altyd my beste poot voorsit, want ek moet 'n voorbeeld stel. Ek dra baie verantwoordelikheid op my skouers, maar my mensma help my gelukkig in hierdie opsig. Geniet ons blog! Ruben
ReplyDelete