Sunday 29 September 2024

Ruben besin oor die afgelope 6 maande - vreugdes en verlange


Liewe Maats

Ek kan nie glo ek bly al 6 maande in Christina Kiddie nie. Julle kan my maar glo as ek vir julle sê dat dit die lekkerste 6 maande van my lewe is. 

Ek kyk terug en ek sien 'n klomp maats wat ek bygekry het. Ek het net liefde en vriendelikheid van julle gekry. Ons het saamgespeel by die swembad, rondgehardloop op die grasperk en heerlik in die jungle gym baljaar. (Dis nou as ek nie my pos as sekuriteitsbeampte moes volstaan nie.)

Van sekuriteit gepraat, hier by Christine Kiddie het ek emosionele sekuriteit ervaar. As jou hart seer is of jou kop is deurmekaar van al die huislike probleme wat jou oorweldig, kan jy met enige huismoeder of maatskaplike werkster gaan praat. Stap vir stap werk hulle saam met jou deur jou probleme en as jy jou weer kom kry, brand daar 'n liggie aan die einde van die tonnel. (Ek stort graag my hart uit by tannie Christelle - sy het net 'n manier om my te kalmeer en moed te gee vir my taak hier.)

Deel van die vreugde by my nuwe huis, is al die omgeemense met wie my pad kruis. Ek het nooit geweet dat daar soveel mense is wat nog na hulle medemens uitreik nie. Mense wat bekommerd is oor die toekoms van ander, wat graag 'n helpende hand uitsteek en wie se goedgesindheid ander aansteek. 

Ek kan regtig getuig van die huislikheid wat 'n mens hier ervaar. 
Hier sit ek agter die stuur
van die grys Hyundai!

Die enigste aktiwiteit waarna ek verlang, is om agter die stuur van 'n motor of bakkie in te klim. Daardie gevoel van vryheid wat ek ervaar as ek die stuurwiel tussen my pote hou, kan ek vir geen mens beskryf nie. Ek het al my K53-leerlinglisensie (Ek het hard geleer en dit sommer die eerste keer geslaag - ek probeer om alles wat ek binne my hondevermoë aanpak só goed as moontlik te doen.) 

Ek hoor al klaar in my gedagtes dat 'n paar van julle sê dat ek nou kluitjies bak, maar ek is so dankbaar dat tannie Christelle 'n foto van my agter die stuur geneem het. Met my vol program, is dit egter nie op hierdie stadium moontlik om nog bestuurslesse te kry nie, so ek sien sommer baie uit na die Desembervakansie. Ek het al klaar vir my 'n lysie gemaak wat ek graag wil doen en nuwe vaardighede wat ek graag wil bemeester. Onthou, julle moet ook só 'n lysie maak. Dis die enigste manier wat 'n mens kan groei.

Ek groet eers, trek maar julle warm truie aan - ek hoor oor die radio dat die koue van vandag af in volle felheid gaan toeslaan - daar word selfs sneeu voorspel - dit klink my ons gaan September op 'n yskoue en sneeuwit noot afsluit.

O ja, voordat ek groet, gaan lees gerus die gedig It's ok. Op hierdie stadium is dit my gunsteling gedig, totdat ek 'n volgende een onder oë kry.

Ruben-groete tot 'n volgende keer.


2 comments:

  1. Ai Reuben ek geniet jou vreeslik. En eks bly jy kan jou hart leegmaak. Dit is belangrik dat mens iemand het met wie jy kan praat. Iemand wat met liefde luister, verstaan en vir jou bid. Geniet die maats Reuben. Ek weet hulle geniet jou net so baie.

    ReplyDelete
  2. Jy weet, Anoniem, maats help ook met emosionele en morele ontwikkeling. En ek kan sien hoe het ek die afgelope 6 maande emosioneel gegroei. Hulle sê mos dat maats die familie is wat jyself kies. Geniet jou maats. Ruben-vreugde!

    ReplyDelete