Ek is só opgewonde, ek moet net die nuus met iemand deel. Ek het die afgelope week regtig 'n lekker verrassing gekry. Skielik het ek sommer verlang na my kinderjare, my maats, my skooljare en sommer net na die hele Petrusburg. Sal iemand vir my 'n foto kan stuur van Petrusburg? Is die strate nog so skoon en netjies? En kuier die kinders nog na skool by Uncle Charlie se kafeestoep? Op daardie stoep is groot drome gedroom, versugtinge uitgespreek en met verlange gepraat oor die groot stede met die mooi huise, duur karre en baie werksgeleenthede wat nie in Petrusburg bestaan het nie. Ek lê vanmiddag onder my dinkbank en ek wonder wat van al daardie kinders geword het. Kon hulle hul kinderdrome verwesenlik en leef hulle hul kinderdrome uit of beleef hulle 'n nagmerrie op die stoep van die lewe.
Terug na my verrassing. Tannie Charlotte het verlede week die verjaardagmaatjie se koek kom aflewer. Nooit het ek geweet dat *Ruzanne se droomverjaardagkoek 'n kinderfoto van my sou ophê nie. Maats, daardie foto het my gedagtes met 'n spoed terug in tyd gestuur en soos 'n rolprent het my grootwordjare op Petrusburg voor my afgespeel. Ek het Ruzanne sommer net daar 'n leksoen teen die wang gegee, drie draaie om haar gehardloop, my stert amper afgeswaai en uitbundig van vreugde geblaf. Nie lank nie, of die buurt se honde het teruggeblaf! Wat 'n heerlike warm gevoel het in my binneste kom nesmaak.
Maats, tannie Charlotte se koekpresent vir Ruzanne was my herinneringsgeskenk. En op daardie oomblik het ek besef dat 'n mens onthou-oomblikke moet skep. Kinders moet speel, rondhardloop, boomklim, eenbeentjie spring (miskien ken julle dit as Hopscotch), kat-en-muis speel, kennetjie, aan-aan en so kan ek aangaan. Die speletjie waarvan ek die minste gehou het, was kennetjie - heeltemal te veel reëls vir 'n hond wat hou van hardloop. Speel julle nog hierdie speletjies of is julle vasgeplak aan julle fone? En by die huis is dit seker die TV of X-box? Weet julle daar is 'n opwindende lewe weg van die skerms?
Kinders kom die lewe in met bondels energie, baie idees en planne en 'n oop gemoed om te leer. Moenie dit voor 'n skerm deurbring nie. Kyk om jou en spring, lag en gesels. As jy eendag werk of te oud is vir speel, is dit die lekker herinneringe wat 'n reg-rondom-glimlag op jou gesig sit.
Weet julle outjies, ek het ook op Uncle Charlie se kafeestoep gestaan - elke dag - en oopmond geluister na kinderdrome. En ek het gewonder hoe my lewe na Petrusburg gaan uitdraai. En al wat ek in my geestesoog kon sien, was om iemand se waghond te wees. Die lewe het my tienvoudig geseën met 'n ongelooflike sinvolle lewe. Natuurlik is sekuriteit my hoofaktiwiteit, en ek doen dit met soveel liefde, want ek is vir baie meer as net my veiligheid verantwoordelik.
Ek is in Yvonne se woorde: 'n glimlagmaker, 'n trooster en 'n beste vriend. Dit is die lekkerste deel van my werk. Met my fyn ingestelde sesde sintuig weet ek sommer wie het 'n oor of 'n drukkie of net stilte nodig. Ek loop met bondels geheime in my binneste rond, ek herkou aan elkeen en probeer sover as moontlik die regte leiding gee.
![]() |
Ek (jare terug) tussen ouma Annie se blomme. |
Dankie, Ruzanne, dat jy my kinderprentjie gekies het - ek wonder wie jou gehelp het.
Dankie, tannie Christelle, dat jy elke vakansie met speelherinneringe vul wat eendag die rede vir ons reg-rondom-glimlag sal wees.
Speelgroete uit Kimberley tot 'n volgende keer!
Ruben
(* Naam verander.)
Dit is so kosbaar. Dankie vir die deel Ruben. Dis so waar, mens se kinderjare vorm jou. Elke lag, elke traan, elke val en elke opstaan. Tonne liefde
ReplyDeleteLiewe Anoniem, jy is só reg oor die invloed van jou kinderjare. Dit word die boustene vir die res van jou lewe.
ReplyDeleteEn elke mens wat jou pad kruis, dra wetend of onwetend tot die boustene by. Vreugde vir jou week en dankie vir jou waardevolle terugvoer. Ruben