Saturday 20 October 2018

Die vulliswa ...

Hoe gereeld laat jy toe dat ander mense jou gemoedstoestand beïnvloed?

Laat jy toe dat ‘n swak bestuurder, ongeskikte kelner, ‘n norse baas of ‘n onsensitiewe medewerker jou dag ruïneer? So iets kan jou hele dag omkrap en jou in ‘n slegte bui laat vir ‘n groot gedeelte van die dag. Maar, dit is waar die onderskeiding van die suksesvolle persoon intree naamlik, hoe vinnig kan jy jou fokus terugkry na so insident op dit wat belangrik is.

Ses en twintig jaar gelede het ek dié les agter in ‘n huurmotor geleer. Ek het ‘n huurmotor gekry en was op pad na die stasie. Terwyl ons in die linkerkantste baan ry, was daar skielik ‘n swart motor wat vanuit ‘n parkeerruimte voor ons ingery het. Die huurmotorbestuurder het baie vinnig gerem en die motor het begin gly, ons het die motor met sentimeters gemis.

Die bestuurder van die swart motor ruk sy kop agtertoe en begin in die vreeslikste taal op ons skel. My huurmotorbestuurder het net vir die ander bestuurder geglimlag en gewaai. Hy was werklik opreg vriendelik met hom. Ek vra toe vir hom, “Hoekom het jy dit gedoen? Die ou het amper jou motor afgeskryf en ons amper hospitaal toe gestuur. Dit is wat die huurmotorbestuurder vir my gesê het wat ek nou noem: “Die Wet van die Vulliswa”.

Baie mense is soos vulliswaens. Hulle hardloop rond vol vullis, vol frustrasie, vol woede en vol van teleurstelling. Soos wat die vullis ophoop soek hulle ‘n plek waar hulle dit kan stort. As jy hulle toelaat, sal hulle dit op jou stort. Indien iemand dit wel op jou stort, moet dit nie persoonlik opneem nie. Glimlag, waai, wens hulle voorspoed toe en gaan aan. Jy sal baie bly wees jy het dit gedoen.

So dit was dit. “Die Wet van Vulliswaens.” 

Ek begin te dink hoeveel keer laat ek toe dat vulliswaens reg bo-oor my ry? Hoeveel keer neem ek hulle gestorte vullis en versprei dit weer aan ander mense by die werk, by die huis en op straat? Dit was die dag waarop ek besluit het tot hiertoe en nie verder nie, ek gaan dit nie meer doen nie. Ek het begin om die vulliswaens raak te sien.

Ek sien hulle nou al aankom, ek sien die vrag vullis wat hulle dra en ek sien dat hulle dit wil kom stort. Soos my huurmotorbestuurder, maak ek dit nie ‘n persoonlik ding nie, ek glimlag net, waai, wens hulle voorspoed toe en beweeg aan. Die geheim om ‘n gelukkige en suksesvolle dag te ervaar is om nie toe te laat dat ander mense se vulliswaens jou lewe oorneem of beheer nie.

Die lewe is te kort om elke oggend met verwyte op te staan, dus … wees lief vir diegene wat jou goed behandel en die res ... wens vir hulle voorspoed toe. 

No comments:

Post a Comment