Wednesday, 1 January 2025

Ruben se moeilike Nuwejaarsvoornemens en sy 2025-dilemma!


Liewe Maats

Vandag soek ek raad by julle. Tommie is nou so amper drie weke by ons en hy het nog só baie om te leer. As ouboet het ek besluit om nuwejaarsvoorneme namens Tommie te neem. Ek het besluit dat ons twee dieselfde doelwitte en voornemens gaan hê. En dit is net hier waar my dilemma begin. Dink julle dit is reg as ek ook vir Tommie besluit? Maar hy weet nog nie waaroor dit gaan nie en hy kan mos nie 'n jaar mors nie? 

Tommie gaan hierdie jaar vir die eerste keer kleuterskool toe. Hy is eintlik 'n bietjie te jonk, maar hy is leergierig en baie nuuskierig en met hierdie twee eienskappe kan enige peuter of kleuter 'n akademiese berg verskuif.

Ek deel graag met julle my en Tommie se doelwitte vir 2025 en miskien kan julle van ons doelwitte by julle s'n insluit. Ons wil graag hierdie jaar op 'n positiewe noot begin en daaarom begin ons klein - net eers 'n paar klein veranderinkies ...

* Ons moet minder knor en blaf en meer smile en stert swaai!

* Ons moet meer wakker en waaksaam wees en minder vakerig en slaperig!

* Ons manne moet, soos die vrouens, leer om ons sesde sintuig te vertrou. Daar sal baie minder moeilikheid in die wêreld wees as ons met verskerpte radarantennas elke nuwe saak benader.

* Ons moet elke dag ons groente met swaaiende sterte eet. Groente is goed vir groei!

* Ons moet proaktief leer optree. Voordat Tannie Christelle nog kan dink om 'n opdrag te gee, moet ons die takie reeds afgehandel het.


* Lees! LEES!! L E E S!!!

Probeer om 2025 'n leesfeesjaar te maak. (Ek en Tommie lees graag stories.) Elke Donderdag verskyn daar 'n een minuut storie van my. Klik HIER as jy dit nog nie raakgelees het nie. Dan is daar ook my drie minute dinkstorie en natuurlike ook my inspirerende verhale wat ekself gereeld lees vir innerlike versterking en motivering. 

En met hierdie SES voornemens volstaan ek eers. Ek en Tommie gaan dit een vir een inoefen totdat dit ons leefstyl geword het en 31 Desember 2025 gaan ons terugkyk en onsself eerlik evalueer. Ook hier vra ons julle hulp. Monitor asseblief vir my en Tommie en kyk of ons by ons voornemens gehou het.

Mag 2025 vir elkeen van julle 'n blomjaar wees. 

Nuwejaarsgroete tot 'n volgende keer uit 'n baie warm Kimberley.


2 comments:

  1. Voorspoed vir die nuwe jaar Ruben. Ek is seker jy en Tommy gaan sommer n gedugte span word wat saamwerk, saam leer, saam lag, saam speel en saam bid. Liefde xxx

    ReplyDelete
  2. Dankie, liewe Anoniem, ek waardeer jou omgee en ondersteuning. Ek sien uit na 2025 en al my verantwoordelikhede. Vreugde!

    ReplyDelete