Saturday 27 April 2024

Ruben, die goeie luisteraar!?

Liewe nuwe Maats

Was ek nou bly om julle vanmiddag te sien. Dit doen my hondehart sommer baie goed om so tussen julle te beweeg en te hardloop. Ek kom natuurlik agter dat julle baie fikser as ek is en dat ek sommer gou uitasem raak. Daardie deel sal ons moet regstel as ek net eers 'n permanente inwoner is. As ek egter die dringendheid van die werkery so gadeslaan, dan besef ek dit sal eers na die vakansie kan wees. Dit lyk my niemand is meer haastig om 'n projek af te handel nie. Julle moet tog so af en toe vra dat ek vir julle moet kom kuier. Maar soos die spreek woord sê ... elke hond kry sy dag ... en ek glo dit!

Ek wil graag 'n geheim met julle deel. Ek was in gesprek met dr. Marieanna le Roux van die Universiteit van Stellenbosch. Sy het haar doktorsgraad behaal met 'n studie oor dié troeteldier-ondersteunde terapie. Hierdie navorsing was daardie jare die eerste navorsingstudie van sy soort in die land en ek was nou werklik beïndruk toe ek met haar gepraat het. Jy kan maar sê al my inligting het ek uit die perd se bek gehoor. Nou nie dat almal hond haaraf gaan maak van hierdie inligting nie, maar skielik het ek myself in 'n ander lig gesien. Ek het nooit besef ek beskik oor sulke goeie kwaliteite nie. Ek wil nou nie my eie stert te veel prys nie, want ek het ook 'n paar foutjies.

Opgeleide terapiehonde kan help dat kinders wat baie swak lees, binne weke soveel verbeter dat hulle selfs beter vaar as wat van hulle vereis word. Studies het getoon dat 'n mens se bloeddruk daal en jou polsslag afneem wanneer jy aan 'n hond raak. Dit verminder ook 'n mens se angs en depressie en jy as mens presteer beter en dit alles is net omdat ek daar is vir jou. Ek is net my normale hondself. Dr. Marieanna het vir my 'n koerantberig gegee wat ek later met julle sal deel (ja, julle het reg gelees - ek kan lees en ek lees baie graag. Dis die enigste manier wat jy jou algemene kennis kan verbreed.) 

My een begeerte wat ek het, is dat julle vir my sal lees as ek eers inwonend is, maar net daar is daar 'n vlieg in my hulpvaardige self en lê dit een van my minder goeie karaktereienskappe bloot. Ek kan nie lank genoeg stillê om na 'n hele leesles te luister nie. So, ek is bereid om julle te help, met geduld, maar dan moet julle my ook help om my hope opgehoopte energie te bestuur. En dit verg oefening. Alles in die lewe moet geoefen word voordat jy dit suksesvol kan beoefen.

Ek moet oefen om fikser te raak en om langer rustig te wees. Jy moet, as jy in graad 3 is, teen die einde van die jaar 120 woorde per minuut met gemak kan lees. En dis hier wat ons mekaar gaan help.

Ek moet nou groet en die pad vat na die ouhuis - dis nou 'n regte hondelewe daar. As ek so na julle spelende en laggende outjies kyk, weet ek julle het Kanaän hier.

Ek sluit vir julle twee foto's van ons hartlike en spontane hardloopkuier in. Hard werk hierdie week en onthou om solank julle leeslesse te oefen. Ek hou veral van dierestories.

Ek het vir my 'n pootstempel laat maak, sodat ek al my briewe en kaartjies sommer kan stempel. My pote is nie altyd skoon genoeg vir 'n pootafdruk nie!!! (Kan julle glo dat ek linkspotig is?? Is daar enige van julle outjies wat ook linkshandig is? Skryf vir my en vertel my daarvan.)

Ruben-groete tot 'n volgende keer.

No comments:

Post a Comment