Friday 19 April 2024

Die nuwe inwoner wat nog nie 'n inwoner is nie ...

Liewe Lesers

Ek val sommer met die deur in die huis. Ek was eerlik onder die indruk dat ek die einde van Maartmaand myself  'n KJSS-inwoner kan noem. Julle weet self hoe opgewonde ek was. Ek het selfs foto's van my en die ander inwoners geplaas ... maar helaas ... ek is nog by die ou huis. Ek het natuurlik verlede naweek weer 'n draai by die Christina Kiddie Huis gemaak. Dit is belangrik dat 'n mens jou eie belange moet beskerm en ek weet julle wag dat ek iets van my moet laat hoor. Daarom gaan ek julle inlig sodat julle kan weet ek is nie 'n leuenaar nie en ek is ook nie 'n outjie wat my mantel na die wind draai nie.

Verlede naweek hoor ek toe 'n gesprek wat natuurlik rondom die uwe se verblyf handel. Ek het onmiddellik in my spore vasgesteek en my ore gespits en wat sal ek hoor??

Ek is te vol energie, ek loop oor van entoesiasme, ek is 'n uitgelate emosionele ekstrovert en ek lewe te uitbundig en my beker loop oor van lewensblyheid. Ek was verstom. Jy kon my letterlik met 'n veer omtik. Ek het gedink hierdie is almal goeie eienskappe en ek wil dit graag deel met almal wat my pad kruis, maar dit is net hier waar die paw paw die fan strike. Dit is goeie eienskappe en as net 5% van die bevolking hierdie eienskappe gehad het, dan het die aarde nie so gesukkel om uit sy versmorende situasie te kom nie, daar sou baie meer groen-denkende-mense gewees het. 

Die probleem is dat ek gedurende die week soort van deel van die vrywillige inwonende personeel gaan wees. En dan mag ek nie besoekers, kollegas en kuiergaste so baldadig groet nie. Maar omdat almal weet dat ek eers doen en agterna dink, wil hulle voorkom dat ek in die verleentheid kom, gevolglik word daar 'n spesiale heining opgerig, vanwaar ek die besoekers deeglik kan en moet deurkyk, sonder dat hulle bewus is van my opdrag. Jy kan maar sê ek is 'n spesiale agent wat vermom as 'n hond is.

Nou, my liewe leser, wag ek maar geduldig en ek sal julle laat weet wanneer ek 'n permanente inwoner gaan word. Intussen berei ek my solank voor om nie almal nat te lek en in te sluk nie. Dit dra blykbaar nie almal se goedkeuring weg nie. Maar glo my, as dit deel van jou DNA is, dan is verandering nie so maklik nie, maaaaar ek weet dit is moontlik.

Wees gegroet tot 'n volgende keer.  

No comments:

Post a Comment