Saturday 12 November 2022

Net nog 5 minute ekstra


Eendag gaan sit ’n dame langs ’n man op een van die bankies wat naby die speelparkie is.

“Daardie outjie is my seun,” sê sy terwyl sy na ’n klein seuntjie met ’n rooi sweetpaktop wys wat besig is om op die glyplank te speel.

“Dis ’n pragtige jong mannetjie,” antwoord die man. “Dis my dogter, die een met die wit rokkie wat daar met die fiets ry.”

Met die kyk hy op sy horlosie en roep na sy dogter. “Hoe lyk dit Melissa, dink jy nie dis tyd om huis toe te gaan nie?”

Melissa pleit by haar pa, “Pappa, kan ek nie nog asseblief vyf minute ekstra op my fiets rondry nie? Asseblief net nog vyf minute.”

Die man knik instemmend met sy kop en Melissa gaan voort om na hartelus op haar fiets rond te rits. Vyftien minute is later verby en die man staan op en roep weer na sy dogter. “Is dit nou tyd om te gaan?”

Weereens pleit Melissa, “Vyf minute, Pappa, gee net nog vyf minute meer.”

Die man glimlag en sê: “OK.”

“Mense ons, maar jy is omtrent ’n geduldige pa,” antwoord die vrou wat langs hom op die parkbankie gesit het.

Die man glimlag weer en sê, “ Haar ouer boetie, Niekie, is verlede jaar oorlede nadat ’n dronk bestuurder hom raakgery het. Hy het met sy fiets nie ver hiervandaan gery nie. Ek het nooit baie tyd saam met Niekie spandeer nie en nou sal ek enigiets gee vir net ’n ekstra vyf minute saam met hom. Ek het myself beloof om nooit dieselfde fout met Melissa te maak nie.

“Sy dink sy het vyf minute ekstra om met haar fiets rond te ry. Die waarheid is, ek kry vyf minute ekstra om haar te sien speel.”

Die hele lewe gaan oor prioriteite, wat is jou prioriteite?

Gee vir iemand vir wie jy lief is, wat vir jou omgee, wat naby aan jou bly vandag vyf minute ekstra van jou tyd, want dis nie vir hulle nie maar eintlik vir jouself. 

Loer oor die heining en vra vir jou buurvrou hoe dit met haar gaan. Glimlag vir die karwag wat in reënweer en sonskyn na jou kar kyk en knoop 'n geselsie aan omdat jy regtig belangstel. Gee 'n drukkie vir die persoon by die kliniek wat jou help - hulle werk net met probleemgevalle en sal 'n positiewe gebaar waardeer. Bak 'n koek en gaan gee dit by kindersorg af. 

Dis amper die einde van die jaar ... wat van 'n speelbederf vir kinders in 'n versorgingshuis?? 

No comments:

Post a Comment