Saturday 19 November 2022

Babahondjies te koop


'n Boer het ‘n paar babahondjies gehad wat hy wou verkoop. Hy verf toe ‘n advertensieplakkaat en sit dit teen sy plaashek op.

Terwyl hy nog besig was om die bord vas te slaan, voel hy skielik iemand trek aan sy baadjie. Hy kyk om, vas in die oë van ‘n klein seuntjie. “Oom, ek wil graag een van Oom se hondjies koop”

”Wel,” sê die Boer, “Hierdie hondjies het ‘n baie goeie ma en pa en hulle kos nogal duur, Seun.”

Die seuntjie laat sak sy kop en dink vir ‘n oomblik. Toe druk hy sy hand diep in sy broeksak, kom met ‘n handvol kleingeld te voorskyn. “Sal hierdie genoeg wees dat ek net kan kyk, asseblief, Oom? “ vra hy.

“Seker,“ sê die boer. En met ‘n fluit roep hy: “Kom Lady, kom wys jou kinders!”

Uit die hondehok kom Lady, met vier bondeltjies lomp-lomp agterna. Die seuntjie druk sy gesiggie teen die draad en sy oë blink van pure opgewondenheid. Die hondjies is al amper by die draad, toe die seuntjie nog iets by die hondehok sien roer. Stadig kom nog ‘n bondeltjie te voorskyn, heelwat kleiner as die ander hondjies. Met ‘n mank sukkelende drafstappie begin die laaste klein hondjie naderkom. Hy probeer sy bes om die ander in te haal.

“Ek wil hom graag hê, ” sê die seuntjie, en wys met sy vinger na die kruppel hondjie.

Die boer kniel langs die seuntjie en sê: “Seun, jy wil nie daardie hondjie hê nie. Hy sal nooit kan hardloop en speel soos al die ander hondjies nie.”

Die seuntjie staan terug van die draad af en begin sy broekspyp oprol. Stadig begin twee kunsbeentjies wys, wat met ‘n stut vas is, en eindig in twee kunsskoene.

“Oom Boer sien, ek kan self ook nie te lekker hardloop nie, en hy sal iemand nodig hê wat dit kan verstaan.”

Met trane in sy oë tel die boer die kruppel hondjie op en gee hom versigtig vir die seuntjie oor die draad aan.

“Hoeveel kos hy, Oom?“ vra die seuntjie.

“Hy’s verniet, Seun. Hy kos jou niks nie. LIEFDE KOS NIKS NIE.

No comments:

Post a Comment