Monday 2 July 2018

Die verhaal van die potlood ...

Lank gelede was daar ‘n potloodmaker wat baie trots op sy werk was. Sy potlode was kunswerke, want hy het altyd sy beste gegee.

Eendag het hy, voordat hy een van die potlode in ‘n pakkie gesit het vir die potlood gesê: “Daar is vyf dinge wat jy moet weet voordat ek jou die wêreld instuur; onthou dit elke dag en moet dit nooit vergeet nie. As jy dit doen, sal jy die beste potlood wees” 

Toe begin die potloodmaker die vyf dinge op te noem:

1.  Die potlood sal groot dinge in die lewe kan doen, as hy gewillig in iemand se hand sal lê.
2.  Hy gaan van tyd tot tyd skerpgemaak word ten einde diensbaar te wees.
3.  Hy sal foute maak, maar omdat hy ook van ‘n uitveër voorsien is, sal hy sy foute kan herstel.
4.  Alhoewel hy ‘n kunswerk is, is sy buitekant nie die heel belangrikste nie, wel sy binnekant .
5.  Hy moes sy merk op elke oppervlak maak, ongeag die omstandighede. Hy moes net aanhou skryf.

Hierdie vyf beginsels kan ons elkeen in ons lewens toepas, dan sal ons ook die beste kan word wat God van ons verwag.

1. God het vir jou en my lewe groot en mooi planne, maar ons wil nie altyd na God luister en daardie pad loop wat God wil hê ons moet loop nie. Ons volg ons eie kop en so mis ons 'n wonderlike lewe. Lees Jesaja 49:1 en 13.

2. Net soos die potlood gaan ek en jy ook soms hartseer en minder lekker dinge moet deurmaak! Alles gaan nie altyd verloop soos ons dit wil hê nie. Op die ou-end, al verstaan ons dit nie nou nie, wil God hê dat al die hartseer van ons sterker en beter mense maak. Lees Psalm 23:2

3. Geen fout wat ek en jy ooit sal maak, gaan té groot wees om reg te maak nie. Nie omdat ons so wonderlik is nie, maar omdat God ons help. Lees Jesaja 41:10 en 1 Johannes 1:9.

4. Ons bestee baie tyd aan ons uiterlike voorkoms en ons is baie bekommerd oor ons klere en haarstyle. Maar ons heel belangrikste deel, is dit wat net God kan sien -  ons harte. Lees Ps. 51 :8, 12.

5. Oral waar ons gaan, of ons dit wil weet of nie, laat ons 'n merk. Dit is 'n mooi of lelike merk. Wat sien mense in jou lewe - waar jy ontspan, skoolgaan, werk en speel? Lees Jesaja 31:21 en 2 Korintiërs 3:1-3 en 18.

1 comment:

  1. This is a very nice thing em yes I agree with this and God is the best

    ReplyDelete