Saturday 16 June 2018

Jeugdag in die Noord-Kaap - 2018

Jeugdag is die dag waarop ons die jeug se toekoms vier, maar wat beteken jeugdag vir ons hier in die Noord-Kaap?

Dit help nie ons bly verwys terug na 1976 nie. Dit is baie belangrik. Maar belangriker is ons toekoms. 1 uit elke 4 jongmense het nie werk nie. Dit is aan hierdie syfer waaraan aandag gegee moet word en wat moet verander.

Ons as jeug moet definitiewe besluite neem. Dit is nie "cool" om dwelms te gebruik nie - ons maak net die dwelmbase ryk. Nog minder is dit "cool" om bendeleiers te volg. Ons kan mos vir onsself dink. Ons moet vandag opstaan en 'n besluit oor ons toekoms neem.

Die Noord-Kaap is nie 'n maklike provinsie nie, maar dis 'n provinsie wat die sout-van-die-aarde-mense oplewer. Mense met murg in hulle pype, want hulle het geleer om planne te maak, unieke oplossings vir probleme te bedink en met 'n vars oog na moeilikhede te kyk. Leiers op elke lewensterrein.

Ons gaan van vandag af, dit wat reg is, bo dit wat verkeerd is, kies. Ons besef daar is nie kitsoplossings vir al ons probleme en dikwels slegte omstandighede nie, maar ons gaan mekaar ondersteun.

Ons eerste tree na 'n beter toekoms, lê in onderwys. Daar is só baie voorbeelde van mense wat slegte kinderjare gehad het, maar hulle het dit nie gebruik as 'n verskoning om nie sukses in die lewe te bereik nie. (Ons gaan van tyd tot tyd hulle stories plaas.)

Daarom gaan ons Jeugdag 2018 gebruik om ons drome vlerke te gee en die inspirasiestories vir ander jongmense te word. 

No comments:

Post a Comment