Al gewonder waarom dit party dae voel of jy sweef, maar ander dae asof 'n donker wolk bokant jou hang? Dis alles een ding se skuld: buie!
Wat is die verskil tussen buie en emosie?
* Emosies is 'n baie spesifieke gevoel:
As jy 'n grilfliek kyk, voel jy bang; as jy 'n lekker speletjie saam met jou maats speel, voel jy gelukkig.
* Maar buie is 'n algemene gevoel: As jy moeg of bekommerd is, voel jy dalk oor die algemeen afferig, as jy lekker geslaap het en uitsien na jou pel se verjaardagpartytjie, voel jy opgewek.
* Buie hou ook baie langer aan as emosies. As jy in 'n goeie bui is, kan jy heeldag so voel, of selfs 'n hele week lank!
Waar kom buie vandaan?
'n Paar goed sit jou in 'n spesifieke bui.
'n Paar goed sit jou in 'n spesifieke bui.
Jy kan maklik in 'n slegte bui raak as:
* Jy moeg is. Jou ouers is reg as hulle sê jy't 'n goeie nagrus nodig.
* Jy gestres is, byvoorbeeld oor jou geskiedenistaak.
* Jy omgekrap is, soos nadat jy en jou ma vasgesit het.
Jy is gewoonlik in 'n goeie bui wanneer jy:
* Uitgerus is. Dit is hoekom jy snags minstens 8-10 uur slaap moet kry.
* Ontspanne is: Dis naweek en jy hoef nie aan skool te dink nie.
* Nie probleme het nie: Jy kom die laaste tyd goed met jou gesin en pelle oor die weg.