Tuesday, 24 March 2026

Ruben-idiome: Katte

Vandag is week 12 van idiome. Ons ken sowaar 60 meer idiome as wat ons op 1 Januarie 2026 geken het. Die mooi hiervan is dat ons nog net idiome oor katte en honde nadergesleep het. Daar is 'n skatkis vol idiome in Afrikaans. Andrej Ignatenko, 'n Afrikaanse professor aan die Lomonosov Universiteit in Moskou, het gesê dat die hart van Afrikaans in sy idiome lê.
   
* Te laat vir die kat se afval kom.
Betekenis: Opdaag wanneer almal al klaar geëet het.

* Die kat in die donker knyp.
Betekenis: Iets verkeerd in die geheim doen. (Skynheilig wees.)

* Katjies deur die water dra.
Betekenis: 'n Netelige saak oplos.

* Daar is meer as een manier om 'n kat dood te maak.
Betekenis: 'n Mens kan 'n saak op verskillende maniere aanpak en tog 'n sukses daarvan maak.

* Die kat aan die stert beet hê.
Betekenis: Verkeerd wees.

Tuesday, 17 March 2026

Statistiek: 149 000 e-besoeke van lojale e-lesers

 
Op 9 Maart 2026 sê ons dankie vir 142 000 lojale e-lesers! En 8 dae later sê ons DANKIE vir nog 7000 trefslae! Dankie vir elkeen wat ons só getrou besoek en vir elke dag se saamlees hier. Ons waardeer julle regtig. Lekker lees!!

Ruben-idiome: Katte

Maats, ek is seker julle is al kenners van kat-idiome. Krummels bring selfs vir my idiome wat ek moet plaas. Ek het nou al soveel idiome oor katte, dat ek ook Aprilmaand daaraan gaan afstaan.

* Soos kat en hond lewe.
Betekenis: In onenigheid lewe, voortdurend rusie maak (veral van man en vrou gesê)

* Soveel van iets weet soos 'n kat van saffraan.
Betekenis: Daar niks van weet nie.

* Sy is 'n kat.
Betekenis: Vals of snipperige vrou of meisie.

* Hy lyk of die katte sy kos afgeneem het.
Betekenis: Hy is terneerdruk of stil; sien daar verleë uit.

* Jy het die kat aan die stert beet.
Betekenis: Jy het nie 'n benul wat hier aangaan nie; jy weet niks nie.

Thursday, 12 March 2026

Ruben sê: Fisikaboek vir gr. 12- en sommige 11-vrae nou beskikbaar

Maats, ek is mos maar altyd aan die snuffel en soek na interessanthede wat julle tot voordeel kan strek. Ek het op die Physical and Technical Sciences - Free State-blog afgekom en geweet hierdie is net die hoed vir Sannie. 

Hierdie vrae is uitstekende oefening vir jou eksamen en veral vir die eindeksamen. 

Die geheim is om vroegtydig te begin.

Sterkte en hou maar jou neus in jou boeke!

"Ons Vrystaatse 2026-uitgawe van die fisikaboek (Gr. 12- & sommige 11-vrae) is beskikbaar by https://hwscience.blogspot.com/ (plasing van 11 Maart). Deel gerus hierdie inligting as jy iemand ken wat tans fisiese wetenskappe in graad 12 of 11 neem. Om deur die vrae te werk, sal help om probleemoplossingsvaardighede te slyp."

Ruben se een minuut storie: Het hulle 'n kat se kans? Die laaste spoorwegkatte ...

Maats, ek blaai oor die naweek deur een van die koshuis se ou tydskrifte en was ek gefassineerd deur hierdie stukkie oor die katte. Ek dink dit het my aandag getrek omdat ek as viervoetige ook hier in die jeugsentrum werk. Ons posbeskrywings verskil egter drasties en as ek te oud is om verder te werk, mag ek op pensioen gaan. 'n Heerlike rusvoortuitsig!

Geniet hierdie stukkie:

Die Britse spoorweë se amptelike muisbestryders se dae is getel. Meer as 'n eeu lank het dié spoorwegkatte 'n skrikbewind onder rotte en muise op spoorwegstasies gevoer. Nou word die Britse spoorweë egter geprivatiseer en die katte asook 130 000 van hul tweebeenkollegas staar afdanking in die gesig.

Van die nagenoeg 2000 katte wat 50 jaar gelede op Brittanje se 2 400 stasies bedrywig was, is nog net 200 oor.

Na die Tweede Wêreldoorlog het so te sê elke spoorwegstasie 'n eie muisvanger gehad. 

Vandag word nog omgesien na die laaste spoorwegkatte: hulle word kos gegee, veearts toe geneem as hulle siek is. Elke stasie sit spesiaal geld opsy vir dié uitgawes. Of die spoorwegkatte dit werd is, is moeilik om te sê.

Onder hulle is daar gewis dodelike muisvangers - katte soos die legendariese Tiddles, 'n knewel van sewe kilogram wat by Londen se Paddington-stasie so te sê op die hande gedra is. Tiddles was so bekend dat toe hy in 1981 die emmer geskop het, sy doodsberig nogal in al die koerante verskyn het.

Maar katte soos Tiddles is bitter skaars; die meeste van die huidige katte is 'n blote instellijng en al so gruwelik bederf dat hulle geen jaginstink meer het nie.

Wat gaan nou van Brittanje se spoorwegkatte word?

Sal hulle die "eiendom" word van Railtrack, die organisasie wat ná privatisering die spoorwegnetwerk - stasies, treinspore, ens. - in stand sal hou? Hulle sien nie daarvoor kans om na die katte te kyk en elke jaar byna R300 per kat op te dok nie.

"Wat ons betref, is die katte nie werknemers nie," sê Colin May, een van Railtrack se kokkedore. "Die katte het seker in die verlede 'n doel gedien, maar ons gaan nie geld aan hulle bestee nie."

"Diegene van ons wat by die stasies aanbly, sal vir die katte sorg," sê Jonathan Probyn, Paddington-stasie se stasiemeester. "Die katte is 'n jarelange instelling en ons wil dit so hou. Ons sal self na hulle omsien, uit ons eie sakke vir hulle betaal."

[Keur 12 November 1993]    

Wat het ek uit hierdie storie geleer:

* Niemand is onmisbaar nie.
* As jy 'n werk het, doen jou uiterste bes, soos Tiddles wat jare na sy dood nog die media haal omdat hy so hardwerkend was.
* Moenie van ander verwag om vir jou te sorg nie - maak 'n plan en "vang" muise as dit moet. 

Wednesday, 11 March 2026

Rosetta se Woensdag-wense

Mag vreugde jou vind,
liefde jou omring,
God jou met goeie gesondheid seën,
Mag God vandag en vir altyd
saam met jou wandel!

Tuesday, 10 March 2026

Ruben-idiome: Katte

Let op: Krummels hou 'n
wakende oog oor my!
Hierdie is ons tweede week wat ons aan kat-idiome afstaan. Krummels kan nie genoeg kry van haar naam op die blog nie en ek het sowaar gehoor by een van die kinders dat sy hulle idioomkennis toets.

Geniet die tweede sarsie kat-idome. Onthou: memoriseer dit en gaan sê dit vir Krummels op. 

* 'n Kat val altyd op sy pote.
Betekenis: Hy kry homself altyd uit die moeilikheid uit.

* 'n Kat kan ook na 'n koning kyk.
Betekenis: Die eenvoudigste mens het ook sekere regte.

* Nie 'n kat se kans hê nie.
Betekenis: Geen kans op sukses hê nie.

* So nat soos 'n kat.
Betekenis: Baie nat, papnat ... papsopnat.

* So welkom soos 'n kat in 'n melkkamer.
Betekenis: Baie onwelkom.

Wednesday, 4 March 2026

Rosetta se Woensdag-wense

Gee liefde -
nie net aan jou huismense nie, 
maar aan elkeen wat God
vandag op jou pad plaas. 
Vandag kan jy, 
gister wou jy, 
môre is dalk te laat ...

Tuesday, 3 March 2026

Ruben-idiome: Katte

Kyk, Maats, Krummels kom loer kort-kort oor my skouer, hier waar ek sit en skryf. Ek het mos vir haar belowe dat Maart se idiome net oor katte sal gaan. Ek is op hierdie oomblik besig om idiome oor katte in die woordeboek te soek. Kyk gerus op die foto - julle sal my dik woordeboek sien.

Vandag begin ek met die letter K. En julle kan natuurlik raai hoekom. Elkeen van die volgende paar weke se idiome gaan die woord KAT of KATTE inhê. Ek wil kyk hoeveel van hierdie idiome julle kan memoriseer. Doen dit asseblief, ter wille van Krummels. Geniet dit!  

* Die kat uit die boom kyk.
Betekenis: Dinge eers goed deurkyk voordat jy iets aanpak (byvoorbeeld voordat jy ’n transaksie beklink).

* Geen katjie om sonder handskoene aan te pak nie.
Betekenis: ‘n Baie moeilike persoon.

* Gooi die kat in die duiwehok.
Betekenis: Veroorsaak ‘n groot konsternasie.

* Jou ‘n kat in die sak koop.
Betekenis: ‘n Slegte koop sluit; jou laat verkul. As die kat dik is, smaak die muis bitter.
Betekenis: As iemand genoeg geëet het, smaak die kos nie meer lekker nie.

Wednesday, 25 February 2026

Rosetta se Woensdag-wense

God is in beheer,
so alles gaan goed uitwerk.
* Glo dit!
* Leef dit!
* Ontvang dit!

Tuesday, 24 February 2026

Ruben-idiome: Honde

Maats, hierdie is voorlopig die laaste van die honde-idiome. Maartmaand gaan ek my woord aan Krummels gestand doen en 'n paar kat-idiome (katterige idiome) met julle deel. Viva idiome!

* Met onwillige honde kan mens g’n hase vang nie.
Betekenis: Met onwillige werkers bereik 'n mens nie jou doel nie.

* Moenie slapende honde wakker maak nie.
Betekenis: Dinge wat moeilikheid kan veroorsaak, moet liefs verswyg word.

* 'n Hondelewe lei.
Beteknis: 'n ellendige bestaan voer.

* Nie hond haaraf maak nie.
Betekenis: Niks uitrig nie.

* Oor die hond se stert wees.
Betekenis: Oor die ergste of die moeilikste wees.

Saturday, 21 February 2026

Ruben-humor: Diere

* Wat het die piesang vir die hond gesê?
Niks nie. 'n Piesang kan nie praat nie.

* Wat kan jy doen dat 'n eekhoring van jou hou?
Gedra jou soos 'n neut.

* Wat kry jy as jy 'n luiperd met 'n muishond kruis?
'n Dier wat met 'n stink spoed kan hardloop.

* Wat noem jy 'n vark wat karate kan doen?
'n Varktjop

Thursday, 19 February 2026

Ruben se een minuut gedig: Kat en muis

ʼn Kat sê eendag vir ʼn muis:
"Ek voel tog so alleen,
kom speel hier met my in die huis,
dan gee ek jou ʼn been!"
 
"Nee dankie," sê die slimme muis.
"Ek bly maar weg van jou -
by katte voel ek glad nie tuis,
hul wil my beentjies kou!"

* Helena J.F. Lochner

[Bron: Klink HIER]

Wednesday, 18 February 2026

Rosetta se Woensdag-wense

Soek en vind vandag die oomblikke
wat jou laat glimlag
en kleur die dag in 
met soveel vrede en geluk 
as wat jou hart kan dra.

Tuesday, 17 February 2026

Ruben-idiome: Honde

Maats, julle kan sien dat ek elke dag getrou my idiome neerskryf. Ek kan nie dat julle idiome leer wat ek nie ken nie. Dis vir my heerlik om by tannie Christelle se tafel te sit en my idiome uit te skryf. Ek hoop julle doen dieselfde.

* Jy kan ‘n hond die blaf nie belet nie.
Betekenis: Jy kan ‘n mens nie belet om sy mening uit te spreek nie.

* Kom ‘n mens oor die hond, dan kom jy oor die stert.
Betekenis: As jy oor die ergste moeilikheid kom, kan jy oor die kleineres ook kom.

* Lyk asof die honde sy kos afgeneem het.
Betekenis: Verleë, beteuterd lyk.

* Lyk soos ‘n hond wat vet gesteel het.
Betekenis: Sku, verleë, beteuterd lyk as gevolg van 'n skuldgevoel.

* Met alle honde saampraat.
Betekenis: Almal napraat.

Thursday, 12 February 2026

Een minuut storie: Die slim haan en die jakkals

Naby die blou see is 'n groot bos. In die bos woon 'n stout jakkals. Hy vang muise, hase en ook skape. Hy is egter bang vir slange en leeus. Hy is deesdae baie lui om moeite te doen met sy kos.

Eendag sien hy 'n mooi swart haan, met 'n pragtige goue kraag. Die haan is baie mak, 'n mens sou kon sê hondmak. Die haan se gereelde sitplek is in 'n baie hoë boom met groot groen blare. Daarvandaan kan hy die wêreld ongesiens dophou en vroegtydig vir sy vriend wat onder die boom lê en 'n uiltjie knip, waarsku. Hulle twee se ongewone vriendskap het al tot vele stories aanleiding gegee. Hierdie twee maats is voordurend op die uitkyk vir mekaar en help ongevraagd.

Die jakkals loop so drentel-drentel en kyk of daar nie êrens 'n duif is wat sit en eet nie ... een wat sy waaksaamheid so 'n bietjie verslap het, wat hy kan bekruip nie. 

Sy oog val egter op die haan. Hy besluit om hom af te lok met valse beloftes en hom dan vir middagete op te eet. Hy vlei die haan deur sy kraaiery te prys. "Ek hoor jy kan baie mooi sing. Kom sit hier naby my op die grond en sing vir my. Ek wil jou mooi hoor as jy sing. Sing gerus vir my jou vroeë môrelied." 

"Goed," sê die haan, "maar roep my maat ook om saam te sing."
"Waar is jou maat?" vra die jakkals.
"Hy lê hier onder die boom," sê die haan.

Die jakkals dink dit is ook 'n haan of dalk 'n hen. Hy loop om die groot boom om te gaan kyk. Die groot hond sien die jakkals om die boom kom. Hy spring blitsvinnig op en byt die stout jakkals morsdood. 

Wat het ek uit hierdie storie geleer:
* Dit is handig om ongewone maats te hê. Maats wat sterker of groter of slimmer as jy is, sodat hulle jou kan help as jy in die moeilikheid is.

* Moenie na vreemdelinge luister nie. Jy kan hulle nie vertrou nie. 

* Jy is verantwoordelik vir jou eie veiligheid. Bly altyd waaksaam. Dit kan jou lewe red.

Wednesday, 11 February 2026

Rosetta se Woensdag-wense

Tussen al ons swaarkry en probleme, moet ons nooit vergeet om die mooi rondom ons raak te sien nie. Ons moet gefokus luister na die goedvoel-stories, want dit is die plantjies van hoop tussen al die daaglikse slegte nuus. Waardeer die positiewe en inspirerende mense in jou omgewing. Daar is baie klein stukkies mooi en goed in elke dag. En daarvoor moet ons vir God elke dag kan dankie sê. Die klomp klein plantjies van hoop vorm later 'n tuin van dankbaarheid.

Tuesday, 10 February 2026

Ruben-idiome: Honde

Ek weet julle is seker al moeg vir honde-idiome! Ek sal volgende maand iets oor katte sê. Krummels het juis gekla dat enige ander mens (en dis net hier waar die verskil inkom!) by die letter A sou begin en nie by H nie. Ek het nog baie honde-idiome, maar julle kry julle gewoonlike 5. Lekker leer! 

* Elke hond kry sy dag. 
Betekenis: Elkeen kry sy dag van geluk, teëspoed of vergelding.

* G’n hond kan dit hou nie.
Betekenis: 'n Mens kan dit verduur nie.

* G’n hond kan dit vreet nie.
Betekenis: Dit is baie sleg (gewoonlik van oneetbare kos gesê.)

* Groot (kwaai) honde byt nie sommer nie.
Betekenis: Sterk teëstanders laat mekaar met rus.

* Haastige hond verbrand sy mond.
Betekenis: Gesê wanneer iemand oorhaastig te werk gaan en sake verbrou.

Sunday, 8 February 2026

Statistiek: 131 000 e-besoeke van lojale e-lesers


Ek wil nou nie spog nie, my ouma Annie en ouboet Ruben sal my dadelik oor die vingers tik of liewer oor my pote, maar my resepte is só gewild, dit moet beslis tot ons leserstal bydra. Dankie vir elkeen van julle wat so getrou ons blog besoek. Julle is sterre! Hou gerus hierdie spasie dop -  my resepte vir die jongklomp gaan 'n treffer wees. Ek probeer nog die heuning-om-die-mond-tegniek met ouma Annie oor daardie resepte. 

Saturday, 7 February 2026

Ruben-humor: Leeu

* Wat het die leeu vir haar welpies gesê toe sy hulle geleer het om te jag?
"Loop net by die sebra-strepe oor."

* Wat neem jy met jou saam as jy op 'n leeu-safari gaan?
Iemand wat stadiger as jy hardloop.

* Onderwyseres: "Jannie, noem vir my 10 wilde diere." 
Jannie: "9 leeus en 1 wildebees, juffrou."

Hierdie volgende leeu-grap is NIE vir kinders NIE, maar vir hulle ouers!

* Op sy aandrang is Koos se vrou en skoonma saam met hom op 'n jagtog in die Kalahari.
Die eerste nag maak sy vrou hom paniekbevange wakker.
"Mammie is weg!"
Koos vat sy geweer en met sy vrou agterna stap hy die donker in. Nie ver van die kamp af nie gewaar hulle sy skoonma, rug teen die boom met 'n leeu wat vir haar staan en gluur.
"Ag jittetjie tog!" gil Koos se vrou.
"Wat gaan ons nou doen?"
"Niks nie!" sê Koos kalm.
"Daai leeu het homself in die gemors gekry, hy kan homself daar uitkry!"

Thursday, 5 February 2026

Resep: Onfeilbare resep vir deegklei

Liewe Maats (soos wat my Ouboet altyd sy briewe begin)

My ouma Annie het nie net koek gebak nie, sy het vir die kleuterskool waarin al haar kinders was en kleinkinders nog steeds is, 'n resep vir deegklei uitgetoets en dan sommer vir hulle gereeld 'n mengsel gemaak.

Ek het die resep op 'n flentertjie papier ontdek en boaan het sy in groot letters geskryf ONFEILBAAR. Ek deel dit graag met julle en hoop julle kan die chemiese klei van die winkels vervang met 'n gesonder klei. Lekker speel!

Benodighede
* 500 ml (2 koppies) meelblom
* 200 ml sout
* 30 ml kremetart
* 500 ml (2 koppies water)
* 30 ml kookolie
* 3-5 ml kleursel

Metode
1. Meng meelblom, sout en kremetart in kastrol.
2. Voeg water, kookolie en kleursel by en meng deeglik met draadklitser.
3. Verhit oor redelike hoë hitte en roer aanhoudend met houtlepel tot klont begin vorm.
4. Skakel plaat laer en skraap voortdurend van boom tot klammigheid verdwyn.
5. Laat effens afkoel. Knie 5-10 minute.
6. Bêre in lugdigte houer. (Dit word hard indien dit buite gelaat word.)   

Baie liefde uit 'n snikhete Noord-Kaap en gaan groot!

Wednesday, 4 February 2026

Rosetta se Woensdag-wense

Elke nuwe môre is 'n geskenk van Bo, 
in elke sonsopkoms is 'n belofte 
van 'n nuwe dag. 
Die dag is jou geskenk van ons Heer,
maak dit stadig en vol verwagting oop.

Tuesday, 3 February 2026

Ruben-idiome: Honde

'n Nuwe maand - nuwe idiome. Geniet dit!

* Kommandeer jou eie honde en blaf self.
Betekenis: Voer jou eie voorstel uit/doen self wat jy vir ander sê om te doen.

* Ons het 'n hond uit 'n bos gekuier.
Betekenis: Ons het baie lekker gekuier.

* Mak honde byt die seerste.
Betekenis: Jou eie mense kan jou die seerste maak.

* Dit is nie om die hondjie nie, maar om die halsbandjie.
Betekenis: Iemand is agter iets anders aan as was hy voorgee.

* Geen hond of kat met rus laat nie.
Betekenis: Almal lastig val.

Saturday, 31 January 2026

Ruben-humor: Van miere tot by leeu

* Wie kom altyd saam piekniek hou, maar word nooit uitgenooi nie?
Miere

* Watter insek is die soetste?
Die heuningby

* Wat het die leeu vir haar slim welpie gesê?
Jy is bruljant!

* Hoekom het die leeu die nar uitgespoeg?
Want hy het snaaks geproe.

Thursday, 29 January 2026

Ruben se een minuut storie: Wolf leer vlieg

Wolf is moedeloos honger. Elke keer as hy by ‘n dooie dier kom, het Aasvoël lankal die lekkerste vleis afgeëet sodat net die kaal bene vir hom oorbly.

Wolf besluit om vir Aasvoël te vra hoe hy dit elke keer regkry.

"Ai, Aasvoël," kla Wolf, "kan jy dan nie vir my sê hoe jy so gou weet as daar iets te ete is nie?"

"Dis maklik," antwoord Aasvoël. "Ek vlieg hoog in die lug en kyk ver oor die aarde uit. Jy kan net tot by die bossies hier voor jou neus sien. Dan het ek al lankal die kos raakgesien en sommer vir my vrou 'n paar lekker stukke vleis gevat wat sy vir die kinders kan gee." 

"Leer my dan ook vlieg," soebat Wolf.

"Goed,” sê Aasvoël. "Kom klim op my rug, dan kyk jy mooi wat ek doen."

Aasvoël sprei sy kragtige vlerke, en Wolf moet net vasklou vir al wat hy werd is.

"Sien jy, Wolf?" roep Aasvoël toe hulle hoog oor ‘n lap doringbosse sweef. "Dis maklik. Spring nou af en klap met jou bene soos ek met my vlerke."

Wolf duik deur die lug, maar hoe hy ook al skop en spartel, hy val soos ‘n klip, reg in die doringbosse.

"Eina!" tjank Wolf terwyl hy tussen die klouende takke uitsukkel.

"Laat dit vir jou ‘n les wees!" roep Aasvoël van bo af. "‘n Dier is gemaak om te loop, en ‘n voël om te vlieg. En as diere probeer vlieg, kom daar moeilikheid."

Wat het ek uit hierdie storie geleer:
* Moenie iets of iemand anders probeer wees nie. Wees altyd jou unieke self.

[Bron: HIER. Die Mooiste Afrikaanse Sprokies uitgesoek & oorvertel deur Pieter W. Grobbelaar]

Wednesday, 28 January 2026

Rosetta se Woensdag-wense

Vertrou vandag eerder op God as die mens. 
Hy ken die toekoms en wil jou beskerm. 
Sy liefde gee vlerke aan jou voete,
sodat jy met geloof in jou hart 
deur die dag sal dartel. 
Mag jy vandag 'n geseënde wees,
sonder enige kommer,
want Jesus sal sorg!



Tuesday, 27 January 2026

Ruben-idiome: Honde

Dit lyk my julle is goed op dreef. Julle ken reeds 15 honde-idiome. Onthou om dit te gebruik in julle opstelle. Hier is nog 5 mooi idiome.

* Ek kry nou hond se gedagtes.
Betekenis: Ek vermoed iets/agterdogtig raak.
 
* Behandel iemand soos 'n hond.
Betekenis: Iemand baie sleg behandel.

* Hulle baklei soos kat en hond.
Betekenis: Hulle baklei ewigdurend.

* Ek ruik hond.
Betekenis: Iets is iewers fout.

* Hy lei 'n hondelewe.
Betekenis: Hy kry swaar.

Saturday, 24 January 2026

Ruben-humor: Spinnekoppe en insekte

* Wat het spinnekop op die rekenaar gedoen?
Sy het 'n webtuiste gemaak.

* Watter soort insek kry jy in die kerk?
'n Bidsprinkaan  

* Wat noem jy 'n vlieg sonder vlerke?
'n Loop.

* Van watter sport hou insekte die meeste?
Krieket

Friday, 23 January 2026

’𝗡 𝗨𝗜𝗧𝗗𝗔𝗚𝗜𝗡𝗚 𝗔𝗔𝗡 𝗘𝗟𝗞𝗘 𝗦𝗞𝗢𝗢𝗟 𝗜𝗡 𝗦𝗨𝗜𝗗-𝗔𝗙𝗥𝗜𝗞𝗔

𝟮𝟯 𝗝𝗔𝗡𝗨𝗔𝗥𝗜𝗘 𝟮𝟬𝟮𝟲 – 𝗖𝗜𝗩𝗩𝗜𝗘 𝗗𝗔𝗚 𝗩𝗜𝗥 𝗗𝗥𝗢𝗢𝗚𝗧𝗘𝗛𝗨𝗟𝗣
Ons wil 𝟮𝟬𝟮𝟲 𝗮𝗳𝘀𝗸𝗼𝗽 𝗺𝗲𝘁 𝗯𝗲𝘁𝗲𝗸𝗲𝗻𝗶𝘀. Nie met nog ’n fondsinsameling wat verbygaan nie. Maar met 𝗲𝗲𝗻 𝗱𝗮𝗴 𝘀𝗲 𝗼𝗽𝗼𝗳𝗳𝗲𝗿𝗶𝗻𝗴 wat ’n verskil maak.

📅 𝙑𝙍𝙔𝘿𝘼𝙂 – 23 𝙅𝘼𝙉𝙐𝘼𝙍𝙄𝙀 2026
𝙊𝙣𝙨 𝙣𝙤𝙤𝙞 𝙚𝙡𝙠𝙚 𝙨𝙠𝙤𝙤𝙡 𝙞𝙣 𝙎𝙪𝙞𝙙-𝘼𝙛𝙧𝙞𝙠𝙖 𝙤𝙢 𝙨𝙖𝙖𝙢 𝙢𝙚𝙩 𝙤𝙣𝙨 ’𝙣 𝘾𝙞𝙫𝙫𝙞𝙚 𝘿𝙖𝙜 𝙩𝙚 𝙝𝙤𝙪 𝙩𝙚𝙧 𝙤𝙣𝙙𝙚𝙧𝙨𝙩𝙚𝙪𝙣𝙞𝙣𝙜 𝙫𝙖𝙣:
🌾👧👦 🧑‍🌾 𝘿𝙍𝙊𝙊𝙂𝙏𝙀𝙃𝙐𝙇𝙋 🌾👧👦 🧑‍🌾 

Een dag.
Een keuse.
Een gemeenskap wat sê: “𝗢𝗡𝗦 𝗦𝗜𝗘𝗡 𝗝𝗨𝗟𝗟𝗘”

Laat leerders hul skooldrag verruil vir civvies.
Laat elke rand, elke muntstuk, elke bydrae ’n boodskap wees van hoop.
Nie oor hoeveel jy gee nie – maar 𝗱𝗮𝘁 𝗷𝘆 𝗴𝗲𝗲.

𝗠𝗮𝗮𝗿 𝗵𝗶𝗲𝗿 𝗸𝗼𝗺 𝗱𝗶𝗲 𝘂𝗶𝘁𝗱𝗮𝗴𝗶𝗻𝗴 👇
𝗢𝗻𝘀 𝘄𝗶𝗹 𝗵𝗲̂ 𝘀𝗸𝗼𝗹𝗲 𝗺𝗼𝗲𝘁 𝘀𝗸𝗼𝗹𝗲 𝘂𝗶𝘁𝗱𝗮𝗮𝗴. 𝗘𝗡 𝗷𝘆 𝘄𝗮𝘁 𝗵𝗶𝗲𝗿 𝗹𝗲𝗲𝘀 𝗺𝗼𝗲𝘁 𝗷𝗼𝘂 𝘀𝗸𝗼𝗼𝗹 𝘂𝗶𝘁𝗱𝗮𝗮𝗴!

🏫 Jou skool neem deel
📣 Julle daag ’n ander skool uit
🤝 Hoop versprei van dorp tot dorp, provinsie tot provinsie

Wanneer jou skool die uitdaging aanvaar, stuur ’n e-pos na: 𝗮𝗱𝗺𝗶𝗻@𝗱𝗿𝗼𝗼𝗴𝘁𝗲𝗵𝘂𝗹𝗽.𝗰𝗼.𝘇𝗮

Ons stuur vir julle ’n “𝗖𝗵𝗮𝗹𝗹𝗲𝗻𝗴𝗲 𝗔𝗰𝗰𝗲𝗽𝘁𝗲𝗱” Sertifikaat –
’n simbool dat julle skool opgestaan het vir hoop, medemenslikheid en Suid-Afrika.

Hierdie gaan nie net oor boere nie.
Dit gaan oor waardes.
Dit gaan oor saamstaan.
Dit gaan oor om vir ons kinders te wys dat ons nie wegkyk as ander swaarkry nie.

💛 Kry jou skool betrokke.
💛 Kry jou gemeenskap betrokke.
💛 Word deel van ’n beweging van hoop.

Wie aanvaar die uitdaging?
Tag jou skool.
Daag ’n ander skool uit.
En laat ons saam 2026 begin met harte wat gee.

Droogtehulp met Burre Burger NPC
🌾 Hoop waar dit die droogste is.