Wednesday 5 February 2020

Ek wil so 'n broer wees ...

'n Sakeman in Kaapstad kom by sy nuwe motor aan terwyl 'n straatseuntjie dit staan en bewonder. Hy vertel die storie self:

"Toe ek die sleutel in die motordeur steek, vra die seuntjie: "Is dit Meneer se motor?"
"Dis myne, ja."
"Hoeveel het hy gekos, Meneer?"
"Ou seun, ek weet nie."
Hy kyk ondersoekend na my: "Meneer, lyk nie na die soort wat 'n motor sal steel nie, maar waar het Meneer dan die motor gekry?"
"My broer het dit vir my gegee." 'n Verlangende uitdrukking kom in die seun se oë en hy sê : "Ek wens ..."
Ek verwag dat hy gaan sê: "Ek wens ek het so 'n broer gehad," maar hy eindig sy sin anders as wat ek verwag het, en dit raak diep in my hart:
"Ek wens ek kon so 'n broer wees." sê hy. My hart ruk wild in my borskas. Sy woorde raak my so dat ek hom dadelik wil plesier. "Kom, klim in, dan voel jy hoe ry hy."
"Ek sal Meneer se kar net vuil smeer," keer hy. Ek dink by myself: jou klere mag vuil wees, maar jou hart is spierwit.
Ek dring by hom aan en hy klim gretig voor by my in. "Sal Meneer voor my huis stilhou, asseblief," vra hy dringend.
Ek hou voor 'n trapgang in 'n agterstraatjie stil. Soos 'n klipspringer is hy uit die motor en kom na 'n rukkie stadig terug met 'n kleiner seuntjie in sy arms. Die seuntjie is inmekaar getrek as gevolg van polio. Saggies sit hy die seuntjie op die onderste trap op die sypaadjie neer.
"Daar is hy, Boetie. Sy broer het dit vir hom gekoop. As ek eendag groot is, gaan ek vir jou net so 'n kar koop, dan kan jyself na al die winkelvensters gaan kyk."
Trane swem in my oë en met 'n knop in my keel sê ek: "Kom julle twee. Jou Boetie gaan sommer vandag die winkelvensters sien." Ek help om die kreupel seuntjie voor by my en die ander een in te tel. Ek ry na die grootste winkelsentrum toe in die stad.
Toe ons stilhou sê ek: "Kom ons gaan kyk," terwyl ek die kreupel outjie in my arms dra. "Soek uit wat julle wil hê." Hulle het mildelik van my aanbod gebruik gemaak en gevat wat hulle wou hê, Die volgende paar uur in hulle geselskap was die gelukkigste tyd wat ek nog ooit in my lewe ervaar het.
Ek het besef dat die loon van om aan ander te gee, nie altyd materiële loon is nie, maar dat die beter loon 'n opgeruimde en gelukkige hart is.
"Daar is mense wat vrylik uitdeel en tog steeds meer het as ander wat suinig is. Wie 'n ander voorspoed gun, sal self 'n oorvloed hê.
Wie die dors van ander les, sal self nooit dors word nie. En ek het besef ... Ek wil so 'n broer wees.

[Dankie, Johan, dat jy hierdie verhaal met ons gedeel het.]


No comments:

Post a Comment