Wednesday, 30 April 2025

Sunday, 27 April 2025

Ruben praat oor Vryheidsdag


Liewe Maats

Vandag wil ek graag vir elkeen van julle 'n gelukkige Vryheidsdag toewens. Dis regtig 'n spesiale dag in ons geskiedenis.

Ons word regtig in opwindende tye groot. Ons kan ons sterte waai van opwinding. Maar Maats, vryheid beteken elkeen van ons het 'n groot verantwoordelikheid. Ons gewone outjies hier op grondvlak moet net kyk dat ons almal ordentlik behandel en verdraagsaam teenoor mekaar optree. Ken julle die groot, maar kort woord ETIEK?  Moenie jou etiek verkwansel in 'n kliek van rebelse honde en oneerlike mense nie. Dis belangrik dat ons op hoë vlakke van ordentlikheid funksioneer.  

Julle leer mos presies hoe belangrik 27 April is. Vryheidsdag is 'n openbare vakansiedag wat ons jaarliks herdenk ter herinnering aan die land se eerste demokratiese verkiesing wat op dié dag in 1994 begin en die dag daarna geëindig het. 

Maats, ek kan nog die opwinding onthou. Ons almal het vasgenael voor die televisie in my ouma Annie se huis in Petrusburg gesit. Opgewondenheid is nie net 'n menslike emosie nie. Ons klomp kinders en kleinkinders het in verskillende tale geblaf, en ouma moes ons meer as een keer maan om stil te bly, want sy kon nie hoor wat die televisie-aanbieder sê nie.

Maar wat beteken vryheid vandag vir ons??

Die mag of reg om op te tree, te praat of te dink soos ’n mens wil, maar nie sonder verantwoordelikheid nie. 

Julle sien, daar is verskillende vorms van vryheid wat ons tot ons beskikking het. Onthou, ons kan en moet vir onsself doelwitte binne hierdie grense van vryheid skep. Moenie dat ander inwoners in die koshuis hulle vryheid misbruik om jou vreugde te steel nie. Daar is baie vreugdestelers in ons land, ons skool, ons familie ... Almal wat jaloers is op jou, gebruik hulle ongelukkigheid om jou reg tot vreugde te steel. Onthou, jy het die vryheid tot keuse. Kies in hierdie deurmekaar wêreld dinge wat vir jou goed en heilsaam is.

Daar is egter 'n groot bekommernis wat swaar op my hart lê. Hierdie baie vakansiedae kan lei tot luiheid. En nou wonder ek hoe hanteer jy die klomp vakansiedae? Gooi jy darem 'n oog in jou boeke? Goeie punte is 'n vorm van vryheid wat vir jou deure oopmaak tot verdere vryheid. Het jy dit geweet?  

Mag jy 2025 se Vryheidsdag jou persoonlike vryheid en vreugde geniet, want jy mag!

En op hierdie hoë noot, blaf ek vir elkeen van julle 'n heerlike dag toe.

Ruben-groete tot 'n volgende keer!

Saturday, 26 April 2025

Ruben-humor: Anderste diereraaisels

* Wat is grys en klein met 'n blou kop?
'n Muis wat sy asem ophou.

* Wat is grys en woon vier meter onder die grond?
'n Groot grys klipvreter.

* Wat is wit met blou strepe en vlieg in die aand rond?
Superman met sy pajamas aan.

* Wat is wit en swart en staan in die hoek?
'n Skaam stoof. 

Thursday, 24 April 2025

Verjaardaglooks!!


Ruben: My ouma Annie het altyd vir haar kinders en kleinkinders gesê dat hulle nie mooi en aantreklik hoef te wees nie, maar as hulle mooi doen, dan is hulle waardevolle viervoetige burgers vir die samelewing. Die soort honde wat die land nodig het. 

Ons familie is nou nie silwerdoek-materiaal nie, maar ons kan ons man staan en is die sout van die aarde honde. Groot was my verbasing toe Yvonne vir my 'n foto vra. Sy was taamlik geheimsinnig oor die rede en het net in my oor gefluister dat ek haar rolmodel is en dat sy my bewonder vir my dapperheid en waaksaamheid.

Ek het in my vier spore vasgesteek toe Charlotte Yvonne se verjaardagkoek kom aflewer het. Getrou op my pos by die voorhekkie, het ek gesien hulle sukkel om die groot koek uit die kar te laai en daar sien ek dat ek op die koek pryk ... lewensgroot! Ek kon my twee oë nie glo nie. Dankie, Charlotte, dat julle nie net Yvonne se dag spesiaal gemaak het nie, maar ook myne. Ek voel kompleet soos 'n hond met sewe sterte!     

Ek het spesiaal vir tannie Christelle gevra om 'n foto te neem sodat ek dit vir ouma Annie kan stuur. Sy is mos baie lief vir my en sy is ook baie lief om koek te bak en hier is haar twee groot liefdes gekombineer in 'n raar maar waar foto!

As enige iemand my modeltalente wil bekom, kan hulle gerus vir tannie Christelle kontak, sy sal sommer ook as my agent optree.

Ruben se een minuut storie: Die hoogmoedige muskiet


Al die diere van die bos het geweet Leeu is die sterkste en hulle was almal baie onderdanig
aan hom - almal behalwe Muskiet!

Muskiet het hom nie aan Leeu gesteur nie en sommer voor hom gaan water drink. As die ander diere met hom raas, sê hy net: “Ek kan nie verstaan waaroor julle so tekere gaan nie. Hy's tog net 'n leeu! Hy is miskien groter en sterker as ek, maar ek is glad nie bang vir hom nie. Ek sal hom enige tyd klop in 'n geveg!”

Toe Leeu van hierdie grootpratery hoor, is hy dadelik boos. “Almal weet ek is sterker as jy. Ek dink jy is 'n verspotte klein snip,” sê Leeu en draai sy rug op die grootprater. Muskiet vererg hom en steek Leeu op sy neus. “AAAU!” brul Leeu, maar voor hy nog iets kan doen, piets Muskiet hom op sy oor. Hy probeer sy oor vryf, maar Muskiet is weer reg en klits hom op die sagte pienk vleis tussen sy tone. “EINA!” skreeu Leeu woedend en klap na Muskiet. Maar Muskiet vlieg rats uit die pad. Hy gaan sit eenkant en lag alte lekker.

Moedeloos en stert tussen die bene is arme Leeu daar weg. Muskiet dink nou hy is koning! “Van nou af moet almal voor my buig,” sê die hoogmoedige muskiet.

Terwyl hy nog so grootpraat en pronk, vlieg hy KAPLAKS! in 'n spinnerak vas. “O aardetjie, help my tog!” skreeu Muskiet doodbenoud.

Spinnekop glimlag breed. Hy lek sy lippe af vir die sappige Muskiet. “Jy kon dalk vir Leeu
vir die gek hou, maar met my sal jy dit nie regkry nie!” sê Spinnekop. “Jou dwaasheid het jou
niks in die sak gebring nie!”

Wat het ek uit hierdie storie geleer?
* Slim vang sy baas.
* Moenie dink jy is belangriker as wat jy regtig is nie.
* Mense wat dink hulle is baie belangrik, kom met 'n spoed terug aarde toe. 

[Klik HIER vir nog stories.] 

Wednesday, 23 April 2025

Rosetta se goeie wense: Mag niemand ooit alleen voel nie!


Wees krag vir iemand
wat swaar trek.
Wees 'n stem vir iemand
wat nie weet wat om te sê nie.
Wees 'n hand vir iemand
wat sukkel om vas te hou.
Wees 'n lig vir iemand
wat langs 'n donker pad staan.
Wees 'n kompas vir iemand
wat nie meer weet waarheen om te gaan nie.
En wees die hoop vir iemand
wat twyfel.
Mag niemand ooit alleen voel nie!

Tuesday, 22 April 2025

Resep: Tommie deel nog 'n ouma Annie resep - Cream Cracker-verrassing

Dankie, oupa Willie, vir my kinderfoto's. Nou kan ek van my foto's gebruik as ek ouma Annie se resepte met die lesers deel. Na verlede maand se fopfoto, is daar party van die ouer lesers wat gedink het dat ek nie rêrig is nie.

Hierdie CC-verrassing is nie my eerste keuse nie ... daarvoor is daar heeltemal te veel lekker koekies, maar hierdie koekies flop nooit nie!!
As ons skielik kuiermense kry of my maats kom by ons speel, het ek vinnig hierdie koekies aanmekaar geslaan, verder het jy net drie bestanddele nodig en 'n mens kan maklik die Cream Crackers met Marie-beskuitjies of Tennis-beskuitjies vervang. Ek het al selfs die balletjies in droë versiersuiker of duisend lekkertjies gerol, as ouma se klapper op is. Daar is net een probleem - dis só soet, dat jy baie minder eet as wat jy graag sou wou.  

Bestanddele:
1 pak Cream Crackers
1 blik gekookte kondensmelk (Caramel kan ook gebruik word.)
Klapper 

Metode:
* Rol Cream Crackers fyn
* Meng beskuitjies met kondensmelk. 
* Vorm balletjies en rol in klapper. 
* Sit in yskas om styf te word. 

Wenk:
Meng fyngemaakte grondboontjie in mengsel in of selfs 'n bietjie vrugtekoekmengsel om die resep 'n bietjie op te gradeer.
Geniet dit en gaan groot!!!

Dinsdaggedagtes van Katelyn Marais

Saturday, 19 April 2025

Ruben-humor: Anderste diereraaisels

* Wat is rooi, rond en klein met blou strepies?
'n Tamatie met blou kruisbande.

* Wat is groen, rond en klein en val kort-kort oor sy eie voete?
'n Ertjie wat te groot is vir sy skoene.

* Wat is swart, klein en loop twee rye spore?
'n Mier wat in 'n wynbottel geval het. 

* Wat is geel en draai in die rondte?
'n Piesang in 'n tuimeldroër.

Thursday, 17 April 2025

Ruben se een minuut storie: Die reëndruppels


In ‘n wolk bokant ‘n rooidakhuisie, woon baie reëndruppeltjies. Doempel, Tiekelie, Plats en Sjalie trippel vrolik in die geut langs. Hulle het nou net van Mamma Wolk se swaar skouer afgespring.

“Ek gaan nie saam met die ander druppels afleivoor toe nie,” sê Sjalie. “Daar is te veel druppels bymekaar. Ons sal nie kan asemhaal nie!” 
“Kom ons spring oor die geut se kant,” roep Doempel uit. 
“Ons sal net moet hande vashou,” sê Plats, “anders spat ons uitmekaar daar onder op die grond.”
Die vier druppels staan langs mekaar op die geut se kant. “Kom nou, spring!” skree Doempel. Hulle beland in ‘n deurmekaar waternat bondel op die groen gras. Doempel lê heel onder en skop-skop met sy kort beentjies. Tiekelie sit regop en hou sy kop vas. Hy is die kleinste druppeltjie. Sjoe! Hulle het darem ver gespring! 
“Waarheen gaan ons nou?” piep Tiekelie.
“Kom ons volg hierdie slakspoortjie,” brom Doempel. 
“Ja, kom!” roep Sjalie uit. “Kom ons gaan kyk waarheen hierdie paadjie ons neem.” 
Die reëndruppeljties bokspring uitgelate in die krom slakspoortjie. Hulle lag en gesels dat dit skoon ‘n lekkerte is. Eensklaps word dit pik-pikdonker. Die reëndruppeljties knip hulle ogies en kyk verskrik rond. Oor hulle koppe sien hulle ‘n digte bos van donkerrooi blare wat die sonskyn wegkeer. ‘n Blaar-hand gryp Tiekelie aan die voet.
“Ek is rooi, rooi beet en ek is dors vir ‘n lekker reëndruppeltjie soos jy!” 
“Gryp Tiekelie se hand, Doempel,” skree Sjalie. “Ons moet vinnig wegkom van hierdie eetmonsters af!” 
Hulle gly af met die rivierstroompie. “Help! Help!” skree Tiekelie skielik. “Hier is nog ‘n rooi monster. Hy gaan my insluk!” 
“Dis nie ‘n rooi monster nie, jou dom druppel,” brom Doepel. “Dis maar net ‘n hond wat wil water drink. Rol hiernatoe, dan kan hy jou nie bykom nie.” 
Skielik woer-woer die reëndruppels al in die rondte saam met ‘n hele klomp ander druppels in ‘n ronde gronddammetjie. 
“Waar is ons?” kerm Tiekelie. 
“Kom”, brom Doempel, “kom ons hardloop vinnig in die rondte!” 
“Kom ons moet weg,” roep Sjalie. 
“Ja, dan met die rivier tot by die see,” sê Plats.
“By die see wag Mamma Wolk,” piep Tiekelie. 
“Daar kan ons weer heerlik tussen die sterre sweef!” 
Al vier druppeltjies trippel opgewonde en kan nie meer wag om by die see uit te kom nie. Dit was darem ‘n heerlike avontuur wat hulle gehad het, maar Tiekelie dink nie dit was so fantasties nie.
Sy sal maar volgende keer vir Mamma Wolk luister.

Wat het ek uit hierdie storie geleer?
* 'n Mens moet nie alleen iets aanpak nie.
* Luister na diegene wat meer weet as jy.
* Luister na jou ouers - hulle wil altyd die beste vir jou hê.

[Klik HIER vir nog stories.]

Wednesday, 16 April 2025

Rosetta se goeie wense: Mag dagbreek jou daagliks omhels


Mag Sy liefde jou elke môre begroet,
met genoeg seëninge vir elke dag.
Mag God jou môrelig wees,
as die son soggens opkom,
sonder donker wolke,
Mag elke dagbreek jou omhels
met God se genade en liefde.

Monday, 14 April 2025

Wat ma my geleer het ...

Sy het my geleer om WERK WAT GOED GEDOEN IS TE WAARDEER:
"As julle mekaar wil doodmaak, doen dit buite - ek het nou net klaar skoon gemaak."
Sy het my van GODSDIENS geleer:
"Jy beter begin bid dat die kol uit die mat kom."
Sy het my geleer OM IN TYD TE REIS:
"As jy nie opruim nie, foeter ek jou tot in volgende week in."
Sy het my LOGIKA geleer:
"Want ek sê so, dis hoekom."
Sy het my geleer om VOORBEREID te wees:
"Trek skoon onderklere aan vir in geval jy in 'n ongeluk kom."
Sy het my IRONIE geleer:
"Hou aan lag en ek gee jou iets om oor te huil."
Sy het my van die WETENSKAP van osmose geleer:
"Maak toe jou mond en eet jou kos!"
Sy het my van UITHOUVERMOË geleer:
"Jy sal by daardie tafel sit totdat jy jou groente opgeëet het!"
Sy het my geleer van sintuie:
"Kinders word gesien en nie gehoor nie!"
Sy het my van die WEER geleer:
"Dit lyk asof 'n tornado deur jou kamer is."
Sy het my geleer om FISIKAPROBLEME op te los:
"As ek skree daar is 'n komeet op pad, sal jy dan luister?"
Sy het my van SKYNHEILIGHEID geleer:
"Het ek nie al 'n duisend maal gesê moenie oordryf nie!"  
Sy het my van die LEWENSKRINGLOOP geleer:
"Ek het jou in hierdie wêreld ingebring, ek kan jou weer daaruit haal."
Sy het my van GEDRAGSVERANDERING geleer:
"Hou op om soos jou pa op te tree."
Sy het my van JALOESIE geleer:
"Daar is duisende minderbevoorregte kinders op die aarde wat enige iets sou gee om ouers soos jy te hê."

[Geneem uit Die Poortgenoot - November 2000]

Sunday, 13 April 2025

1 Korintiërs 13: God se liefde

Skryf al die postiewe en negatiewe eienskappe van die liefde vanuit die oogpunt van God se liefde neer.

Linda van Heerden het probeer om in die een kolom te illustreer hoe God se liefde vir my die eienskap in die ander kolom bevestig. 

LIEFDE IS: GOD SE LIEFDE VIR MY IS ... 
Geduldig: Hy behou geduld met my wanneer ek dieselfde foute so herhaaldelik maak
Vriendelik: Hy glimlag áltyd as Hy my sien en is bly as ek by Hom gaan sit.
Verheug oor die waarheid: Hy hou daarvan as ek volkome eerlik is.
Dit bedek alles: Deur Jesus se bloed bedek Hy al my sondes en spreek my vry.
Dit glo alles: Hy glo áltyd net die beste van my.
Dit hoop alles: Hy bly hoop dat my oorgawe aan Hom elke dag sal toeneem.
Dit verdra alles: Hy word nie kwaad vir my gebrekkige vertroue in Hom wanneer ek in swakheid weer my eie kop volg nie.
Dit vergaan nooit: Hy is nimmereindigend, onveranderlik, ewig en konstant innig lief vir my.

LIEFDE IS NIE: GOD SE LIEFDE VIR MY IS NIE ...
Afgunstig nie: Hy is bly as ek my talente ten goede gebruik en trots daarop as ek presteer.
Grootpraterig nie: Hy spog nie oor alles wat Hy vir my gedoen en opgeoffer het nie.
Verwaand nie: Hy dink nie ek is benede Sy liefde en aandag nie.
Handel nie onwelvoeglik nie: Hy tree áltyd met respek teenoor my op.
Soek nie sy eie belang nie: Hy stel my áltyd voor Homself, Hy soek áltyd my beste belang.
Is nie liggeraak nie: Hy voel nie verwerp as ek te min aandag aan Hom gee en te min tyd saam met Hom bestee nie.
Hou nie boek van die kwaad nie: Hy gooi nie my sondes voor my kop nie, maar verwyder dit so ver soos die ooste van die weste af is van my.
Verbly hom nie oor die onreg nie: Hy word saam met my hartseer as slegte gebeure my hartseer maak.

[Linda Van Heerden]

Saturday, 12 April 2025

Ruben-humor: Hondefamilie

'n Plaasbrak van Petrusburg kuier by sy neef in Johannesburg. Hulle sit nog so lekker en gesels toe sê die plaasbrak: "Verskoon my."
"Waarheen gaan jy?" vra sy neef.
"Toemaar, ek is nou-nou terug," antwoord die plaasbrak.
'n Halfuur later kom hy benoud teruggedraf.
"En nou?" vra die stadsbrak.
"'n Boom! Ek kan nêrens 'n boom kry nie."
"Pleks dat jy eerder gevra het, hier gebruik ons sommer wieldoppe."

Thursday, 10 April 2025

Ruben se een minuut storie: Helen Keller


Die bekende Helen Keller is meer as ‘n eeu gelede gebore. Sy was ‘n gesonde en normale baba. Sy het selfs begin praat toe sy net ses maande oud was!

Maar Helen was skaars negentien maande oud toe sy ernstig siek geword het. Al was sy nie lank siek nie, kon sy na die siekte nie meer sien nie, nie ‘n geluid hoor nie en nie ‘n woord praat nie. Sy was dus doofstom en blind.

Helen was ses jaar oud toe ‘n jong onderwyseres, mej. Anne Sullivan, by haar gesin kom inwoon het om vir Helen skool te hou. Anne was ‘n baie goeie onderwyseres en Helen ‘n baie intelligente leerder. Gou het Anne vir Helen geleer om woorde in gebaretaal te spel. Dit was ook nie lank nie, of Helen kon “praat”.

Omdat Helen baie leergierig was en ook baie deursettingsvermoë gehad het, het sy sommer gou geleer om Braille-skrif te lees. Anne wou nou hê dat Helen ook net soos ander mense moet kan praat. Sy het dit reggekry deur aan die keel en lippe van mense te voel terwyl hulle praat. Sy het die bewegings wat sy gevoel het, nagemaak en begin praat.

Sy het ook geleer skryf, perdry, roei, swem en fietsry! Na haar sestiende verjaardag het sy Universiteit toe gegaan. Anne het elke klas met haar bygewoon en wat in die klasse gesê is, het sy vinnig in Helen se hand gespel.

Helen het as student haar eerste boek geskryf. Sy het ook ‘n paar vreemde tale geleer en selfs toesprake voor groot gehore gelewer. Sy was teen die tyd ‘n wonderkind!

Dit wys aan ons, dat as iemand ‘n gebrek het, dit wel moontlik is om ‘n baie vol en gelukkige lewe te hê.

Wat het ek uit hierdie storie geleer?
* Waar 'n wil is, is 'n weg.
Dat 'n mens meer is as die struikelblokke in jou pad.
* Iemand wat ‘n gebrek het, kan wel ‘n baie vol en gelukkige lewe hê.

Tuesday, 8 April 2025

Seniors in aksie: Kuier, klets en kielie, die spiere-projek


Inligtingsessie: Donderdag, 10 April, 15h00-16h00
Somé Ferreira (Maatskaplike werker, Solidariteit Helpende Hand, Noord-Kaap-streek)

Raak op 'n volhoubare wyse by die senior burgers betrokke. Dag vir dag raak ons ouer en beweeg ons nader aan hierdie selfde situasie waarvan ons op hierdie stadium net lees.

Dinsdaggedagtes van Katelyn Marais

Sunday, 6 April 2025

1 Kor. 13 in praktyk

Liefde is ‘n glimlag,
nie ‘n frons nie. 
Liefde is ‘n drukkie,
nie ‘n klap in die gesig nie.
Liefde is omgee,
nie misbruik nie.
Liefde is om die sambreel vir iemand in die storm te wees
en die reënboog na die storm.
Liefde is om iemand se trane af te vee,
nie dit te veroorsaak nie.
Liefde is om boek te hou van goeie tye,
nie die slegte tye nie.
Liefde vergewe
nog voordat iemand jou seer gemaak het.
Liefde maak van jou 'n ligtoring
wat vir ander die rigting wys in die donker.
Liefde maak van jou ‘n boom wat koelte gee
vir dié wat rus nodig het.
Liefde word nie gespreek nie,
maar gewys.
Liefde kan: * genees
                   * vertroos
                   * versterk
al het jy niks om iemand te bied nie,
maar jy het liefde wat geld nie kan koop nie,
is jy die rykste mens op aarde.

Saturday, 5 April 2025

Ruben-humor: Tannie Liz se ongewone raad

[Hierdie wysheid kom uit my Petrusburg-dae uit!] 

* Moenie nooit tussen 'n hond en 'n lamppaal staan nie.
(In Petrusburg het ons gesê moet nooit tussen 'n hond en 'n boom staan nie.)

* Moet onder geen omstandighede terugslaan as jou broer of jou suster jou slaan nie. Jou ma sien net die tweede hou raak.

* As jy nie goed kan spel nie, help dit as jy lelik skryf.
(Nou wonder ek mos oor dokters se handskrif.)

* Deesdae is gesond eet die inding. Dit beteken dat ons almal gesond gaan doodgaan.

* Die naaste helpende hand is aan die einde van jou eie arm.
(Ons skoolhoof se raad.) 

Thursday, 3 April 2025

Vakansiepret: Mini-gholf


Die eerste treë wat jy gee voordat jy die regte gholfwêreld betree. 

Drie minute dinkstorie: Die hande van 'n vriend


Aan die einde van die 15de eeu het twee leerjongens, Hans en Albrecht, in die houtsneebedryf in Frankryk studeer. Albei wou baie graag ook in die skilderkuns gaan studeer, maar nie een van die twee het geld gehad nie.

Hulle besluit toe op die volgende oplossing: Een van hulle sal eers gaan werk en genoeg geld maak sodat die ander van die inkomste kan studeer. Wanneer die eerste een dan klaar gestudeer is en ryk en beroemd geword het, sal hy weer geld voorsien vir die ander een om te studeer.

Die vraag was natuurlik net: Wie sou eerste gaan studeer? Uiteindelik het hulle 'n geldstuk opgeskiet om te besluit en Albrecht het gewen.

Terwyl Albrecht in Venesië gaan studeer, het Hans as 'n grofsmid gaan werk. Elke maand wanneer hy sy salaris gekry het, het hy 'n groot deel daarvan vir sy vriend se studie aangestuur.

Die maande het jare geword en uiteindelik was Albrecht behoorlik gekwalifiseer. Hy het na Duitsland, sy geboorteland, teruggekeer en as meesterskilder begin naam maak. Nou was dit sy beurt om sy vriend Hans finansieel te help met sy studie.

Die twee het 'n blye weerontmoeting gehad, maar toe Albrecht na sy vriend se hande kyk, het hy trane in sy oë gekry. Toe eers kon jy werklik die omvang van sy vriend se opoffering begryp: die baie jare van brute handearbeid as grofsmid het Hans se sensitiewe hande gekneus en vol eelte gelaat. Sy hande was nou so grof dat dit nooit weer die fyn kwas van 'n skilder sou kon hanteer nie.

In nederige dankbetoon vir die jare van opoffering wat dit vir hom moontlik gemaak het om 'n groot skilder te word, het Albrecht Durer 'n portret geskilder van sy vriend Hans se beskadigde hande - die hande wat so hard en so getrou gewerk het, sodat Durer sy talent kon ontwikkel.

Die dag toe hy aan sy vriende die skildery van die "Biddende hande" oorhandig, het hy nooit geweet dat die simbool van vriendskap en opoffering eendag aan miljoene mense oor die wêreld heen bekend sou raak as 'n simbool van gebed nie.

~Oorgeneem van die internet~

[Klik HIER vir nog wonderlike inspirasieverhale.]

Tuesday, 1 April 2025

365 dae by Christina Kiddie KJSS


Liewe Kollega

'n Dankie uit my hart vir 'n jaar se saamwerk, ondersteuning, geduld, raad, aanmoediging en omgee! 

"Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle 'n toekoms gee, 'n verwagting." (Jer. 29:11)

Christelle

Seniors in aksie: Kuier, klets en kielie, die spiere-projek


Inligtingsessie: Donderdag, 10 April, 15h00-16h00
Somé Ferreira (Maatskaplike werker, Solidariteit Helpende Hand, Noord-Kaap-streek)

Raak op 'n volhoubare wyse by die senior burgers betrokke. Dag vir dag raak ons ouer en beweeg ons nader aan hierdie selfde situasie waarvan ons op hierdie stadium net lees.