Tuesday, 31 December 2024
Monday, 30 December 2024
Ruben sê: "Ouboetwees is nie maklik nie."
Die dinamika hier op die CK-werf het drasties verander. Almal se sintuie is nou Tommie-skerp.
Tommie is 'n boompie wat gebuig moet word, voordat slegte gewoontes kan kans kry om pos te vat. Ons moet kyk dat hy nie verdwaal nie, dat hy nie wegloop nie, dat hy nie baklei of ander terg nie, dat hy nie onnodig blaf nie, dat hy sy maats reg sal kies, dat hy besef wat is die gevare in en om die huis en nog hope ander dinge. Dis 'n verskriklike groot verantwoordelikheid om 'n ouboet te wees. En dan moet ek onthou dat ek eintlik die oë en ore van Tannie Christelle is, dat die sekuriteit van CK nog my belangrikste taak is en dan wil-wil my knieë knak onder die verantwoordelikheidsbesef.
Tommie se lekkerste tydverdryf is gate grawe. Baie gate. Orals. Daarom moet hy 24/7 dopgehou word, want om 'n gat onderdeur die heining te grawe, en stil-stil tussen neus en oë te verdwyn, is nie moeilik nie. En Tommie besef nie die gevare in die stad nie. Hy kan so maklik raakgery word, of ontvoer word of in 'n hondegeveg betrokke raak met die rondloper skolliehonde en die onderspit delf. Onthou, hy kom van Petrusburg af waar almal na almal se kinders, katte en honde kyk. En as jy jou dáár op 'n verkeerde plek bevind, word jy aangepraat, die lyne warm gebel en is jy spoedig terug onder jou ma se dak waar jy hoort.
Nie in die stad nie. Hier raak 'n mens onsigbaar en verdwyn baie maklik tussen die skare. Hier moet jy 'n doelbewuste besluit neem om nie die hoofstroom te volg nie. Dit is dus noodsaaklik om 'n mentor of 'n "voorloper" te hê. Ek wil nie net Tommie se ouboet wees nie, ek wil 'n voorbeeld vir hom stel. Ek wil nie vir hom vertel wat reg of verkeerd is nie, hy moet dit in my lewe sien ... in my elke dag se doen en late.
2025 gaan sy eie uitdagings aan my stel en Tannie Christelle se standaarde is hoog. Vir haar wil ek nooit teleurstel nie. Daarom is my grootste doel vir hierdie nuwe jaar om met soveel entoesiasme en blydskap te lewe dat ander jaloers gaan wees op my lewensvreugde, 'n voorbeeld vir Tommie te stel, en die beste sekuriteitsbeampte te wees wat ek kan wees.
Ek kan nog baie byvoeg en ook vir julle maats 'n paar wenke en gedagtes gee om julle aan die dink te sit, maar dit moet so 'n dag of drie oorstaan. 'n Mens moet besin oor wat jy met jou lewe wil doen en op watter manier 'n mens 'n positiewe bydrae kan maak. Daar is genoeg moeilikheid en probleme in die wêreld. 2025 kan nie net 'n herhaling van 2024 wees nie, dan het 'n mens mos niks geleer nie en ook nie emosioneel gegroei nie.
Ek groet eers - gaan 'n paar balle saam met Tommie skop en vir hom saamneem op my heininginspeksierondte. Hy moet sommer vroeg-vroeg al leer wat verantwoordelikheid is.
Ruben-groete tot 2025!
Sunday, 29 December 2024
Oudtroepies genooi na 'n heerlike kuieroggend
Belangstellendes kan hul naam, ID-nommer en die woord "Kimberley" in 'n WhatsApp-boodskap na 066-518-0402 stuur om hulle plek te bespreek!
Hope pryse is op die spel, geskenkpakkies gaan uitgedeel word asook 'n inkopiegeskenkbewys. 'n Spreker en musiek gaan deel van die kuieroggend uitmaak.
Moenie hierdie spesiale kuiergeleentheid misloop nie. Klik HIER om die berig in Noordkaap Bulletin te lees.
Onthou: Bespreek betyds!
Saturday, 28 December 2024
Kalahari Kersfees - Carl Gerber
Daar is nie ‘n Santa Claus nie. Daar’s ‘n Vader Krismis. Hy woon in die Kalahari en hy ry ‘n donkiekar met twee baster donkies. Die een se naam is Papjan en die ander een het nie ‘n naam nie. Hy hoef nie ‘n naam te hê nie, hy luister in elk geval nie. Vader Krismis jaag nie soos ‘n bliksemstraal nie, hy stop en gee sy donkies elke paar uur water. En hy laat hulle ook boesmangras vreet langs die pad.
Vader Krismis verstaan nie Kersbome wat van dennebome gemaak is nie. Hy hou van Kameeldoringbome. Hulle werk lekkerder, want elke seisoen sit hulle hul eie mooigoed op. Fluweel-sade.
Kinders wat stout was, kry nie presente nie. Maar in Kersfeestyd is alle kinders soet. Kinders mag in elk geval so ‘n klein bietjie stout wees, want dis wat kinders kinders maak. Maar hulle mag net stout wees todat ma sê “dis nou genoeg” en hulle is bietjie soeter as pa van die veld af terugkom.
Kalahari-kinders speel nie met iPads nie en hulle ken nie van Apps nie. Hulle speel met kruiptolletjies en bicycle rims. Die rykes speel met ‘n platkar wiel. Maar die rykes en armes hou van mekaar. Hulle deel speelgoed. En kos. En komberse.
Wanneer Kalahari kinders die aand voor Kersfees gaan slaap, gaan slaap hulle nie. Hulle lê wakker deur die langste nag van die jaar. Hulle probeer wakker bly om te sien wanneer Vader Krismis aankom, want niemand het hom nog ooit, ooit gesien nie. Maar wanneer dit baie laat raak, so teen tien-uur die aand, kan hulle nie meer nie, dan gooi Klaasvakie hulle sommer met twee hande vol rooisand.. en dan, die volgende oggend, het hulle weer nie vir Vader Krismis gesien nie. Hulle dink, Vader Krismis en Klaasvakie werk saam, want dit gebeur altyd.
Wanneer kinders op Kersdag wakker word is hulle baie opgewonde, want Vader Krismis was daar. Hy het dan vir elkeen so ‘n ietsie gelos om vir die volgende jaar mee te speel. Dogtertjies kry gewoontlik poppe. Wit poppe, want by die stad se winkels is daar baie meer wit poppe as bruin poppe. Wit poppe is ook baie keer op special. Seuntjies kry kaskarre en ketties. Met haasrek, wat ook al die pad van die stad af kom. Die koperasie hou dit aan.
Kinders en ma’s en pa’s trek op Kersoggend hulle mooiste en beste klere aan, want hulle gaan dan kerk toe om die storie van Josef en Maria te hoor en om Stille Nag te sing.
Na kerk gaan die kinders met hulle nuwe poppe en kaskarre en ketties speel, want ma gaan besig raak om baie kos te maak. Gewoontlik kom al die ooms en tannies en niggies en nefies ook kuier. Hulle bring ook hulle kos saam. En hulle ketties en poppe en kaskarre.
Op Kersfees kry die werfbrak ook ‘n geskenk. Hy kry ‘n skoongesnyde been en al die ekstra vet wat die ma’s van die vleis afsny. Die hond word baie keer siek op Kersfees.
Partykeer word pa’s ook siek op kersfees, maar dis ‘n ander soort van siek wees. Hulle raak eers snaaks en dan raak hulle aan die slaap.
Terwyl pa’s siek is en slaap, was ma’s die skottelgoed en dan gaan slaap hulle ook. Dan moet die kinders weer soet wees, anders kry hulle volgende jaar nie poppe en kaskarre en ketties nie.
Kinders hou baie van Kersfees, want hulle weet dat Kersfees daar is omdat Liewe Jesus almal liefhet en hulle eendag in die hemel wil hê.
Geseënde Kersfees!
Vader Krismis verstaan nie Kersbome wat van dennebome gemaak is nie. Hy hou van Kameeldoringbome. Hulle werk lekkerder, want elke seisoen sit hulle hul eie mooigoed op. Fluweel-sade.
Kinders wat stout was, kry nie presente nie. Maar in Kersfeestyd is alle kinders soet. Kinders mag in elk geval so ‘n klein bietjie stout wees, want dis wat kinders kinders maak. Maar hulle mag net stout wees todat ma sê “dis nou genoeg” en hulle is bietjie soeter as pa van die veld af terugkom.
Kalahari-kinders speel nie met iPads nie en hulle ken nie van Apps nie. Hulle speel met kruiptolletjies en bicycle rims. Die rykes speel met ‘n platkar wiel. Maar die rykes en armes hou van mekaar. Hulle deel speelgoed. En kos. En komberse.
Wanneer Kalahari kinders die aand voor Kersfees gaan slaap, gaan slaap hulle nie. Hulle lê wakker deur die langste nag van die jaar. Hulle probeer wakker bly om te sien wanneer Vader Krismis aankom, want niemand het hom nog ooit, ooit gesien nie. Maar wanneer dit baie laat raak, so teen tien-uur die aand, kan hulle nie meer nie, dan gooi Klaasvakie hulle sommer met twee hande vol rooisand.. en dan, die volgende oggend, het hulle weer nie vir Vader Krismis gesien nie. Hulle dink, Vader Krismis en Klaasvakie werk saam, want dit gebeur altyd.
Wanneer kinders op Kersdag wakker word is hulle baie opgewonde, want Vader Krismis was daar. Hy het dan vir elkeen so ‘n ietsie gelos om vir die volgende jaar mee te speel. Dogtertjies kry gewoontlik poppe. Wit poppe, want by die stad se winkels is daar baie meer wit poppe as bruin poppe. Wit poppe is ook baie keer op special. Seuntjies kry kaskarre en ketties. Met haasrek, wat ook al die pad van die stad af kom. Die koperasie hou dit aan.
Kinders en ma’s en pa’s trek op Kersoggend hulle mooiste en beste klere aan, want hulle gaan dan kerk toe om die storie van Josef en Maria te hoor en om Stille Nag te sing.
Na kerk gaan die kinders met hulle nuwe poppe en kaskarre en ketties speel, want ma gaan besig raak om baie kos te maak. Gewoontlik kom al die ooms en tannies en niggies en nefies ook kuier. Hulle bring ook hulle kos saam. En hulle ketties en poppe en kaskarre.
Op Kersfees kry die werfbrak ook ‘n geskenk. Hy kry ‘n skoongesnyde been en al die ekstra vet wat die ma’s van die vleis afsny. Die hond word baie keer siek op Kersfees.
Partykeer word pa’s ook siek op kersfees, maar dis ‘n ander soort van siek wees. Hulle raak eers snaaks en dan raak hulle aan die slaap.
Terwyl pa’s siek is en slaap, was ma’s die skottelgoed en dan gaan slaap hulle ook. Dan moet die kinders weer soet wees, anders kry hulle volgende jaar nie poppe en kaskarre en ketties nie.
Kinders hou baie van Kersfees, want hulle weet dat Kersfees daar is omdat Liewe Jesus almal liefhet en hulle eendag in die hemel wil hê.
Geseënde Kersfees!
[Dankie, Christelle, vir die deel.]
Friday, 27 December 2024
Thursday, 26 December 2024
Een minuut storie: Jy kies jou geluk
Ek het alles gehad ... 'n Huis, karre en duur klere. Ek was ryk ... baie ryk ... skatryk! Almal wou my vriend wees ... tot die dag waarop ek alles verloor het.
Die mense wat ek gedink het my ware vriende was, het my in die donkerste uur van my lewe op die heel donkerste plek van my lewe gelos. Op daardie stadium was ek nie net brandarm nie, maar ook skielik stoksielalleen. En ek het tot die besef gekom dat hoe donkerder jou dae word, hoe minder word jou vriende.
Ek het van die heel beste deel van die stad getrek na die heel slegste buurt in die stad ... mense het na die krotbuurt verwys. Dit het gestink. Die reuk het oral om die geboue gehang ... Die reuk van riool, papier en plastiek wat brand, dagga, ou kos en kool ... sommer net een groot bedompige wolk wat die woonbuurt omgewe. Kakkerlakke was orals. Rotte het tussen die swart sakke rondgeskarrel, maar ek was te moeg om regtig aandag hieraan te gee.
Ek het nie geld nie. Niks. Nie 'n sent op my naam nie. Ek het besef dat ek iewers 'n los werkie sal moet kry. Nie een mens wat ek in my dae van oorvloed gehelp het, gaan my help nie. Dit is die rede hoekom ek by die kinderhuis gaan werk het, want hulle het 'n gratis bord kos gegee en 'n klein donasie vir die dagwerkers. Om 'n plek aan die gang te hou met 157 kinders, het sy eie uitdagings gehad. Ek het geen geld of kos gehad nie, dit was my onmiddellike uitdaging - gevolglik het ek het geen keuse gehad as om daar te gaan werk nie.
Ek het die hoof van die kinderhuis ontmoet. Melissa ... 'n lang, skraal en mooi meisie, met groen oë wat eerder in die modewêreld hoort as hier.
Ek het elke dag teruggegaan om in die kombuis te werk en die skottelgoed te was. Elke dag voel ek ellendiger as die vorige dag, moeg na siel en liggaam. Ek sal nie vir lank hier kan werk nie, daar is geen kans vir vooruitgang nie en ek het sekuriteit só dringend nodig dat ek ander planne sal moet maak vir vorentoe. Die krotwoonbuurt is die eerste ding op my lysie wat moet verander.
Ek het vir Melissa dopgehou. Sy het altyd geglimlag as sy een van die kinders sien of met hulle 'n gesprek aanknoop. Sy het die kinderhuis haar roeping genoem - maar ek het haar nie geglo nie.
Een Saterdagaand, nadat ek al die skottelgoed gewas het en die kombuis aan die kant gemaak het, sit ek vir 'n wyle met haar en gesels. Ek wou by haar weet hoekom sy nie iets anders met haar lewe doen nie. Daar is 'n hele wêreld wat lê en wag vir jou talente. Hoekom is hierdie kinders só belangrik vir jou? Jy is 'n mooi mens, wat baie geld in die modewêreld kan maak. Hoekom kies jy hierdie plek om jou lewe weg te gooi?
Na 'n paar oomblikke van stilte het sy die volgende gesê: "Elke mens maak op 'n stadium in sy lewe 'n keuse. Vir 'n loopbaan verdien jy 'n salaris, maar nie noodwendig geluk nie. 'n Roeping is die keuse wat jou gelukkig maak. Nie alles in die lewe gaan oor geld en roem nie."
Daardie aand het ek die grootste les geleer. Ek was ongelukkig, want ek het gedink dat geld geluk kan koop.
My lewe sal beter wees ... as ek ander se lewe beter kan maak!
[Lefa Mofokeng 2015]
Wat het ek uit hierdie storie geleer?
Innerlike geluk kan nie met geld gekoop word nie. Geld waarborg ook nie 'n gelukkige lewe nie.
Jy help jouself as jy ander help.
Wednesday, 25 December 2024
Ruben se blink Kersfeesster
Hier is my beloofde brief waarin ek my superduper goeie nuus met julle wil deel. Geeneen van vanjaar se hoogtepunte (en daar was baie) kan kers vashou by Vrydag, die 13e Desember nie. Eers kon ek my oë nie glo nie en baie versigtig dog ek dis 'n kuiergas, want kuiergaste kom en gaan, maar toe Tannie Christelle vir my kyk en knik, toe weet ek hierdie kuiergas het gekom om te bly.
Met drie bokspringe, wou ek dit aan die wêreld uitblaf, maar Tannie Christelle het gesê dat dit eintlik my Kerspresent is wat 'n bietjie vroeër gekom het, sodat ons kan sien of hy sal aanpas. Maar ek moet nie nou al vir almal vertel dat ek my Kerspresent gekry het nie - dit kan dalk groot ongelukkigheid tot gevolg hê! So my verstand het my tot stilswye gemaan, as my hart wou hand uitruk.
Maats, my borskas het dubbeld die grootte geswel van vreugde en trots. Ek kon glad nie my kraaghemde dra nie, want 'n trotse man, sukkel om sy hemp se knope toe te kry. Ek voel asof ek sweef en geen werk was die afgelope twee weke moeite nie!
Ja, Tommie het Vrydag, die 13e, in my lewe en in my hart ingestap!
Bitter groot was my blydskap toe ek hoor dat ons nie net van dieselfde dorp af kom nie, maar dat ons bloedfamilie is. Ons is volbloed Vrystaters, Petrusburgers, maar word in die Noord-Kaap getoë.
Ek is nou 'n ouboet! Tommie is my eerste prioriteit. Genugtig maats, skielik het my verantwoordelikheidsmeter die hoogte ingeskiet. Besef julle dat ons mekaar se prioriteite is? Dat ons moet uitkyk vir mekaar, mekaar moet bemoedig, mekaar moet aanmoedig en sorg dat ons die spieël is waarin die ander een na sy of haar weerkaatsing kan kyk?
My eerste gedagtes in die oggend is Tommie en in die aand as ek my moeë oë toemaak, is dit met 'n glimlag, want Tommie was deel van my besige dag!
Tommie was vreemd en onseker en ek onthou my eerste dag by Christina Kiddie soos gister. Bangerig - vreemd - alleen en half verlore - en julle outjies het my dadelik ingetrek, en my 'n volbloed Christina Kiddie-inwoner gemaak - want elkeen van julle onthou julle eerste dag soos gister!
Ons is die Christina Kiddie-familie - ongeag - en met hierdie wete het ek Tommie se skaduwee geword. Voorwaarts ontdek hy sy nuwe wêreld, nuuskierig toets hy grense en tandeknersend laat ek alles net tot op 'n punt toe voordat ek voel ek moet ingryp. Saam met vryheid, kom verantwoordelikheid. So het julle outjies my leer ken. Ons moet mekaar voortdurend motiveer, aktiveer, en werklik inspireer, maar beslis ook dissiplineer.
Die wêreld lê oop voor Tommie, daar is soveel leergeleenthede en dis ons elkeen se plig om goeie spore in Tommie se lewe te trap.
Ons praat gou weer. En intussen moet ons seker maak dat ons gekalibreer is vir 2025.
Ruben-groete!
Kersfeeswense
Maats, onthou om vandag vir elkeen te smile wat jy raakloop, 'n ekstra drukkie vir elke tannie te gee, veral hulle wat vandag in die kombuis moet werk, sodat julle lekker kan eet en Ruben en Tommie se kop 'n Kersfeeskrappie te gee - hierdie is hartspresente wat net werk as 'n mens dit uitdeel.
Kersdag is drukkiedag!
Rosetta se goeie wense:
Mag ons die vreugde van die goeie nuus, hierdie Kerstyd, sigbaar maak.
Mag die vreugde van Kersfees vir ons elkeen ’n waarheid wees.
Tuesday, 24 December 2024
Monday, 23 December 2024
Sunday, 22 December 2024
Dis die laaste Sondag voor Kersfees en my wense vir jou is ...
Mag die wind slegs jou hare deurmekaar woel, maar nie jou gees omkrap nie.
Mag die son jou nie skroei nie, maar slegs warmte skenk, ook in jou hart.
As die reën op jou val, voel geseënd.
As jy guns en gawes ontvang, neem dit met dankbaarheid en nederigheid.
As jy vriendskap ervaar, koester dit.
As jy liefde ervaar, troetel dit.
Mag jou bekers van geloof, hoop en liefde altyd gevul bly.
Mag die geskenke en lesse wat jy van die lewe ontvang, groter wees as dié wat met geld gekoop kan word.
Mag jy altyd bewus wees van die kosbaarheid en kortstondigheid van tyd.
Mag jy veilig loop en ry op die paaie waar jy gaan.
Mag jou opdraandes nie te steil wees nie, en mag jou 'bagasie' nie te swaar word nie.
Mag die lewe jou met 'n sagte hand aanraak.
Mag jy altyd ,n bewustheid, empatie en begrip hê vir en van die omstandighede van ander.
Mag jy vroegdag opstaan en saans gaan slaap met 'n hart vol dankbaarheid.
Mag die son jou nie skroei nie, maar slegs warmte skenk, ook in jou hart.
As die reën op jou val, voel geseënd.
As jy guns en gawes ontvang, neem dit met dankbaarheid en nederigheid.
As jy vriendskap ervaar, koester dit.
As jy liefde ervaar, troetel dit.
Mag jou bekers van geloof, hoop en liefde altyd gevul bly.
Mag die geskenke en lesse wat jy van die lewe ontvang, groter wees as dié wat met geld gekoop kan word.
Mag jy altyd bewus wees van die kosbaarheid en kortstondigheid van tyd.
Mag jy veilig loop en ry op die paaie waar jy gaan.
Mag jou opdraandes nie te steil wees nie, en mag jou 'bagasie' nie te swaar word nie.
Mag die lewe jou met 'n sagte hand aanraak.
Mag jy altyd ,n bewustheid, empatie en begrip hê vir en van die omstandighede van ander.
Mag jy vroegdag opstaan en saans gaan slaap met 'n hart vol dankbaarheid.
Mag jy die ware Christus-vrede ervaar.
Saturday, 21 December 2024
Friday, 20 December 2024
Dankie, Mediclinic Gariep Hospitaal
Mediclinic is vanjaar 10 jaar oud en toe kry Christina Kiddie die hééérlikste en grootste verjaardagkoek wat hulle nog gesien het. Dit was 'n reuse koek ... vergelyk dit met grootte van die waatlemoen in die agtergrond.
Dankie, Mediclinic, dat julle Christina Kiddie-inwoners se dag gemaak het. Dit was vir hulle baie spesiaal!
CK-boodskap: "Mediclinic, baie geluk met die afgelope 10 jaar wat julle wonderlike diens aan die gemeenskap van Kimberley en die Noord-Kaap gelewer het. Mag die jare wat kom, vol voorspoed en seën wees! Ons eet 'n snytjie koek op julle voorspoed!"
Thursday, 19 December 2024
Binnekringnuus: Opgedress vir Dinsdag se modeparade
Dankie, Tannie Anoniem
Dankie!
Dankie!! Dankie!!!
Ons kan nie wêreld om ons verander nie, maar ons kan die wêreld van iemand om
ons verander. En dit is presies wat Tannie Anoniem gedoen het. Sy het 26 bakke
koekies afgelaai by Christina Kiddie. ’n Luuksheid wat enige kinderhart begeer.
’n Bak koekies per kind beteken dat die soet lekker nie gou sal opraak nie en
dat dit nie met iemand gedeel hoef te word nie.
Dankie vir die
Kerstyd-mededeelsaamheid en
dat Kersfees vir u ’n werkwoord is!
'n Spesiale DANKIE, Beefmaster!!
Kersvader daag in verskillende gedaantes by Christina Kiddie op. Vandag het Kersvader opgedaag vermom as Beefmaster!! Ons Kerskous loop oor! Dankie dat julle ten spyte van 'n besige Kerstyd, vir Christina Kiddie op julle uitreiklysie het. Ons kan met vrymoedigheid die lesers aanraai om te gaan snuffel tussen al die spesiale Kersaanbiedings by Beefmaster.
Dankie, Kersvaders, vir Christina Kiddie se Kersgeskenk!
Een minuut storie: Die hemel se poskantoor
‘n Engel was besig om ‘n nuut gearriveerde Christen ‘n toer van die hemel te gee. Die twee het langs mekaar ingestap by ‘n groot poskantoor gevul met ander engele.
Die Engel het met die Christen gestop by die eerste afdeling: “Hierdie is die ontvangsafdeling. Hier word al die gebedsversoeke aan God ontvang”.
Die Christen het gesien dat hierdie afdeling baie besig is. Daar was engele besig om te sorteer deur blaaie en blaaie versoeke van mense regoor die wêreld.
Hulle het verder gestap en by die volgende afdeling gekom. Die Engel het aan die Christen vertel dat dit die verpakkings-en-aflewering afdeling is. “Hierdie is die seeninge van God in antwoord op die gebede en hier word dit verpak en afgesend aan die wat daarvoor gebid het op die aarde.
Die Christen het gesien hoe besig dit daar is. Daar was baie engele wat in daardie vertrek
gewerk het besig om die talryke seeninge van God te verpak om afgelewer te word.
Uiteindelik, in die verste hoek was ‘n kamer en hulle het gestop by daardie afdeling. Tot die Christen se verbasing, was daar net een engel en hy was besig om niks te doen.
“Hierdie kamer is die Dankie sê kamer,” het die Engel die Christen vertel.
“Hoe is dit dat hier niks aangaan nie?” het die Christen gevra.
“Dit is die hartseer ding,” het die Engel geantwoord.
“Nadat mense op die aarde die antwoorde op gebed en seëninge ontvang het waarvoor hulle gevra het, sê baie min van hulle dankie vir God.”
“Hoe wys ons dan ons dankbaarheid?” het die Christen gevra.
“Eenvoudig,” het die Engel geantwoord. “Jy sê net dankie, God.”
Wees altyd dankbaar.
Wednesday, 18 December 2024
Tuesday, 17 December 2024
'n Spesiale DANKIE, Malu!!
Malu is 'n familiebesigheid wat met hart en siel die ekstra myl loop! Dankie vir julle omgeeharte en dat Christina Kiddie op julle uitreiklysie is. Ons adverteer Malu met die grootste liefde en vrymoedigheid. Gaan maak voor Kersfees 'n draai by Malu wat die kuns verstaan om 'n begroting te laat klop. Ons plaas ook hulle besigheidsure hier!!
Dankie vir Christina Kiddie se Kersgeskenk!
Monday, 16 December 2024
Sunday, 15 December 2024
Ruben is nie skaam om sy tekortkominge in die oë te kyk nie. Hy gaan daaraan werk!
Ek het regtig baie lank terug vir julle geskryf. Ek voel skoon skuldig, maar met al my verpligtinge hier op die terrein en die eindeksamen, het ek werklik my pote volgehad met ongesiene toesig en natuurlik veiligheidswerk.
Gelukkig kan ek darem rapporteer dat ons almal kan asemhaal na 'n spanningsvolle en vinnige vierde kwartaal en dat ons nou net kan vakansie hou.
Ek was Donderdag so opgewonde dat jy met my kan toor. My rede was die blou swembad, voor die hoof se kantoor. Die een wat toegegrendel is en waaroor 'n mens nie eens kan klim vir 'n vinnige afkoelswem nie. Ek hou hierdie swembad al 'n hele klompie maande dop en wonder hoe dit sal voel om my pote nat te maak. Maar ek het nog nooit die geleentheid gekry nie. As die kinders swem, is ek gewoonlik op hekdiens en dan hoor ek net hoe almal gil en jil en ek wonder of ek ook só plesierig sal voel.
Wel, Donderdag, die 12e, was my kalenderkringetjiedag! Tannie Christelle het besluit dat ek saam met die kinders kan speel, baljaar en swem. Ek dink die hittegolf het die swembad se hek oopgedwing en onder die wakende oog van ons ma, kon ek nie wag om in te spring nie. En daar moet ek tot my bittere skande uitvind dat ek effens versigtig vir die water is. Ek kan nie spontaan swem soos wat ek verwag het nie.
Miskien het dit iets met my grootwordjare te doen. Julle moet weet ek kom van Petrusburg se omgewing en het my verstand in die dorre Noord-Kaap gekry. Dit beteken water is nie iets waarmee of waarin jy speel nie. Dit is kosbaarder as korale in hierdie droë areas. En dan moet ek verder bieg: Die veearts het vir Tannie Christelle gesê ek doen duidelik te min oefeninge en as ek volgende keer vir my verpligte besoek by haar 'n draai maak, wil sy 'n verskil op die skaal sien. My veerkragtigheid waarmee ek laas somer so kon spog, het hierdie somer verander in 'n hoop minder beweeglike spiere. En treetjie vir treetjie is ek die swembad in - my verskoning - ek wil nie golwe in die water maak terwyl die kleintjies so lekker baljaar nie. Ek het my eerste draaie in die koel blou waters gemaak, maar dit het nie die bekoring ingehou wat ek verwag het nie. Ek het gedink ek sal soos Eno's borrel en bruis, maar helaas was ek eintlik 'n besadigde Ruben wat net sy lyf so effens natgemaak het. Net daar op die swembadtrappie het ek besluit om minder onder die koeltebome te lê, minder draaie by die kombuis te maak, terwyl ek so uitbundig vir die personeel knipoog en my stert swaai en met groter ywer my patrolliewerk te doen - dubbeld die hoeveelheid, want dit gaan sommer ook nou my fiksheidsoefeninge wees. Fiksheid van been, kan dalk net my swempogings verbeter.
Ek het gelukkig 'n video waarop my historiese wateroomblik vasgevang is. Ek gaan dit nie op FB sit nie. As 'n lewenscoach is ek voortdurend op soek na temas waaroor ek met die jongmense kan praat en as ek self 'n VOOR- en 'n NA-ervaring het, kan ek mos uit ondervinding praat. Ek gaan die video volgende jaar vir julle wys, want Donderdag was wel my eerste swem, maar nie my laaste swem nie.
Die kringetjie op my kalender is om te herinner aan my opgewondenheid, my intense teleurstelling en my vasberade voorneme dat swem my nie gaan wen nie. Ek sal julle op hoogte hou van my vordering.
Ek groet tot volgende week, wanneer ek my breë-bors-nuus met julle gaan deel. En daarvan het ek heelwat foto's. Raai gerus! Ons praat weer.
Ruben-groete!
Subscribe to:
Posts (Atom)