My vrou was besig om haar lisensie by die munisipale verkeerskantoor te hernu, toe die klerk vra watter tipe beroep sy beoefen.
Onseker hoe om die vraag te beantwoord, huiwer sy ... Wat ek bedoel,” sê die klerk, “Het u 'n werk of is u net 'n ...?”
Natuurlik het ek 'n werk,” sê my vrou blitsig. "Ek is 'n ma.”
Ons lys nie ma's as 'n beroep nie, maar huisvrou sal goed wees, stel die klerk met empatie voor.
Sy het totaal en al van die storie vergeet tot eendag, toe sy haar weer in dieselfde situasie bevind het, dié keer by die stadsraad.
Die klerk het na 'n professionele vrou gelyk, selfversekerd, bekwaam, en seker in besit van een of ander hoë en belangrike titel, iets soos "Interrogasie Beampte" of Stadsregistrateur’.
"Wat is u beroep?" het sy belangrik-ondersoekend gevra.
Wat my vrou dit laat sê het, weet ek nie, maar die woorde het net eenvoudig by haar mond uitgekom:
Ek is navorsings-assosiaat in die studieveld van Kinderontwikkeling en Arbeidsverhoudinge.”
Die klerk vries skielik, hou op met skryf en kyk op na my vrou asof sy haar nie reg gehoor het nie.
Sy herhaal toe die titel, stadig en met klem op die belangrikste woorde, en staar met verbasing hoe haar verklaring neergeskryf word in donker, swart ink op die beampte se vraelys.
Mag ek vra, sê die klerk met nuwe belangstelling, wat presies doen u in u veld?”
Rustig, sonder enige teken van verbouereerdheid in haar stem, het sy haarself die vraag hoor antwoord: "Ek het ‘n voortdurende program van navorsing, (watter ma het nie?) in die laboratorium en in die veld." (normaalweg sou sy sê binnenshuis en buitenshuis).
"Ek is besig met my Meesters, (eerste die Here en dan die hele familie) en ek het alreeds vier toekennings (almal dogters). Hierdie werk is natuurlik een van die mees veeleisende beroepe in die geesteswetenskappe." (enige ma wat wil stry?)
"Ek werk gereeld 14 ure per dag, (24 is meestal die geval). Maar die werk is 'n groter uitdaging as die meeste alledaagse beroepe en die vergoeding is eerder die satisfaksie wat ek daaruit kry, as die geld.”
Daar was 'n duidelike toon van respek in die klerk se stem nadat sy die vraelys verder voltooi het, opgestaan, en my vrou met die hoogste agting persoonlik tot by die deur vergesel het.
Toe my vrou by die huis kom, opgeruimd met haar nuwe skitterende beroep, word sy gegroet deur haar laboratorium-assistente: 13, 7 en 3 jaar oud.
In die slaapkamer kon sy ons nuwe eksperimentele model (6 maande oud) in die kinderontwikkelingsprogram hoor, wat besig is om 'n nuwe vokale patroon uit te toets.
Sedertdien het sy 'n konstante behaaglike glimlag op haar gesig, gevoed deur haar oorwinning oor die burokrasie. En sy is nou op die amptelike munisipale rekords vasgelê as iemand wat meer uitmuntend en onmisbaar aan die mensdom is as net nog 'n Ma’.
Moederskap! Wat 'n wonderlike beroep! En om te dink ek het my vrou gehelp om daardie titel te verwerf. Ek is sommer lus en skryf dit op 'n goue bord op ons slaapkamerdeur!
Maar nou wonder ek: Sal oumas dan dalk senior navorsings-assosiate in die studieveld van Kinderontwikkeling en Arbeidsverhoudinge wees?
En oumas wat inbly? Uitvoerende senior navorsings-assosiate?
Wat van tannies wat gereeld kom kuier? Assosiaat-navorsings-assistente?
[Onbekend]
No comments:
Post a Comment