Wednesday 28 November 2018

Badisa-persverklaring: 16 dae van aktivisme

16-dae-des-16

16 DAE VAN AKTIVISME – DIE BELEGGING Lê IN VOORKOMING
Daar kan geen beter openbaring van ‘n samelewing se siel wees as die manier waarop hy sy kinders behandel nie. – Nelson Mandela

Dit is reeds 22 jaar sedert ons eerste demokratiese verkiesing en steeds is die kinders van Suid-Afrika onderworpe aan geweld in hul huise, skole en gemeenskappe wat ‘n lewenslange sosiale en ekonomiese koste vir ons land tot gevolg het.

Met die fokus op die 16 Dae van Aktivisme Veldtog vir Geen Geweld teenoor Vouens en Kinders hierdie week, wil Badisa die feit beklemtoon dat geweld aangeleerde gedrag is wat voorkom kan word.

Badisa, ‘n maatskaplike diensorganisasie wat professionele maatskaplike dienste lewer, het in hulle onlangse jaarverslag melding gemaak van die groeiende probleem van geweld teen kinders. Badisa lewer kinderbeskermingsdienste onder die vaandel van die Kinderwet en vind al hoe meer dat kinders se blootstelling aan ‘n geweldadige samelewing reeds vanaf ’n baie jong ouderdom in hul eie gemeenskappe en gesinne begin. Hierdie blootstelling word vererger deur die geweld wat by skole plaas vind en die feit dat die meeste van die geweldsmisdade op ons kinders deur hulle primêre versorgers gepleeg word.

Gedurende die jaar onder oorsig het Badisa kinderbeskermings- en intervensiedienste aan 26 719 kinders in die Wes-, Suid- en Oos-Kaap gelewer.

Badisa se verslag dui verder daarop dat ons land se huidige kinderbeskermingstelsel weens ’n gebrek aan voldoende finansiële en menslike hulpbronne nie in staat is om in die hoë voorkoms van kinderverwaarlosing en -mishandeling te voorsien nie. Die grootste bydraende faktor is dat kinderbeskermingsdienste tans op reaktiewe dienslewering gefokus is, terwyl dit vroeë intervensie is wat werklik benodig word.

Volgens Ronel van Zyl, Direkteur van Maatskaplike Dienste by Badisa, dra die woede, onverdraagsaamheid en negatiwiteit wat tans in ons land heers, tot die geweld teenoor ons kinders by, juis omdat hulle weerlose en maklike teikens is. Die impak van hierdie geweld strek ook baie verder as die sigbare letsels en lei tot aggressiewe gedrag en verskeie sosiale aanpassingsprobleme later in die kind se lewe. Die psigo-sosiale gevolge dra ook dikwels daartoe by dat hierdie kinders onbetroubare werknemers word, deelneem aan kriminele aktiwiteite en die siklus met hul eie kinders herhaal. Om ‘n kind in pleegsorg te plaas, moet altyd die laaste uitweg wees aangesien dit ook die duurste opsie is. Voorkoming is altyd beter as genesing.

Die rol van die samelewing

Badisa wil gemeenskappe bewus maak daarvan dat geweld teen kinders en vroue nié ‘n regerings- of kriminele aangeleentheid is nie, maar ’n samelewingsprobleem, en die onvermoë van gemeenskappe om dit so in te sien dra dus by tot die probleem. Organisasies soos Badisa, wat ’n geregistreerde NPO is, het talle uitdagings om genoegsame befondsing te bekom. Besighede wat in voorkomingsdienste investeer, help om te voorkom dat kinders in die eerste plek seer kry. ’n Multi-dimensionele benadering versterk dus die proaktiewe faktore.

Die volgende voorstelle word deur die South African Child Gauge aanbeveel:
Ouerskapsprogramme wat reeds gedurende swangerskap begin, gevolg deur ’n reeks tuisbesoeke na geboorte om weerlose moeders asook vaders te ondersteun.
Onderwyseropleiding ten einde ’n veilige skoolomgewing te skep wat proaktief kan teenoor boelies en ander geweldsmisdade kan optree.
Veilige en ondersteunende omgewings vir kinders na skool.
Mentorskapprogramme vir jong volwassenes.
Programme wat geslagsrolle transformeer en kommunikasie- en konflikresolusievaardighede leer.
Veldtogte in die media.
Beleggings in gemeenskapsgebaseerde fasiliteite wat veiligheid bevorder
Wetgewing, beleid, aksieplanne, werkskepping en ekonomiese geleenthede.
Versprei die boodskap op sosiale media deur #16days #WorthYourWealth te gebruik.’n 

Voorbeeld van vroeë intervensie dienste word suksesvol deur Badisa se Magdalene tehuis gedemonstreer. Hulle volg die “Eerste Duisend Dae” benadering en voorsien opleiding en ander ondersteuning aan weerlose, swanger vrouens wat aan gevaar blootgestel is weens hul sosio-ekonomiese omstandighede. Hierdie tipe voorkomingsdienste kan tot gesonder swangerskappe, beter ouerskapsvaardighede asook lewens- en entrepeneurskapsvaardighede bydra en sluit ook aannemingsberading in.

Die 16 Dae van Aktivisme teen Geweld teenoor Vroue en Kinders is ’n internasionale bewusmakingsveldtog. Dit vind elke jaar tussen 25 November en 10 Desember plaas. Vir meer inligting oor Badisa, om jou dienste aan te bied of ’n donasie te maak, besoek gerus www.badisa.org.za of stuur ’n e-pos aan info@badisa.org.za
Vir meer inligting, kontak Annemarie Bezuidenhout per e-pos abezuidenhout@badisa.org.za of by 083 708 2049.

Dankie dat ons hierdie artikel en inligting kan deel - dis 'n wêreldwye probleem!

[Bron: https://kaapkerk.co.za/badisa-persverklaring-16-dae-van-aktivisme/]

No comments:

Post a Comment