Sunday, 26 October 2025

Ruben praat oor hoe jy teenspoed kan hanteer

Liewe Maats

Ek skryf eintlik hierdie brief vir myself, want ek kry ook maar baie hobbels, hekkies en heuwels langs my lewenspad wat ek moet hanteer, sorteer, elimineer en dan tevrede met my besluit moet saamleef - goed of sleg.

Kom ek vertel vir julle 'n storie en dan besluit jyself hoe jy teenspoed wil hanteer:

’n Tienerdogter kla teenoor haar pa oor haar lewe en hoe moeilik dit vir haar is. Sy het nie geweet hoe sy dit gaan maak nie en sy voel lus om moed op te gee oor al die teenspoed wat sy ervaar. Sy was moeg om te sukkel en te veg vir alles. Net sodra die een probleem opgelos is, dan duik die volgende een op. Haar punte is net-net nie hoog genoeg nie. Sy kort net 1% om onder die top 10 te wees. Sy is 'n reserwe vir die eerste netbalspan, maar speel op hierdie stadium vir die tweede span. Dit voel vir haar dat haar beste haar net-net laat uitval. 

Haar pa, ’n sjef by The Heights Restaurant & Bistro in Kimberley, neem haar na sy kombuis en plaas drie kastrolle met water in op die stoof. Sommer gou-gou kook die water in die kastrolle.

In die een kastrol plaas haar pa wortels, in die ander eiers en in die laaste een gemaalde koffiebone. Hy laat die kastrolle met bestanddele verder kook sonder om ’n woord te sê.

Die dogter byt haar onderlip en wonder ongeduldig wat haar pa besig was om te maak. Sy het probleme en hy is besig om een of ander vreemde konkoksie aan mekaar te slaan. Eintlik wil sy net 'n vinnige antwoord hê, want kosbare tyd gaan nou verlore en sy het regtig nie lus vir 'n preek nie. 

Na ongeveer ’n halfuur stap hy na die stoof en haal die drie kastrolle van die stoof af. Hy haal die wortels uit die kastrol en sit dit in ’n opskepbak. Hy haal die eiers uit die kastrol en sit hulle in ’n ander opskepbak. Hy neem ’n opskeplepel en versigtig skep hy van die koffie in 'n klein koppie.

Hy draai na sy dogter en vra: “My Meisiekind, wat sien jy?”

Selfvoldaan en effens geïrriteerd  antwoord sy: “Wortels, eiers en koffie.”

Hy vra haar om aan die wortels te vat en te voel hoe hulle voel. Sy maak so en sê dat hulle sag is. Hy vra haar toe om een van die eiers af te dop. Nadat al die doppe af is, sê sy vir haar pa dat die eier hard is. Toe vra hy haar om ’n slukkie van die koffie te neem. Sy trek haar gesig op ’n plooi nadat sy die vreeslike sterk koffie proe. Sy sê vir haar pa dat dit sterk en bitter is, maar dit laat tog 'n aangename smaak in haar mond. 

Sy is nou regtig nuuskierig en vra: “Wat beteken dit nou alles, Pa?”

Hy begin verduidelik. “Elkeen van die drie het dieselfde teenspoed ervaar, 98 grade Celsius kokende water. Maar ten spyte daarvan het elkeen van hulle anders reageer.”

“Die wortels was sterk, hard en onbuigsaam toe ek dit in die kastrol met warm water gooi. Maar nadat dit deur die kookwater is, het dit sag en swak geword.”

“Die eiers was breekbaar en broos en 'n rou eier moet 'n mens versigtig hanteer. ’n Dun buitelaag, die dop, bedek die vloeibare inhoud. Maar na die kokende water het die inhoud hard geword.”

“Maar die koffiebone daarenteen, is uitsonderlik. Na die kookwaterbehandeling het dit sterker en ryker geword.”

“Watter een is jy?” vra hy vir sy dogter, terwyl hy haar liefdevol en met baie begrip aankyk.

Wanneer teenspoed klop aan jou deur, hoe reageer jy?

Is jy ’n wortel, ’n eier of ’n koffieboon?

Is jy die wortel wat sterk lyk, maar met die geringste teken van pyn en teenspoed verwelk jy en word sag sonder krag?

Of is jy die eier, wat begin het met ’n sagte hart en vervulde gees? Maar na ’n slegte rapport, ’n gebreekte been wat jou uit die span uithou, 'n beste maat wat agter jou rug stories opmaak en jou geheime wat jy met haar of hom gedeel het, uitlap aan 'n ieder en 'n elk, die boelie jou weer verneder het of jou pa wat weer dronk by die huis aangekom het, word jy hard. Jou buitekant lyk dieselfde, maar diep binne is jy so verbitterd en hard met ’n ongevoelige gees. Jy is 'n moeilike een om mee saam te werk en niemand wil met jou maats wees nie.

Of is jy soos die koffieboon? Die koffieboon bereik nie sy optimale smaak en aroma totdat dit aan 98 grade Celsius blootgestel is nie. Wanneer die water warmer word, verbeter die smaak. Wanneer dinge al hoe erger word, hoe beter word jy. Wanneer mense jou die meeste benadeel, verhoog jou insette en die vlak waarop jy werk. Wanneer jou uur die donkerste is, verhoog jou aanbidding van ons Almagtige Koning tot ’n nuwe heerlike vlak.

Hoe hanteer jy vandag teenspoed? 

Maats, hierdie storie het my aan die dink gesit. Ek het besluit dat as my probleme my wil oorweldig, gaan ek my meet teen die inhoud van die drie kastrolle. Ek gaan nie moed opgee nie, maar gaan besluit of ek soos 'n wortel of 'n eier of 'n koffieboon optree.   

Koffie-groete uit Kimberley.


Saturday, 25 October 2025

Ruben-humor: Tannie Liz se ongewone raad

[Hierdie wysheid kom uit my Petrusburg-dae uit!] 

* Leer uit ander mense se foute. 
Jy gaan nie lank genoeg lewe om al die foute self te maak nie.

* As jy al jou huiswerk gedoen het, gaan die onderwyser nie daarna kyk nie.
Doen dit in elk geval elke dag.

* As die skoen jou pas, is dit onbekostigbaar.

* Lewe elke dag so dat die mense eerder jou handtekening as jou vingerafdrukke wil hê.

* As jou skip eendag inkom, sal selfs onbekende mense jou help aflaai.

Thursday, 23 October 2025

Ruben se een minuut storie: Die dwase dief


Baie baie jare terug, was daar 'n baie ryk handelaar wat in 'n groot paleis in Akbar in Indië gebly het. Hierdie man het 'n groot personeel gehad wat vir hom gewerk het. Die ryk man het op 'n dag besef dat een van sy personeellede van hom gesteel het.

Hy besluit toe om na Akbar se hof toe te gaan in die hoop om hulp van Raja Birbal te kry. Birbal was 'n baie wyse en slim man. Inteendeel, hy was wêreldbekend vir sy skerpsinnigheid en intelligensie.

Nadat die ryk man sy saak gestel het, het Birbal 'n plan bedink hoe om die skuldige uit te vang sonder dat hy besef sy optrede gaan hom verraai. Hy het vir al die handelaar se dienaars stokke van dieselfde lengte gegee. Hy het hulle ook meegedeel dat die dief se stok sou groei en teen môreoggend sou die skuldige se stok drie duim langer wees.

Die volgende dag het al die dienaars om Birbal vergader. Hy het dadelik opgemerk dat een van die dienaars se stok drie duim korter was as die ander. Birbal het dadelik besef ​​wie die dief was.

Die dief het die stok drie duim korter gesny, omdat hy gedink het dit sou drie duim gedurende die nag groei. As gevolg van hierdie optrede van hom kon sy skuld maklik bewys word.

Wat het ek uit hierdie storie geleer?
* Die waarheid sal altyd uitkom.
* Dis altyd beter om van die begin af die waarheid te vertel.
* 'n Wyse man soos Birbal kan sonder baie moeite die skuldige uitwys - eintlik gee hy net die geleentheid vir die skuldige om homself te verraai. 

Wednesday, 22 October 2025

Rosetta se goeie wense: Toe die dag begin ...


het ek in stilte gebid, 
want die SONSOPKOMS sê vir my:
"Ons Skepper het nog 'n dag se GENADE oor ons uitgestort."

Tuesday, 21 October 2025

Tyd staan beslis nie vir Tommie stil nie!

Liewe Maats

Ek kan nie wag dat die son sy eerste strale oor Kimberley gooi nie. Dan vlie ons almal op en sing vir Tommie Veels geluk liewe maatjie omdat jy verjaar ... Tommie is vandag 'n volle jaar oud. Hy het egter so baie dinge gedoen en beleef dat 'n mens kan sê dat Tomme twee jaar se aktiwiteite in een jaar ingepas het.

Ek is so trots op my kleinboet, nog blyer dat ons dieselfde huis deel en die blyste dat tannie Christelle ons mensmamma is. Wat Christina Kiddie se inwoners in die mou voer vir Tommie se verjaardag, weet ek regtig nie. Ek het my ore gespits en snuif-snuif met my neus in die lug geloop, maar dis verniet of ek iets kon agterkom. My speurwerk was egter nie tevergeefs nie. Ek het 'n heerlike ontdekking gemaak waarvan niemand maar niemand weet nie. 

Net eers 'n bietjie agtergrond, voordat ek die aap uit die mou laat. Ouma Annie het vir Tommie leer koek bak, maar hy het nie regtig belanggestel nie, want niemand kan so met 'n houtlepel en 'n mengbak toor soos ons ouma nie. Die laaste keer wat ons in Petrusburg was, het ouma vir Tommie so 'n bietjie die fynere kunsies gewys en ook 'n geheim of twee met hom gedeel. Daaroor swyg hy natuurlik soos die graf en nie eens ek kon iets uit hom trek nie. Intussen het ek by myself gedink dat Tommie se belangstelling net 'n bietjies te oordrewe is en dat hy seker maar net in ouma se goeie boekies probeer kom.

Min het ek besef dat hierdie man met 'n plan werk. In die aande as ek my sekuriteitsrondtes doen, het hy na die kombuis gesluip en ouma Annie se resepte uitgetoets. Ek het skelm 'n foto van Tommie voor die stoof geneem, want ek weet julle sal my nie glo nie. Tommie het sy eie koek vir sy verjaardag gebak. Hy gaan blykbaar almal na skool by die swembadarea trakteer op sy fyngebak. Maats, sien ek nou uit na hierdie geleentheid! As julle kans kry, onthou julle is enige tyd na skool welkom om 'n draai by ons te maak. Wys net hierdie brief as julle toegangskaartjie by die hek.

Julle kan gerus vir hom 'n verjaardagkaartjie by die kantoor afgee - hy maak kaartjies bymekaar en elke keer as ons Petrusburg toe gaan, werk hy en ouma deur die kaartjies en oe en aa hulle twee dat dit 'n naarheid is. 

Tommie, namens die lesers en maats wil ek graag vir jou baie geluk met jou verjaardag sê. Dankie dat jy so 'n wonderlike broer, vriend, maat en luisteraar is. Dankie dat niks vir jou te veel is nie en dat jy altyd bereid is om die ekstra myl te loop en terwyl jy op die pad is, sommer ook die kalf uit die put te haal. Mag jou nuwe lewensjaar propvol vreugdespronge, baie blaf, min knor en baie snoepgoed wees. Ons is lief vir jou!

Hiep hiep hoera uit Kimberley! 
Ruben



Dinsdaggedagtes van Katelyn Marais

Sunday, 19 October 2025

Spontane liefdadigheid

* WA iemand om te sê hulle moet 'n lekker aand of dag hê. 

* Skryf iemand se beste eienskappe op 'n mooi kaartjie en gee dit vir hulle.

* Gee iemand 'n kompliment voor ander mense.

* Help een van jou klasmaats wat sukkel met 'n vak waarin jy baie goed is.

* Vra die nuwe kind in jou klas om pouses saam met jou deur te bring.

* Bied aan om die skottelgoed te was en weg te pak die dag as jou ma te moeg is.

* Neem 'n broodjie skool toe vir 'n maatjie wat nooit iets saambring om te eet nie.

* WA 'n opregte kompliment aan twee mense wat lanklaas van jou gehoor het.  

* Moet nooit 'n blasie stukkend maak nie. Hou die area skoon en bedek dit met 'n pleister.

* Doen jou deel vir die gemeenskap waar jy is. Tel een maal 'n week die vullis op op die sypaadjie voor julle huis en die bure se huis. Dit sal later aansteeklik inwerk.

* As jy pouse verby 'n werker of die opsigter loop, bedank hulle vir alles wat hulle doen.

Saturday, 18 October 2025

Ruben-humor: Diereraaisels

* Watter soort hond kan nie blaf nie?
'n Muishond.

* Watter soort perd kan nie runnik nie?
'n Luiperd

* Watter soort perd kan jy nooit in toom hou nie?
'n Nagmerrie.

* Watter soort vis kry 'n mens nie in die water nie? 
'n Brekfis.

Thursday, 16 October 2025

Dankie, Christelle, dat jy voorloop!

Ruben se een minuut storie: Jou perspektief


Jou las kan eintlik 'n lus word, afhangende hoe jy na jou probleem kyk. 

'n Klein mannetjie wat in 'n baie klein dorpie gewoon het, het 'n groot probleem gehad: hy kon nie ophou gaap nie. Hy het heeldag, elke dag, gegaap, maak nie saak wat hy gedoen het nie.

Die klein mannetjie was baie skaam, erg verleë en gefrustreerd deur sy konstante gegapery. Hy het alles probeer waaraan hy kon dink om dit te stop, maar niks het gewerk nie. Mense het vir hom oumensrate gegee - hy het selfs gegoogle, maar pure verniet! Hy was op die punt om moed op te gee, toe hy 'n ou wyse man ontmoet wat simpatiek na sy probleem geluister het en toe vir hom raad gegee het.ie ou wyse man het vir die klein mannetjie gesê dat sy konstante gegapery nie 'n probleem was nie, maar 'n geskenk. Hy het gesê dat gaap 'n teken was dat die klein mannetjie nuuskierig en oop was vir nuwe ervarings. Hy het die klein mannetjie aangeraai om sy gaap te omhels en dit te gebruik om die wêreld te verken en nuwe dinge te leer.

Die klein mannetjie het die ou wyse man se raad gevolg en sy gaap in 'n nuwe lig begin sien. Hy het die wêreld rondom hom begin verken en nuwe dinge leer. Hy het gevind dat sy gaap hom meer nuuskierig en avontuurlustig gemaak het, en hy was gelukkiger as ooit tevore.

Wat het ek uit hierdie storie geleer?
* Soms kan dit wat ons as 'n probleem sien, eintlik 'n geskenk wees as ons op 'n ander manier daarna kyk.
* Dis altyd raadsaam om jou probleem met iemand te bespreek wat bereid is om te luister en raad te gee.
* Jou probleem maak jou uniek, laat jou uitstaan - moenie dat ander se opmerkings en aanmerkings jou ontspoor nie.

Wednesday, 15 October 2025

Oor drie dae is die vonkels terug!

Elijah is 'n besige 9-jarige seuntjie met 'n pragtige spontane glimlag en ogies vol vonkels.
 
Onlangs het hy ongelukkig in 'n slaperige kindjie verander wat gedurig met baie hoë koors gesukkel het. Die ander kinders en baie grootmense het vir Elijah gebid - ook sy Juffrou Suzaan en gr. 3-klasmaats. 

Dokters en pediaters het kop gekrap, want hulle medisyne het nie vir lank gehelp nie. Elijah het selfs 'n draai by die tandarts gemaak en 'n tand is getrek. Maar pure verniet. Ons bekommernis het by die dag meer geword soos wat sy energie minder en minder geword het. 

Elijah is 'n baie brawe seuntjie en het van Vrydag af in die hospitaal gebly dat die dokters toetse kon doen om vas te stel wat die oorsaak van sy koors is.

Ons het vandag die goeie nuus gekry dat dit die infeksie aan die een kant van sy gesiggie is wat ook 'n drukking aan die ander kant van sy gesiggie veroorsaak. Dokter sê Elijah behoort na 3 dae van antibiotika weer perdfris en gesond te wees. Ons almal is verheug oor die goeie nuus. Ons huisfamilie het die spontane vriendelike seuntjie gemis en almal het gedurende die dag maar so 'n vinnige skietgebedjie na bo opgestuur as hulle aan Elijah dink of hom mis.

Met hierdie goeie nuus wat ons vandag van die dokter gekry het, beteken dit dat Elijah op 21 Oktober sy 10de verjaardag sal kan vier, saam met Tommie wat dan 'n volle een jaar oud gaan wees. In ons geestesoog kan ons al klaar die twee sien hardloop, spring en baljaar.

Baie, baie dankie vir Tannie Dorah Fredericks wat by Elijah in die hospitaal bly en slaap, en vir Tannie Mpho McGuire wat haar gaan aflos. Julle is Elijah se hospitaalengele wat sy hospitaalbang-hart sommer sterk laat klop.

Dankie ook vir al die dokters se omgeeharte en baie moeite - drs Marli Scheepers, Louise Hattingh, Stacey Preece, Anneri en al die ander spesialiste wie se name ons ongelukkig nie ken nie. Ons voel gerus en weet dat ons in omgeehande is.

Foto: Christelle Hattingh

Goeie wense vir 'n oulike seuntjie

Statistiek: 108 000 e-besoeke van lojale e-lesers

Rosetta se goeie wense: Toon liefde aan mekaar


Hoe klein is ons aardse wêreld nie teen U Groot Skepping, 
hoe sinloos is ons gejaag 
en hoe kortstondig is ons lewens.
Leer ons waaroor die lewe en die Ewigheid werklik gaan,
laat ons die klein dingetjies meer begin waardeer.
Kom ons toon net liefde aanmekaar, 
die lewe is kort. 
Die dag van môre is nie vir almal bestem nie, 
maar hoe sal ons weet?

Monday, 13 October 2025

Sterkte! Sit alles in vir die laaste 100 m

Ons is nou in kwartaal 4 - die laaste en belangrikste 100 m van die 400 m-wedloop.

Moenie net so sit-sit die laaste kwartaal aanpak nie. Dis 'n kort kwartaal, maar ook uitdagend. Werk hard en sluit die jaar op 'n hoogtepunt af.

Soos Ruben sou sê: "Vreugde vir jou kwartaal."

Saturday, 11 October 2025

Ruben-humor: Unieke idiome

* Sy hare staan weer vanoggend verkeerd ... 
Hy is omgekrap.

* Hoekom lyk jy so afgesak? 
Hoe lyk jy dan so moeg?

* Hy lieg klippe aanmekaar ... 
Hy jok erg.

* Hy gaap soos ‘n snoeiskêr. 
Hy gaap met ‘n mond wat groot oop is.

[Hierdie gesegdes kom uit my Petrusburg-dae uit!]

Thursday, 9 October 2025

Kinderland Crèche maak sy deure oop

Daar was heelwat reaksie op Maandag se artikel. Party lesers het nog vakansievoorstelle gemaak en ander het foto's gestuur.

Ons plaas graag die foto's wat ons van Kinderland Crèche gekry het. 'n Entoesiastiese groep onderwysers wat geen moeite ontsien om die kinders gedurende die vakansie sinvol besig te hou nie, is aan stuur van sake: juffrou Mia, juffrou Leaha, juffrou Danelle, juffrou Nel-mari en juffrou Meghan.

Hierdie week het in 'n oogwink verbygegaan met al die aktiwiteite wat ons inwoners besig gehou het. Volgende week moet hulle gedress en gepress wees vir skool en dan is hulle nie meer die juffrouens nie! 


Ouers, baie welkom by Kinderland Crèche se ouergemeenskap en baie welkom aan elke kind as 'n kleuter van ons skool.

Ons weet dat u kind baie gelukkig hier sal wees en ons sal alles in ons vermoë doen om elke skooldag vir hulle aangenaam en genotvol te maak.

Etes is ingesluit by ons uiters billike tariewe!


Foto's: Christelle Hattingh

Wednesday, 8 October 2025

Rosetta se goeie wense: Seënwense

Mag SY WARM LIGSTRALE
elke skadu-kol in jou lewe
tot VREUGDE omskep,
dat jy sal DANS soos nog nooit van tevore!

Tuesday, 7 October 2025

Dinsdaggedagtes van Katelyn Marais

Resep: Tommie deel nog 'n ouma Annie resep - Rice Crispy

Mensig, maats, ek is goed oor die kole gehaal en deur niemand anders as my eie ouma Annie waarvoor ek so lief is nie. Die korterige vakansie is só volgeprop met aktiwiteite dat ek en Ruben net gou so 'n vinnige draai by ouma Annie gemaak het. Petrusburg is per slot van rekening die plek waar ons wortels lê. En daar lees ouma Annie vir my die leviete baie deeglik voor. Dag en datum is voor my kop gegooi toe haar laaste resep op Koester Karos verskyn het. Die ergste verwyt van haar kant af is dat ek poot en bek belowe het om dit te plaas en op hierdie manier ons familieresepte vir die nageslag te bewaar en ek het nie woord gehou nie. Kyk, ek voel so sleg dat ek en Ruben besluit het om ons kuiertjie maar kort te knip, want ons sal ons agteroor moet buig om weer in haar goeie boekies te kom.

Voordat ek die resep plaas, 'n waardevolle stukkie ongevraagde advies van my en Ruben.
* Moet nooit iets vir jou ouma of oupa belowe en dit dan nie nakom nie.
* As jy iets belowe het en dit nog nie gedoen het nie, stel dit dadelik reg.
* As jy drooggemaak het, vra verskoning en verander die situasie. Verskoning sonder onmiddellike aksie, is vals en toon duidelik dat jy nie respek vir jou ouma of oupa het nie.
* As kleinkinders het ons sekere voorregte in oupa en ouma se huis. Ongehoorsaamheid laat ons sekere voorregte verbeur.
ONTHOU: Ons preek nie net vir julle nie - ons is self in die moeilikheid en ons deel maar net ons gedagtes met julle.        
SKRYF vir ons - dalk kan ons mekaar motiveer om beter kleinkinders te word!

Hier volg my ouma Annie se resep wat sy nog by haar ouma gekry het.
(Die oorspronklike resep sê: Sit die pot op die vuur en gebruik 1 pond dadels! Ek het die resep bietjie aangepas!) 
 
Bestanddele:
7 koppies Rice Crispies
2 koppies suiker
450 g dadels
4 eiers
2 eetlepels botter
Klapper soos nodig

Metode:
Sny dadels fyn.
Gooi botter, suiker en geklitste eiers by.
Roer in pot vir ongeveer 10 minute.
Haal af, gooi Rice Crispies by en roer goed.
Maak bolletjies en rol dit in die klapper. 

Wenk:
Fyn klapper werk beter as die growwe klapper.
Geniet dit en gaan groot!!!

Ek gebruik my ouma Annie se gunstelingfoto - al lyk ek lankal nie meer so nie!!

Monday, 6 October 2025

Vakansie-idees: Probeer dit!

* Leer hoe om papiervliegtuigies of papierbote te vou.

* Leer hoe om skaak te speel. Dit is uitstekende oefening as jy jou geheue wil verbeter (en sommer jou wiskundepunte ook!)

* Daag jou kamermaat uit vir 'n skaakwedstryd.

* Leer hoe om 'n knoop aan te werk.

* Ken jy die geskiedenis van die dorp waarin jy bly? Gaan doen bietjie navorsing oor Kimberley.
(Het jy geweet daar is 'n spooktoer in jou stad?)

* Leer die name van voëls wat gereeld julle tuin besoek en sommer ook van hulle gewoontes.

* Maak jou eie vlieër en laat dit in 'n park daar naby julle vlieg of op die skool se rugbyveld.

* Sit 'n bietjie hand by met die huiswerk. 

* Reël 'n ballongeveg tussen jou vriende op 'n baie warm dag.

* Sluit die dag af met 'n vinnige paar rondtes in die swembad.

Stuur gerus enige ander voorstelle in, verkieslik geen selfoonaktiwiteite nie. Ons wag vir julle reaksie! 

Saturday, 4 October 2025

Ons Huis waardeer elke ondersteuner!

Ruben-humor: Vreemde vergelykings

* Hy is so bles ...
dat jy sy gedagtes kan lees.

* Die rugbyspeler is so onfiks ...
dat hy miltsteek kry as hy hik.

* Hy is so lank ...
dat as hulle hom in 'n rugbywedstryd duik, val hy eers tien minute later.

* Hy is so lelik ...
dat al die honde tjank as hy op pad skool toe in die straat loop.  

* Dié leerder is só lui ...
dat sy skaduwee vir hom wegloop.

[Hierdie gesegdes kom uit my Petrusburg-dae uit!]

Thursday, 2 October 2025

Waarderingsboodskappe betyds afgelewer vir Sondag se onderwyserdag


Sondag is Wêreld-onderwysersdag en omdat dit in die kort Septembervakansie val, het Christina Kiddie Kinder- en Jeugsorgsentrum besluit om hul waarderingsboodskappe vandag aan die ses skole te gee waar KJSS-leerders betrokke is.


Skool is nie altyd lekker vir leerders nie, maar elke dag staan daar 'n onderwyser voor sy of haar klas en dra by tot die drome van ons land se kinders. Goeie onderwysers is die rede waarom gewone leerders buitengewone dinge kan en wil doen. Waardering skop dikwels eers in as die voorreg van mense wat omgee jou nie meer beskore is nie.

Daarom dat die 450 verpakte koekies saam met die mint-boodskap hul weg na die personeellede van Newton Laerskool, Eureka Laerskool, Elizabeth Conradie Skool, NJ Heyns Spesiale Skool, Adamantia Hoërskool en Noord-Kaap Hoërskool gevind het.

Fotograaf en bakker: Christelle Hattingh

Wednesday, 1 October 2025

Jaffel-fees Vrydag by Ons Huis


* Op 3 Oktober 2025 verkoop Ons Huis die heerlikste Jaffels vir slegs R25 elk.
* Die verkoping word vanaf Ons Huis se stoep gedoen.
Jaffels sal vanaf 12:00 uur gereed wees - kom haal dit af by die hek.
Bestel asseblief vooraf om 
teleurstelling
 te voorkom.
Stuur bestellings aan:
👉 Irma: irma@acvv-kimberley.co.za
👉 Neveshni: neveshni@acvv-kimberley.co.za

Tel: 053 842 1141