Monday, 29 September 2025

Linkshandiges moet in 'n regshandige lewe regkom

Ruben deel 'n Huisgenoot-artikel wat hy al vanaf 1996 bêre, omdat hy linkspotig is. Dis nie maklik om in 'n land van regshandiges links te wees nie. Die artikel verwoord sy gevoelens en sy probleme wat hy op 'n daaglikse basis ondervind. 

Ruben: "Skryfwerk op skool was vir my 'n nagmerrie, maar ek het geoefen totdat ek die mooiste handskrif in die klas gehad het. Ek het in graad 2 selfs 'n prys daarvoor gekry. Deesdae is skryf nie meer 'n probleem nie - ek skuif net agter tannie Christelle se rekenaar in en siedaar - my gedagtes is op papier!!!"

Daarom dra hy graag hierdie artikel op aan al die linkshandiges van die lewe.

Hotkloue kry dit hotagter.

Mense is óf linkshandig óf regshandig. Dit is slegs 'n handjievol mense wat vandag vir jou kan sê dat hulle so vaardig is met die hotklou as wat hulle bedrewe met die haarhand is. 

Dis natuurlik ook weer die hotties wat dit die meeste hotagter kry in die lewe. Want ons leef in 'n wêreld vir die regshandiges. Alles, maar alles is vir die regshandiges op maat gemaak. Die arme linkshandiges is skoon links gelaat toe daar besluit is hoe sê nou maar skêre se handvatsels en lemme nou eitlik moet lyk. Of die orde van die klavierklawer. Of die snare van die kitaar. Of met watter voet jy in 'n motor die koppelaar moet trap en watter voet dan op die petrolpedaal moet rus.

Klik HIER
vir inligting.
Ja-nee, die linkhandige mens het die agterstand. Kyk nou maar net so:
* As jy moet skryf, met ink, is dit 'n hele akrobatiek, anders beklad jy met jou hand elke woord wat jy so pas geskryf het. Want die linkshandige dribbel vorentoe, waar die regshandige die pen agter die arm aantrek. Daarom maak die linkshandige planne. Jy hoepel jou arm om 'n stuk papier voor jou, hou die pen byna horisontaal met die punt in jou rigting - en krabbel!

* Of jy krink jou arm lomperig hier onderkant jou borskas in. Jou rug bly geboë soos jy bo-oor jou hand moet loer na wat jy skryf. Ander linkses doen dit weer van agter af vorentoe. Hulle draai die papier dwars en skryf herwaarts af na derwaarts.

* Skryf is egter nie die enigste aktiwiteit waarby die verontregte linkse hom of haar teen wil en dank moet aanpas  in 'n agterstevoor wêreld nie.

* Daar is ook die knippery met 'n skêr. Vir eers is dit die klemkontoere van die handvatsels. Die hele reliëf van daardie greepstuk is uitgeknip vir die regterhandse mense, soos enige regse wat probeer om links te knip, sal agterkom. Maar dis ook die kant waar die lemme sit wat 'n linkerhander kan laat wanhoop. Sommige skêre se handvatsels is deesdae ook vir die hotkloue aangepas, maar vir ons linkshandiges sit dit verkeerd om - vir ons moet die boonste lem links wees.

* 'n Linkshandige kollega vertel hoe hy hom in Londen vervies het vir 'n winkel waar goedere vir linkerhanders verkoop is. Daar was glad 'n liniaal wat van regs na links gemerk is. Maar linkshandige mense lees tog nie van regs na links nie. Tipies van die onbegrip van 'n onsimpatieke regse supermeerderheid wat dink die twaalf persent van linkshandige mense is iets om oor te lag.

* Nog 'n gevoelige snaar: die gesukkel met musiekinstrumente. Hierdie skrywer het daar ondervinding van. Toe ek kleintyd in alle erns wou leer tokkel op 'n familielid se kitaar, was die vals noot dat ek, links was en dit nie sou kon doen nie. Of hulle sou spesiaal die snare moes omruil. Dit is nooit gedoen nie.

* Ook in die motorbestuur moet die hotvoet reg trap met die "swak"voet op die petrolpedaal of rempedaal en die "sterk" voet op die koppelaar. (Met die ratte wissel, het jy miskien 'n voorsprong, want jou vaardige linkerhand vat baie sekuur.)

* En jy moet altyd die mes en vurk omruil op 'n gedekte tafel voor jy begin eet. As jy met 'n elektriese saag saag, kan jy nie sien waar jy saag nie. Jy sukkel met 'n blikoopmaker, 'n aartappelskiller, 'n pan of beker met 'n tuit aan die linkerkant. Jy moet langs jou grassnyer gaan staan om die aansit-slingertou te pluk. En het julle al opgemerk, in sommige koppies of bekers is daar patrone of prente binne-in, maar net die mens wat die koppie in die regterhand vashou, kan die prentjie sien?

Ruben: "My liewe linkshandige maats, as jy nie regs skryf nie, is dit beslis nie die begin van moeilikheid nie, jy skryf anders en dit maak jou uniek. Gaan Google gerus wie almal linkshandig is en was en jy sal agterkom dat jy in baie goeie geselskap is." 

Linkerhand-groete uit Kimberley tot 'n volgende keer.
Ruben


Sunday, 28 September 2025

Statistiek: 106 000 e-besoeke van lojale e-lesers

'n Wimpy-geheim skuil in tannie Mittah se bekwame hande


Sondagoggendontbyt het gesorg dat die inwoners verras is met 'n breë glimlag en 'n heerlike Wimpy-ontbyt, gemaak met liefde uit Tannie Mittah se sorgsame hand en omgeehart.

Hierdie ontbyt het nie net die smaakkliere gekielie en die honger gestil nie, maar sommer ook die tonge losgemaak en is daar heerlik om die ontbyttafel gekuier. 

Dankie vir 'n perfekte ontbyt teen die perfekte prys!

Saturday, 27 September 2025

'n Salige Saterdag waar die poppe dans

'n Foto het 'n manier om hierdie reënerige Saterdag vinnig op te som. Terwyl die druppels op die sinkdak val, vra 'n reëndag in Kimberley dat poppe vandag 'n beurt moet kry om uitgehaal en bederf te word. 

Ruben-humor: Vreemde vergelykings

 * Die Vrystaat is so plat ...
jy kan 'n week in jou tekoms sien.

* Hy is so kort ...
jy sien sy voete op sy ID-foto.

* Dit is so warm in die Kalahari ...
die kinders in die kleuterskool se melktande word suur.

* Sy sin vir rigting is so sleg ...
hy verdwaal in die aanpashokkie.

* Hy is nou op die stadium in sy lewe ...
waar hy begin vergeet om te onthou.

[Hierdie gesegdes kom uit my Petrusburg-dae uit!]

Friday, 26 September 2025

Die waarde van 'n bordspeletjie


As 'n mens mooi kyk en dink oor die speletjie slangetjies en leertjies, dan kom 'n mens tot die gevolgtrekking dat die lewe self in daardie speletjie opgesluit lê.

Dankie, Christelle, dat jy dit met ons deel. Ek is seker dat daar meer as een grootmens is wat hierdie speletjiesbord gaan nadertrek, net om met 'n leeftyd se ervaring, probleme en vreugdes, na hierdie relatief eenvoudige speletjie te kyk, maar hierdie keer uit 'n totaal ander hoek!!  

Hoeveel keer het die slange van groepsdruk, damprook, sosiale media, onsekerheid, minderwaardigheid en vele ander jou lewe as kind beïnvloed en hoeveel van hierdie slange het jou kind se lewe beïnvloed?

Gelukkig dat die leertjies van balans ook in elkeen van ons lewe 'n positiewe rol gespeel het en nog speel; leertjies van respek, omgee, hardwerkendheid, gehoorsaamheid, geduld, eerlikheid en dankbaarheid.  

Hierdie speletjie gee aan ons die geleentheid om die konsep van lewens-slange en -leertjies vir ons kinders, kleinkinders, skoolkinders en Sondagskoolkinders te leer. Moenie hierdie geleentheid deur jou vingers laat glip nie. 

'n Heerlike gesinsaktiwiteit: Sit gerus die televisie af en speel slangetjies en leertjies. Elke keer as 'n grootmens by 'n slangetjie kom wat hy in die werklike lewe moes trotseer, deel dit met jou kinders. Vertel hulle ook hoe die leertjies in jou lewe jou gehelp het. En so kan lewenswaardes en lesse speel-speel oorgedra word, terwyl die kommunikasiekanale in die gesin versterk word.

Geniet hierdie ou-ou speletjie!

Portia's Friday advice

Vinnige Vrydagterugflits: Algemene jaarvergadering

Thursday, 25 September 2025

Ons kleurryke erfenis

Ons vier Erfenisdag oor provinsiale
grense heen en leer om die kleurryke
verskeidenheid te vier!
Ons klomp hier by Christina Kiddies het besluit om Erfenisdag wat normaalweg 'n braai insluit, so 'n bietjie te rek na die naweek toe. Woensdag was daar 'n heerlike Bunny chow op ons spyskaart, terwyl ons Erfenisbraai oor die naweek gaan gebeur.   

Bunny chow is 'n eg Suid-Afrikaanse wegneemete wat in die 1940's ontstaan het. Dit bestaan ​​uit 'n uitgeholde stuk brood wat met kerrie gevul word. Dit kom oorspronklik van die Indiese gemeenskap in Durban en die oorspronklike Bunny chow was 'n  vegetariese dis.

Die gereg is soortgelyk aan 'n katkop wat 'n uitgeholde stuk brood is en met slaptjips gevul is.

'n Erfenisfeit: Elke jaar word die "Bunny Chow Barometer" in September op die suidelike oewer van die Umgenirivier, net bokant die Blue Lagoon ('n gewilde Sondagpiekniekplek vir Durbanse Indiërs) gehou, wat talle deelnemers van regoor die Durbanse metrostreek lok om mee te ding vir die titel van die beste bunny maker.

Monday, 22 September 2025

Jaarvergadering 2025: Voorbereiding vra vir vlytige helpertjies


Jaarvergadering: 23 September 2025
17h30 vir 18h00

Net vir vandag ... is die hemel in Polokwane

Die lewe het hom in my kantoor uitgespoeg, Here. ‘n Klein, verwarde agtjarige seuntjie. Sy ouma, wat eintlik sy mamma was, is sommer net weg. Hy en ouma en sy regte mamma was in ‘n gru-ongeluk. En sy ouma, die een wat elke dag vir sy hart en lyfie gesorg het, het doodgegaan. Terwyl hy langs my sit, vertel hy oor en oor en oor van daardie dag, Here. Teken dit ... speel dit in die sand ... ouma se lyfie wat stukkend eenkant lê. En dan glimlag hy en sê: “Sy gaan terugkom. Sy is in die hospitaal in Polokwane, ver weg van hier. Hulle maak haar beter daar.” Hy skryf vir haar ‘n briefie om te sê hy hou haar handsak en haar foon, sy moenie daaroor ‘worry’ nie. Hy sal dit vir haar bring ... Sy koppie en lyfie en hartjie weier om te aanvaar dat ouma nie weer gaan terugkom nie, Here.

Die hemel voel so ver, Here. So baie, baie ver weg. Veral op daardie dae wat die verlang yskoud in my hart gaan lê. Na my hart se mense wat sommer net weggegaan het. My kop sê vir my dat hulle by U is, veilig en vol vreugde ... ek weet hulle is. Maar my hart wil glo dat die voordeur enige tyd gaan oopgaan, of die foon gaan lui of ‘n boodskap sommer net skielik onverwags gaan deurkom. Maar dit gebeur nie, né, Here.

Die hemel voel so onbereikbaar ver weg ... en tog is die hemel waar U is, né Here? Vir ‘n agtijarige ou seuntjie is die hemel in die onbekende hospitaal wat nie bestaan nie, in Polokwane. En vir my? Vir my is die hemel hier, hier in my hart. Hier waar u is. Hier in my hart bêre ek die marie-beskuitjie oomblikke saam met ouma, haar lag en lafwees en gesels. Die chippies na skool en die parkie. Hier in my hart bêre ek al die kosbare kombuistafel-gesels met pa, al die afvlerk-voëltjies wat ons saam gesondgemaak het, die hoender wat in die water geval het by die Wimpy en ek en pa wat oor die heining geklim het ... onthou U dit, Here? Hier in my hart bêre ek my Pa-prof se woorde en briewe. Sy whatsapp en gesels ... ‘Hoe gaan dit, my kindjie?’ Hier in my hart eggo my dierbare vriendin se woorde: Hallo, ou Dearie ... sien jou nou-nou!

Nou-nou kom so baie maal te laat, Here. Nou-nou verander in ambulans-sirenes of ‘n bed in die onkologie-afdeling van die hospitaal. Nou-nou stel uit om saam te lag en te kuier en te gesels. Want nou-nou raak dikwels besig met dinge wat nie regtig saakmaak nie. Nou-nou kibbel soms oor wie is reg en verkeerd, en dan praat ‘nou-nou’ vir lang tye nie met mekaar nie. Nou-nou stel uit om te bel of te gesels ... want die lewe is net te besig.

En in ‘n oogwink is nou-nou net weg. En wanneer nou-nou wegraak, raak die hemel werklik.

Terwyl ek die seuntjie styf teen my vasdruk, pleit ek dat die hemel net vir ‘n oomblik maar in Polokwane kan wees. Sodat hy kan rustig raak. Totdat ons sy ouma na die hemel in sy hartjie toe kan skuif. Ek weet U verstaan, Here. Want U het ook gehuil oor die dood.

En wanneer die dood se realiteit so wreed ‘n streep deur my eie lewe kom trek, is dit u wat stil by my sit, u arms styf om my vou en sag vir my sê: Ek is hier by jou. Ek vang jou trane bak-hand op en bêre hulle. Ek vou My hande versigtig om die verlang in jou hart. Ek sit hier by jou. Ek gaan nie weg nie. Ek het jou vir My gevat. Jy is Myne.

U is die Lewe, Here. En wanneer U op ‘n dag ook my asem stil-versigtig in U hande toevou, opgewonde saam met my na die hemelhuis stap, sal ek dalk verstaan van die dood en die onbekende hospitaal in Polokwane. Né, Here? Maar tot dan ... bêre ek die hemel en my hart se mense styf in my hart. Daar waar U bly. En wanneer die verlang te veel raak, sit ek my hand op my hart en voel hoe dit klop ... U is daar. U gaan nie weg nie.

Net vir vandag, Here ... kan die hemel maar vir ‘n rukkie in Polokwane wees, daar waar ‘n agtjarige seuntjie glo U na sy ouma kyk? En môre ... môre sal ons die hemel terugsit in sy hart. Daar waar U bly en leef. Want die hemel is mos maar net waar U is.

Al my liefde ... en amen, Here.
Katrienkie

[Dankie, Rosetta, vir die deel van hierdie besondere stukkie.]

Kliek HIER om Katrienkie se hartstukke te lees.

Saturday, 20 September 2025

Ruben-humor: Diereraaisels

* In watter bank sit 'n varswatervis sy geld?
In 'n sandbank.

* Wat sê die een sardientjie vir die ander?
"Skuif op, jy lê die blik vol."

* Wat gebeur as jy 'n vuurvliegie se lig doodblaas?
Hy vlieg teen die boom vas.

* Wat is die verskil tussen blokkies vleis en spaghetti?
Blokkies vleis sal nie van jou vurk af gly nie.

Friday, 19 September 2025

NATIONAL LOVE YOUR LUNCH DAY

National Love Your Lunch Day
is on September 19, and we are bringing awareness to something often overlooked - lunch shaming. Love Your Lunch Day celebrates food diversity and encourages kids to respect all kinds of lunches at school. On September 19, we are asking parents and educators to take extra time to talk to kids about lunch shaming and how to spot it.

All kids should feel comfortable enjoying the foods they love at home and at school without fear of embarrassment or bullying during lunch time. However, many learners are made to feel ashamed about the foods they bring to school. Often, these lunches reflect a family’s culture, traditions or socio-economic status, which makes it even more hurtful.

It's time all kids have the confidence to eat the food they love at home, at school.

Conversely, when a child feels proud of the lunch they bring to school, they feel safe, which leads to better engagement, stronger social connections and a more positive school experience.

Portia's Friday advice

Thursday, 18 September 2025

Ruben se een minuut storie: Die goue aanraking van koning Midas


Eendag was daar 'n baie belangrike Griekse koning. Sy naam was Midas. Hy was baie baie ryk. Goud was die rede vir sy rykdom. Hy het net een dogter gehad, vir wie hy baie lief was.

Eendag het Midas op 'n engel afgekom wat hulp nodig gehad het. Hy het die engel gehelp en in ruil daarvoor het sy ingestem om 'n wens te vervul. Midas het gewens dat alles wat hy aanraak in goud sou verander. Midas was verblind deur matriële rykdom en die waarde van goud. Sy wens is vervul. Op pad huis toe het hy rotse en plante aangeraak en hulle het in goud verander. Hy was in ekstase. Toe hy by die huis kom, het hy opgewonde sy dogter omhels, wat dadelik in goud verander het.

Midas was verpletter. Sy enigste dogter waarvoor hy sy lewe sou gee, het in 'n koue stuk goud verander wat skielik vir hom waardeloos geword het en hy het sy les geleer. Goud is nie alles in die lewe nie. Daar is belangriker dinge as goud en geld. Hierdie ontstellende gebeurtenis het Midas so geskok dat hy die engel gevra  het om sy wens weg te neem.

Wat het ek uit hierdie storie geleer?
* Gierigheid is nie goed vir jou nie. 
* Die belangrikste dinge in die lewe kan geld nie koop nie.
* Wees tevrede met dit wat jy het.
* 'n Tevrede mens is 'n gelukkige mens.
* 'n Gelukkige mens kan 'n vervullende lewe lei.

Tuesday, 16 September 2025

National Working Parents Day – 16 September

Today we pause to celebrate YOU - the parents who rise early, work hard, love deeply, and somehow keep everything going.
Whether you're juggling meetings and school runs, late-night homework or early-morning lunchboxes, your efforts matter. You are the heartbeat of your family and community.

* Thank you for your resilience.
* We see your sacrifices.
* You are appreciated more than you know.

Let’s keep showing up - with love, patience, and courage. You’re doing something extraordinary.

Saturday, 13 September 2025

Ruben-humor: Unieke idiome

* Hy is eergister se dief ... 
Hy is baie geslepe.

* Ek sal vir jou ‘n been gooi ...
Ek sal vir jou sê wanneer ek jou opinie nodig het.

* Laat dit maar aankalk. 
Skryf dit op my rekening.

* Hy is van dik deeg aanmekaar gesit. 
Hy is ‘n lafaard.

[Hierdie gesegdes kom uit my Petrusburg-dae uit!]

Thursday, 11 September 2025

Ruben se een minuut storie: Die drie klein varkies ('n ander variasie)


Drie klein varkies is deur hul ma die wêreld ingestuur om te leer. Hulle moes leer om te oorleef en te leef in die wêreld weg van hul ouerhuis.

Die drie varkies het besluit dat hulle 'n dak oor hulle kop moet hê en daarom gaan hulle onmiddellik begin deur 'n huis te bou. Hulle het besluit dat elkeen op sy eie gaan werk en dat hulle nie gaan inmeng in mekaar se idees en pogings om 'n huis te bou nie.

Die eerste varkie het 'n huis van strooi gebou omdat hy nie baie moeite wou doen nie en lui was.
Die tweede varkie was 'n bietjie minder lui as die eerste een en hy het 'n huis van stokke gemaak.
Die derde varkie was hardwerkend en hy het baie moeite gedoen en 'n huis van baksteen en klip gebou.

Die wolf het die bedrywigheid dopgehou en besluit dat hy sal wag tot die huise klaar gebou is. Sodoende sal hy kos vir 'n lang tyd hê. As hy dadelik 'n varkie vang, sal die ander twee wegtrek en sal hy weer moet soek na kos. Beplanning is die beste manier om te oorleef. 

Op 'n goeie dag toe al die varkies klaar gebou is, besluit die wolf om die luiste varkie eerste te vang. Sy boumateriaal is nie sterk nie, hy het slordig gebou en sonder enige moeite, weet wolf dat hy 'n heerlike middagete gaan hê en dat sy vrou baie dankbaar sal wees as hy met soveel kos by die huis gaan aankom.

Hy het na die strooihuis gestap en geraas en geblaas totdat die huisie omgeval het. Wolf is rats en fiks en hy het die eerste varkie sonder inspanning gevang. Die huisie van stokke was net so maklik om om te blaas. Hy het gewag tot die tweede varkie voor die TV aan die slaap geraak het en toe het hy toegeslaan. Sonder baie moeite het hy die huis van stokke net so maklik omgeblaas.

Die derde varkie het geweet dat sy huisie hom nie net teen die weer moet beskerm nie, maar ook teen wilde diere en diewe. Hy het 'n stewige fondament gegooi, diefwering voor die vensters gesit en veiligheidshekke voor die voordeur en ook die agterdeur. Hy het veiligheidskameras buite sy huisie geïnstalleer sodat hy in die gemak van sy sitkamer kan sien wat buite aangaan.

Hy het vir wolf gesien aankom en hy het op die monitor gesien hoe wolf raas en blaas, en raas en blaas, maar dat sy baksteenhuis nie beweeg het nie. Na herhaaldelike pogings was wolf so uitasem en moeg dat hy onverrigter sake en met leë hande die aftog moes blaas. 

Wat het ek uit hierdie storie geleer?
* Moenie te lui wees om iets ordentlik te doen nie.
* Werk altyd hard en dit sal vrugte afwerp. 
* Moenie probeer om kortpaaie te neem om dinge te laat werk nie.
* Luister na die lesse wat jou ouers jou leer. Die drie varkies het op dieselfde manier grootgeword, dieselfde lesse en waarskuwings by hul ma gekry, maar net een het geluister.

Sunday, 7 September 2025

Kinders wat noodgedwonge die kinderhuis hul tuiste moet maak ...

“Dit is nooit lekker vir ‘n kind om kinderhuis toe te gaan nie, maar weet jy wat? Dit wat ek hier beleef het, het meer vir my beteken as wat ek aanvanklik gedink het. Dit wat ek in my ouerhuis sou kry en gekry het, sou my nie op die pad kon sit nie. Ek kom uit 'n disfunksionele ouerhuis waar geweld, drank en geen geld die botoon gevoer het. Ek sou beslis nie drie keer op 'n dag 'n gesonde bord kos kry wat met liefde gemaak is nie. Ek sou nie geleer het wat integriteit is nie en ook nie wat dit is om om te gee nie. Ek sou beslis nie die geleentheid gehad het om iets vir iemand in nood te doen nie,” het *Sarie gesê.

* Sarie sien haar tyd in die kinderhuis as ’n ervaring wat haar die mens gemaak het wat sy vandag is. “Ek het steeds die keuse gehad of ek die geleentheid met al twee hande wil aangryp en of ek in 'n hopie wil sit en myself jammer kry. Die lewe deel vir ons elkeen 'n handvol kaarte uit en ek het besluit as ek die dag hier uitstap, wil ek weet dat ek die beste ek is en dat ek al die geleenthede wat my gebied is, gebruik het. Ek het ook besluit dat ek eendag sal terugkom om dankie te sê vir die geleentheid wat ek as kind in dié plek gekry het,” het sy gesê.

* Naam verander

[Dankie, Sarie, vir jou terugvoer. Dis 'n riem onder ons hart as ons kon bydra tot jou sukses en toekomsdrome. Jy is altyd welkom om by ons te kom inloer en ook met die inwoners te kom praat. Dis nooit maklik vir enige kind om te besef dat sy ouers nie die kriteria van goeie ouers haal nie.]

Saturday, 6 September 2025

Ruben-humor: Vreemde vergelykings

* Hy het wegstaan tande ...
soos 'n stalvurk.

* Hy het skurwe hakskene ...
soos 'n vleipatat.

* My oë is so skerp ...
ek kan twee dae in die toekoms in sien.

* Hy is so suinig ...
hy kou drie dae lank aan 'n toffie.

* Hy is so maer ...
as hy waterpokkies kry, kry hy dit een vir een.

[Hierdie gesegdes kom uit my Petrusburg-dae uit!]

Friday, 5 September 2025

Eureka Muddy Bash 2025

Wanneer: 13 September 2025

Waar: Vleissentraal Veilingskrale Kimberley

MOENIE OP JOU LAAT WAG NIE!!

Skryf in as 'n span of neem alleen deel!

Navrae: 087 310 5310

of

060 466 6676

EK HET REEDS INGESKRYF,
WAT VAN JOU?? 

Portia's Friday advice

Thursday, 4 September 2025

Ruben se een minuut storie: Die wyse ou uil (nog 'n variasie)


Die wyse ou uil het in 'n groot eikeboom in 'n besige park gesit. Hy het daagliks só baie dinge gesien. Hy het gekyk hoe 'n jong seun 'n bejaarde man help om 'n swaar mandjie te dra, en 'n jong meisie wat op haar ma skree. Daar was ook 'n klein dogtertjie met krullerige hare wat 'n jong hondjie aan 'n leiband hanteer, terwyl sy en haar ma die hond gehoorsaamheid leer. Sit! Lê! Loop! Eet! Wat 'n plesier is die hondjie nie. Die dogtertjie geniet dit as die hond op haar opdragte reageer en vir die ander mense in die park lyk dit asof sy glad nie moeg raak van hierdie speletjie nie.

Terwyl die uil al hierdie gebeure dopgehou het, het hy sy bek toegehou en sy oë en ore oopgehou.

Met verloop van tyd het die uil al hoe meer gesprekke en stories gehoor. Hy het 'n vrou hoor vertel van hulle lawaaierige bure wat nie respek vir hul medemens het nie, en 'n man wat spog dat hy nooit 'n fout maak nie. Die ou uil het die wêreld om hom gesien en geweet dat sommige mense verbeter het terwyl ander slegter geword het. Maar ongeag wat hy gesien het, het hy net wyser geword met elke dag wat verbygaan.

Wat het ek uit hierdie storie geleer?
* Luister meer en praat minder.
* Deur meer oplettend te wees en minder te praat terwyl ons meer luister, kan ons wyser word. 
* Om ons omgewing in te neem en werklik te luister na wat ander te sê het, kan ons help om kennis en insig te verkry, met ander woorde leer van ander mense se kennis. 
* Om aandag te skenk aan die besonderhede kan ons 'n beter begrip van die wêreld gee en ons help om wyse besluite te neem.

Wednesday, 3 September 2025

Gelukkige sekretaresse- en sommer personeeldag

'n Rooi roos vir elke Christina Kiddie-personeellid!

Vandag wil ons 'n oomblik neem om ons groot dank en waardering uit te spreek aan die ongelooflike personeel wat ons jeugsorgsentrum dag in en dag uit so suksesvol bedryf.

Julle omgee, toewyding, harde werk, en aandag aan detail is die geheime bestanddele agter die sukses van ons sentrum. Van die hanteer van administratiewe take met grasie tot die vriendelike gesigte wat elkeen groet - julle doen dit álles, en julle doen dit met 'n glimlag! 

Vandag wil ons 'n bietjie liefde en waardering aan elkeen van julle d.m.v hierdie boodskap oordra! Ons wys nie elke dag dat ons julle genoeg waardeer nie. Elke dag is vol van sy eie uitdagings, probleemhekkies en opdraandes - nogtans bied julle die stabiliteit wat so broodnodig is.

Geniet julle dag!!

Tuesday, 2 September 2025

Ons word daagliks herinner aan God se troue sorg


Ons wil graag vir die boer van Petrusburg baie dankie sê vir sy liefdevolle skenking - 50 sakke aartappels en 30 koolkoppe. Hierdie praktiese betrokkenheid stel ons in staat om die inwoners met gesonde groente te bederf.

Dankie, Fanie du Plooy, dat jy die belange van Christina Kiddie KJSS op jou hart dra en dat geen moeite vir jou te veel is nie. 

Die betrokkenheid van ons skenkers hou ons arms omhoog om die ekstra myl vir ons kinders te loop!

Wildsvleispasteie: Moenie op jou laat wag nie!


Heerlike wildsvleispasteie, met hul kenmerkende rafeltjievleis, praat 'n kostaal van hul eie. Nou is dit moontlik om hierdie vleispasteie deel van jou spyskaart te maak sonder veel moeite! 

Tannie Mittah, bakster van formaat, gaan geen fynproewer teleurstel nie. Tuisgebak ten bate van Christina Kiddie KJSS.
 
WhatsApp jou bestelling deur na:
067 346 7667 

Inbetaling:
Christina Kiddie Child and Youth Care Centre
ABSA
4057581902
632005
CURRENT

Dinsdaggedagtes van Katelyn Marais