Monday, 30 June 2025

Leermeesters in die natuur: Arende

Die enigste voël wat dit waag om 'n arend te pik, is 'n kraai.

Hy gaan sit op die rug van die arend en byt sy nek. Die arend reageer of beveg glad nie die kraai om só energie te vermors nie. Die arend span sy vlerke net wyer en styg al hoër op in die lug. Hoe hoër sy vlug, hoe moeiliker word dit vir die kraai om asem te haal, tot hy van die arend afval weens suurstoftekort.
Moet daarom nooit jou energie vermors op die kraaie in jou lewe nie - neem hulle net na jou hoogtes en hulle sal vanself afval!

Die vyand sit ook op jou rug en byt jou nek ... maar hulle wat op die Here wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos dié van 'n arend (Jes.40:30)

Saturday, 28 June 2025

Statistiek: Dankie vir 92 000 e-besoeke


2000 e-besoeke van Donderdag na Saterdag!! Julle lesers is sommer kookwater!!!

Ruben-humor: Anderste raaisels

*  Wat kry jy as jy 'n olifant en 'n swaeltjie kruis?
Gebreekte telefoondrade.

* Wat kry jy as jy 'n krokodil en 'n roos kruis?
Iets waaraan jy nie kan ruik nie.

* Wat kry jy as jy 'n piesang en 'n pampoen kruis?
'n Groot, ronde groentesoort wat verskriklik maklik afskil.

* Wat kry jy as jy 'n gorilla met 'n karakoelskaap kruis?
'n Pelsjas met besondere lang moue.   

Market for Charity Birthday Market @ McGregor Museum

Date: Saturday, 5 July 2025
Time: 10:00-15:00
Venue: McGregor Museum

Many stalls to choose from
Food, Toys, Jewellery, Baked Goods, Crafted Goods and much more!!

WhatsApp 079 981 1240 to book your stall. 

Friday, 27 June 2025

Eureka Muddy Bash 2025

Wanneer: 13 September 2025

Waar: Vleissentraal Veilingskrale Kimberley

MOENIE OP JOU LAAT WAG NIE!!

Skryf in as 'n span of neem alleen deel!

Navrae: 087 310 5310

of

060 466 6676

EK HET REEDS INGESKRYF,
WAT VAN JOU?? 

Portia's Friday advice

Thursday, 26 June 2025

Statistiek: Dankie vir elkeen wat die e-leespad van 90 000 saam met ons gestap het

Eureka hou entrepreneursdag!


Ons leerders van Eureka Laerskool het vandag 'n heerlike entrepreneursdag gehad. Die sakemanne en -vrouens van groen en goud het met trots hul produkte tydens die Winter Wonderland Entrepreneursdag van die hand gesit. Dankie, dr. Etienne Venter, een van die gewildste klante van die dag, dat jy ook 'n draai by ons stalletjie gemaak het en bereid was om tyd af te knyp vir 'n foto vir ons blog. Dis baie lekker om op die manier met jou skoolhoof te spog.

Die sakelui in wording het hulle huiswerk goed gedoen en hulle weet presies wat die Achilleshiel van Eureka-leerders op 'n laaste skooldag is.

Drie minute dinkstorie: Liefde maak ‘n verskil


Maats, ek het hierdie verhaal van ’n Kapenaar raakgelees en dit het my weereens die waarde van onvoorwaardelike liefde en aanvaarding laat besef. Ons daaglikse optrede maak 'n verskil. Ek deel dit graag met julle.

Sabina was elke dag laat vir skool. Soms het sy eers rondom 10:30 by die skool opgedaag.
Haar huiswerk was meestal nie gedoen nie, haar boeke was slordig en syself was geen prentjie van netheid nie. In die klas was sy die een wat oproerigheid veroorsaak het. Die onderwysers het mettertyd begin moed verloor dat sy ooit sal verander. Ná nog ’n hewige oproerig in die klas, het die onderwysers saamgespan en die skoolhoof versoek om Sabina uit die skool te skors. Daar was immers 30 ander klasmaats wat in aanmerking geneem moes word.

Wat hulle egter nie geweet het nie, was dat Sabina se ouers albei alkoholiste was. Wanneer
sy smiddae by die huis aangekom het, was hulle beide reeds dronk. Tussendeur die
konstante rusie in die huisgesin, sou haar pa, wanneer sy wel probeer het om huiswerk te
doen, haar skoolboeke opskeur of in die toilet afspoel. Sabina vertel dat haar toekoms so
donker soos haar hede gelyk het waarvan sy nie kon ontsnap nie.

In stede van ’n skorsing, het die skoolhoof besluit om ’n uitdaging aan Sabina se
onderwysers te gee: Vir een week lank moes hulle alles in hulle vermoë doen om
onvoorwaardelike liefde aan haar te betoon. Die skelwoorde moes plek maak vir woorde
wat motiveer, opbou en inspireer. Hulle moes daarna streef om ’n veilige omgewing vir haar te skep
en haar te laat voel asof hulle haar onvoorwaardelik aanvaar - ten spyte van haar optrede.
 
Dit het na ’n onmoontlike taak geklink. Tog het die onderwysers ingestem om dit vir een
week lank te doen.

Groot was die verrassing toe daar reeds binne ’n paar dae met hulle veranderende houding
teenoor Sabina, ook ’n verandering in haar optrede gemerk kon word.
 
Nie net het sy al vroeër begin skool toe kom nie, haar huiswerk was vir die eerste keer in
maande op datum en soos die een week-uitdaging in weke verander het, het die
onderwysers verstom gestaan oor hoe Sabina van ’n rebel in die klas in ’n presteerder
verander het.

Vandag is Sabina gelukkig getroud en ’n ma van ’n klein seuntjie. Sy het ook ’n suksesvolle
besigheid wat internasionaal sake doen. Wat het die verandering gebring?
 
Onvoorwaardelike liefde en aanvaarding.

Wat het ek uit hierdie storie geleer?
* Dat ons die ekstra myl onvoorwaardelik moet loop.
* Dat my optrede teenoor mense wat my pad kruis, ongelooflik belangrik is.
* Dat ek nie net vriendelik is teenoor mense wat met my vriendelik is nie, maar dat ek ook die boelies, die ongeskiktes en die wat lewensmoeg is, met dieselfde gesindheid sal benader as my beste vriende.
* Besef jy dat God ons elkeen ook onvoorwaardelik liefhet en dat Hy, terwyl ons nog vol
sonde was, sy Seun vir ons gestuur het? In Romeine 5:8 lees ons: “Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.”

Wednesday, 25 June 2025

Tuesday, 24 June 2025

Binnekringnuus: Dankie, Koester Karos-lesers vir julle boodskappe!


Liewe Lesers en Maats, 
Ek moet net keer of my stert  waai 'n volle omwenteling om my aarde - 'n volle 360 grade!! Ek plaas net 'n paar van my terugvoerboodskappe - die ander het ek op die kennisgewingbord geplak waar ons elke dag 'n inspirerende gedagte vassit om 'n bietjie kleur aan ons dag te gee.

Dankie, Yvonne, vir hierdie baie mooi foto's. Ek het nie eens geweet jy het foto's van my nie. Ek het dit dadelik vir my ma aangestuur. Sy het 'n hele muur waar sy al ons familiefoto's hang. Jy kan net dink hoeveel foto's teen daardie muur hang!! Ek en Tommie is in die gelukkige posisie dat ons baie mense ontmoet, deel is van verskeie projekte en geliefd is in ons omgewing. As die vrouens so kom tee drink by my ma en ouma Annie, dan wys sy met moederlike trots ons foto's en las sommer sulke lang stertjies by elke storie. Jy kan net dink, liewe Yvonne, dat ons omtrent soos helde in die oë van die Petrusburgers is. 

Kennisgewingbord in die agtergrond!

Resep: Tommie deel nog 'n ouma Annie resep - Outydse speserykoekies

Hierdie outydse speserykoekies is Petrusburg se nasionale koekie. By elke sportbyeenkoms en kerkbasaar is dit die koekies wat die eerste uitverkoop. En dan word daar bestellings geneem vir die vale - amper soos 'n post-basaarverkope. 

Ek het vir ouma Annie belowe dat ek 'n resep sal plaas wat al vir generasies in ons bakgeskiedenis is. Ouma is nie so lief vir die vinnige gekrummelde koekieresepte nie. Dit grens vir haar aan afskeep. Sy verstaan ook dat die jong kinders van kitsresepte hou. Sy praat mos van ons as die kits-kinders of die gou-gou-generasie. Alles moet mos vinnig en gou gebeur en volgens haar verdwyn kwaliteit in die drein. (Ouma hou nogal daarvan as haar woorde rym.)

Ouma Annie, ek is 'n hond van my woord en ek het hierdie eeue-oue gunsteling betyds vir die wintervakansie- koekblikke geplaas.

Outydse speserykoekieresep van ouma Annie 

Bestanddele:
425 g koekmeel
3 ml sout
3 ml koeksoda
3 ml fyn naeltjies  
5 ml fyn kaneel
200 g karamelbruinsuiker
125 g botter
1 eier (geklits)
90 ml sjerrie of port
5 ml lemoenskil 
gerasperde amandelsplinters vir versiering

Metode:
* Sif meel, sout, koeksoda, kaneel, naeltjies en suiker saam.
* Vryf botter in. 
* Voeg eier, sjerrie en skil by.
* Bedek deeg en laat ongeveer 1 uur lank staan.
* Rol deeg uit tot 3 mm-dikte.
* Druk ronde koekies uit,
* Druk ‘n stukkie amandel in die middel van elke koekie vas.
* Plaas op ‘n gesmeerde bakplaat.
* Bak ongeveer 15 minute lank in voorverhitte oond by 200ºC.

Geniet dit en gaan groot!!!

Dinsdaggedagtes van Katelyn Marais

Sunday, 22 June 2025

Ruben praat oor kinderjare-onthou


Liewe Maats

Ek is só opgewonde, ek moet net die nuus met iemand deel. Ek het die afgelope week regtig 'n lekker verrassing gekry. Skielik het ek sommer verlang na my kinderjare, my maats, my skooljare en sommer net na die hele Petrusburg. Sal iemand vir my 'n foto kan stuur van Petrusburg? Is die strate nog so skoon en netjies? En kuier die kinders nog na skool by Uncle Charlie se kafeestoep? Op daardie stoep is groot drome gedroom, versugtinge uitgespreek en met verlange gepraat oor die groot stede met die mooi huise, duur karre en baie werksgeleenthede wat nie in Petrusburg bestaan het nie. Ek lê vanmiddag onder my dinkbank en ek wonder wat van al daardie kinders geword het. Kon hulle hul kinderdrome verwesenlik en leef hulle hul kinderdrome uit of  beleef hulle 'n nagmerrie op die stoep van die lewe.

Terug na my verrassing. Tannie Charlotte het verlede week die verjaardagmaatjie se koek kom aflewer. Nooit het ek geweet dat *Ruzanne se droomverjaardagkoek 'n kinderfoto van my sou ophê nie. Maats, daardie foto het my gedagtes met 'n spoed terug in tyd gestuur en soos 'n rolprent het my grootwordjare op Petrusburg voor my afgespeel. Ek het Ruzanne sommer net daar 'n leksoen teen die wang gegee, drie draaie om haar gehardloop, my stert amper afgeswaai en uitbundig van vreugde geblaf. Nie lank nie, of die buurt se honde het teruggeblaf! Wat 'n heerlike warm gevoel het in my binneste kom nesmaak.

Maats, tannie Charlotte se koekpresent vir Ruzanne was my herinneringsgeskenk. En op daardie oomblik het ek besef dat 'n mens onthou-oomblikke moet skep. Kinders moet speel, rondhardloop, boomklim, eenbeentjie spring (miskien ken julle dit as Hopscotch), kat-en-muis speel, kennetjie, aan-aan en so kan ek aangaan. Die speletjie waarvan ek die minste gehou het, was kennetjie - heeltemal te veel reëls vir 'n hond wat hou van hardloop. Speel julle nog hierdie speletjies of is julle vasgeplak aan julle fone? En by die huis is dit seker die TV of X-box? Weet julle daar is 'n opwindende lewe weg van die skerms?

Kinders kom die lewe in met bondels energie, baie idees en planne en 'n oop gemoed om te leer. Moenie dit voor 'n skerm deurbring nie. Kyk om jou en spring, lag en gesels. As jy eendag werk of te oud is vir speel, is dit die lekker herinneringe wat 'n reg-rondom-glimlag op jou gesig sit.

Weet julle outjies, ek het ook op Uncle Charlie se kafeestoep gestaan - elke dag - en oopmond geluister na kinderdrome. En ek het gewonder hoe my lewe na Petrusburg gaan uitdraai. En al wat ek in my geestesoog kon sien, was om iemand se waghond te wees. Die lewe het my tienvoudig geseën met 'n ongelooflike sinvolle lewe. Natuurlik is sekuriteit my hoofaktiwiteit, en ek doen dit met soveel liefde, want ek is vir baie meer as net my veiligheid verantwoordelik.

Ek is in Yvonne se woorde: 'n glimlagmaker, 'n trooster en 'n beste vriend. Dit is die lekkerste deel van my werk. Met my fyn ingestelde sesde sintuig weet ek sommer wie het 'n oor of 'n drukkie of net stilte nodig. Ek loop met bondels geheime in my binneste rond, ek herkou aan elkeen en probeer sover as moontlik die regte leiding gee.    

Ek (jare terug) tussen ouma
Annie se blomme. 
Die lewe gaan so vinnig verby - bou aan julle kinderherinneringe. Dankie, tannie Charlotte, dat jy ons verjaardae só spesiaal maak. Dat jy vir ons die genot gee om ons droomkoek te kan beskryf en jy ons koekprentjie in 'n werklikheid omskep.

Dankie, Ruzanne, dat jy my kinderprentjie gekies het - ek wonder wie jou gehelp het.

Dankie, tannie Christelle, dat jy elke vakansie met speelherinneringe vul wat eendag die rede vir ons reg-rondom-glimlag sal wees.

Speelgroete uit Kimberley tot 'n volgende keer!
Ruben

(* Naam verander.)






Saturday, 21 June 2025

Market for Charity Birthday Market @ McGregor Museum

Date: Saturday, 5 July 2025
Time: 10:00-15:00
Venue: McGregor Museum

Many stalls to choose from
Food, Toys, Jewellery, Baked Goods, Crafted Goods and much more!!

WhatsApp 079 981 1240 to book your stall.

Ruben-humor: Diereraaisels met 'n kinkel

* Wat sê die krimpvarkie vir die kaktus? 
Is jy my mamma?

* Waar sit 'n mossie wat 'n ton weeg?
Net waar hy wil.

* Waar gaan visse die graagste met vakansie?
Na Finland toe.

* Wat het die een vis vir die ander vis gesê?
Ek sukkel om kop bo water te hou.

Thursday, 19 June 2025

Ruben se een minuut storie: Olifante gee hulle vryheid prys


'n  Man stap eendag verby ‘n trop olifante wat vasgebind staan. Hy stop skielik en is verbaas dat hierdie enorme diere deur so ‘n dun tou aan die voorpoot vasgehou kan word. Daar is geen kettings, geen hokke nie, behalwe die dun tou aan die voorpoot en ‘n pen in die grond.

Dit was duidelik dat die olifante, indien hulle wou, maklik kon losbreek van die tou wat hul vashou, maar om een of ander duistere rede, het hulle nie losgebreek nie.

Ek is verbaas oor die hele situasie en vra vir een van die olifant-afrigters wat daar naby staan hoekom die olifante geen poging aanwend om los te breek van die toue nie.

“Wel” sê die afrigter, “toe hulle baie jonk en heelwat kleiner was, het ons presies dieselfde dikte tou gebruik as nou en dit was voldoende om hulle so vas te hou dat hulle nie kon losbreek nie. Soos wat hul groter geword het, was hulle so gekondisioneer dat hulle nog steeds glo dat hulle nie kan losbreek nie. Hulle glo die tou kan hulle steeds vashou en daarom probeer hulle nie eens meer om los te breek nie.”

Die man was verstom. Hierdie diere kan enige oomblik loskom van die bande wat hulle vashou, maar omdat hulle glo hulle kan nie, is hulle presies waar hulle nou is.

Maats, soos die olifante, gaan ons deur die lewe en glo ons dat ons sekere goed nie kan doen nie, slegs omdat ons eenkeer onsuksesvol was toe ons dit probeer het.

Soms het die toue vir ons ‘n verskoning geword sodat ons nie weer hoef te probeer nie en ons skuil agter die verskoning van die toue om onsself nie bloot te stel aan moontlike mislukking nie.

Wat het ek uit hierdie storie geleer?
* Mislukking is deel van leer. 
* Moenie mislukking as 'n gerieflike verskoning gebruik om nie iets te wil doen nie.
* Jy misluk nie omdat jy bestem is om te misluk nie, maar daar is lesse wat jy nodig het om te leer om aan te gaan in die lewe.

Wednesday, 18 June 2025

Gedig: Kruise langs mekaar

Elke huis het sy kruis,
’n las wat net die draer ken.
Ek dra myne, jy dra joune – nie omdat ons wil nie,
maar omdat dit ons s'n is.

Jy sou myne optel as jy kon,
ek sou joune dra as ek mag.
Maar ’n kruis pas net op een skouer,
en tog, loop ons langs mekaar,
tree vir tree,
jou sug is my gebed,
my las is jou fluistering in die nag.

Dis ligter so – nie omdat die kruis krimp nie,
maar omdat ons weet,
ons is nie alleen nie.

Jy bid vir my, ek bid vir jou,
want dis altyd makliker
om die hemel te storm
vir iemand anders se seer
as vir jou eie stukkend.

Maar miskien,
net miskien,
is dit presies waaroor vriendskap gaan –
nie om die kruis weg te vat nie,
maar om dit te sien,
te erken,
en saam te loop,
langs mekaar,
deur die stof,
tot by lig. 

[Dankie, Christelle, dat jy hierdie treffende gedig met die lesers deel.]   

Rosetta se goeie wense: Gee om


Dit is nou tyd dat ons
met sagte hande aan mekaar begin vat
met sagte oë na mekaar begin kyk
met sagte tonge met mekaar praat
en 'n daaglikse dosis lag inkry!

Tuesday, 17 June 2025

Statistiek: 16 & 17 Junie

Klik op die skermgreep vir 'n duidelik beeld.
Die afgelope twee dae het die twee Petrusburgers die telbord verander.

Sewe van die top 10 berigte behoort aan die twee viervoetiges. Hulle oortref hulleself en die beste van alles is dat hulle dit só stil-stil doen. Hulle beweeg voortdurend tussen die inwoners met gespitste ore sonder om 'n oog te knip en soos wafferse spioene verbind hulle die kolletjies en maak hulle hul eie
afleidings.

Dit is hoekom Ruben die hoof van sekuriteit is - 'n pos wat hy baie ernstig opneem. 'n Pos wat hom baie na aan die hart lê. Sy werk is beslis sy passie. 
 
Sondag (15 Junie) was Vadersdag en dit verklaar waarom die Vadersdagwense in die nr. 1-posisie is. Ruben se jeugboodskap het nogal 'n statistieke opskudding veroorsaak. Duidelik is terugvoering baie gewild onder die lesers. 

Dan is daar drie van Ruben se Een minuut stories onder die top 10. Dit sê iets van die gewildheid van Ruben se stories. En as jy nog nie een van hulle gelees het nie, soek dit op en gaan lees dit gerus - dis die ou-ou gunstelinge waarmee almal grootgeword het voor die dae van TV. 

Verder is daar 'n Tommie-voëlfluit in die wandelgange gehoor - hou gerus die blad dop vir enige nuwe verwikkelinge. 

Dinsdaggedagtes van Katelyn Marais

Monday, 16 June 2025

Binnekringnuus: Cave Canem - eerste reaksies van ons lesers

* Ruben en Tommie het Vrydagmiddag tydens die storie-uur doodstil sit en luister na die storie van die Drie Varkies wat groot byval by die kinders gevind het. Met die nodige rekwisiete het die drie varkies elkeen 'n lewe van hulle eie gekry. Die moontlikheid bestaan dus dat Ruben en Tommie ook 'n huis wou bou soos die drie slim varkies en dat hulle besef het dat 'n mens geen werk kan aanpak, as jy nie beskerm is teen die aanslae van die uitdagings nie.

** 'n Ander leser meen dat die twee manne 007 van Kimberley in wording is. Maar dis natuurlik 'n groot geheim en daarom is almal aan die raai. 

[Klik HIER vir die oorspronklike berig.]

Binnekringnuus: Cave Canem

Korrespondent: Verlede week het die geheime fotograaf* van Christina Kiddie Kinder- en Jeugsorgsentrum op 'n interessante verskynsel afgekom. Ruben, die hoof van sekuriteit, en sy regterpoot, Tommie, is afgeneem met geel veiligheidshoede op. Die fotograaf was baie gelukkig om hierdie rare verskynsel in beeld vas te vang. Dié foto's het op my tafel beland, maar die rede agter hierdie foto's kon nog nie uitgesnuffel word nie. Dus wend ek my nou tot die lesers vir moontlike verklarings. Die twee se kom en gaan word egter nou met valkoë dopgehou.  

Allerhande stories en moontlike verklarings vir hierdie drag en gedrag word in die koshuisgange gefluister. Die volgende stories het my ore bereik wat ek graag met julle deel, maar as een van julle lesers meer weet,  laat weet ons, asseblief.  
  • Daar is 'n moontlikheid dat die twee op 'n geheime sending was om die speurders te help om saam met die polisiehonde belangrike leidrade uit te snuffel.
  • Hulle kan ook besig wees met nagopleiding om saam met die honde-eenheid te werk wat deur bourommel snuffel.
  • Ruben en Tommie is buitengewoon intelligent wat goeie geselskap, liefde en lojaliteit aan mense bied. Hulle sal dus uitstekende diens- of gidshonde wees. (Weet net nie hoe dit die geel harde hoede verklaar nie. Red.) 
  • Ten slotte kon hulle bloot net deur die speelkamer op hul rondtes geloop het en hierdie hoede waarmee die seuntjies só graag speel, sien lê het en die kind (of liewer ... klein hondjie) se spelerige aard in hulle wakkergemaak is.
* Die geheime fotograaf en die geheime korrespondent werk saam. Soms is dit die foto wat aanleiding gee tot die berig en ander kere is die berig eerste en moet die fotograaf  'n foto kry wat die berig onderstreep. Die vrou agter die lens is eintlik 'n kommersiële fotograaf wat spesialiseer in dokumentêre fotografie. Koester Karos is baie dankbaar dat hulle met 'n omweg die dienste van hierdie professionele kunstenaar kon bekom.

Volgens die geheime fotograaf het die baie bekende Diane Arbus die kuns van fotografie raak opgesom in haar bekende woorde: "Fotografie is 'n geheim van 'n geheim." 

[Klik HIER vir die eerste reaksies.]

Sunday, 15 June 2025

1 Korintiërs 13 vir Pa's

Al sou ek die mooiste huis in die buurt hê en met die duurste BMW ry, maar my vrou en kinders geniet nie die weelde van my teenwoordigheid nie, dan is ek so waardeloos soos 'n bankkrediet met 'n nulbalans.

Al het ek die gawe van woorde sodat ek 'n direksie met my argumente kan swaai, of skares na my preke kan laat stroom, en ek het nie die liefde om na my kinders te luister nie, doen ek meer kwaad as goed.

Al ken ek die geheimenisse van die Beurs en die Reserwebank, en al besit ek al die kennis van rugby- en krieketreëls, en al het ek al die geloof dat ons hierdie land met gebed kan verander, maar ek het nie die liefde om my kinders die gevare van baie geld te leer, langs die baan te staan as hulle speel of hulle te leer bid nie, dan het ek niks bereik nie.

Al gee ek 'n dubbele tiende vir die armes, en al beroem ek my dat ek in elke liefdadigheidsraad op my dorp dien en vakansies my gesondheid opoffer om in malariagebiede sendingwerk te doen, en ek is te moeg om saans vir my kinders boeke te lees of naweke in die veld te gaan stap, baat dit my alles absoluut niks.

'n Pa wat lief het, is geduldig met kinders wat sukkel met wiskunde,
'n Pa se liefde is vriendelik met 'n kind wat nie wil rugby speel nie,
hy is nie afgunstig op pa's met slimmer en mooier kinders nie,
hy is nie grootpraterig en verwaand oor sy kinders se prestasies nie,
'n Pa se liefde handel nie onwelvoeglik met die ma van sy kinders nie,
soek nie sy eie belang sodat sy huismense laaste kom nie,
is nie liggeraak en nukkerig as 'n kind bietjie ekstra aandag soek nie.
'n Pa wat sy kinders lief het, hou nie boek van hulle foute en peper hulle nie met verwyte nie.

'n Pa verbly hom nie oor 'n kind se foute met:
"Ek het jou gewaarsku maar jy wou nie luister nie"
Hy is verheug as hy sy kinders die waarheid hoor praat - selfs tot hulle eie nadeel.

Daarom wil ek my kinders se skandes met liefde bedek,
in hulle glo,
die beste vir hulle hoop,
en hulle kleredrag, klaery en kritiek verdra.

'n Opregte drukkie en 'n intieme gesprek van 'n ouer bly lank in 'n kinderhart. Maar die preek of toespraak wat ek liewer in die tyd wou skryf sal oormôre weer vergeet wees.
Vandag se noterings op die aandelemark is volgende week niks werd nie.
In die lig van die Volmaakte wat kom, word al my kennis en besittings gerelativeer.

Toe ek 'n jong man was, was ek gesteld op my voorkoms, my motor en my geleerdheid,
maar noudat ek 'n pa geword het, wil ek graag my kinders met liefde, balans en geloof grootmaak.

Nou kyk ek nog vas teen rebelse tienergesigte,
maar eendag as hulle groot is,
sal hulle verstaan wat ons hulle wou leer,
en wat God ons almal leer.

En nou:
Geduld, aanmoediging en liefde bly,

Maar die waardevolste hiervan is onvoorwaardelike liefde!

[Outeur: Willem Botha en webruimte: www.heuning.co.za]

Saturday, 14 June 2025

Ruben-humor: Anderste diereraaisels

* Wat kry jy as jy 'n vark met 'n sebra kruis?
Gestreepte worsies. 

* Wat kry jy as jy 'n hond met 'n kameelperd kruis?
'n Dier wat mense oor mure byt.

* Wat kry jy as jy 'n muishond met 'n missiel kruis?
'n Stinkbom.

* Wat kry jy as jy 'n muishond en 'n boemerang kruis?
'n Reuk waarvan jy nie ontslae kan raak nie.

Friday, 13 June 2025

Nog 'n Ruben-bewonderaar skryf ...


Liewe Liz
Dit is darem nou 'n lekker WA-boodskap. Dankie vir hierdie besondere kompliment. Ek waardeer dit uit my hart uit. Dis nie maklik om altyd op die regte spoor te bly nie, nog moeiliker om altyd die regte voorbeeld te stel - daar is só baie oë op my en ek wil nie graag onthou word as 'n "messing" in plaas van 'n "blessing" nie.
Geniet jou naweek en lekker lees aan Koester Karos - die warmste leesstof vir hierdie koue dae!
Ruben-groete

Die stille luisteraars met hul omgeeharte en harige drukkies

Tommie, die rustige man met die gewillige ore! 

Liewe Yvonne, was ons nou verras om 'n WA-boodskap van jou te kry. Ons twee het soos uitgelate kinders mekaar gehigh five, want dis vir ons heerlik as ons vir iemand iets kan beteken. 'n Hond moet mos blom waar hy geplant is en blaf wanneer hy kan. Jy moet jou naweek geniet en onthou altyd: ons is enige tyd beskikbaar vir 'n lekker kuier. 
Sonskyn-groete!
Ruben en Tommie

Ruben se Junie-jeugboodskap vanuit 'n koue Kimberley


Liewe Maats

Ek skryf hierdie briefie uit 'n baie koue Kimberley. Die temperature het die laaste paar dae drasties geval en ek het so in my enigheid gehoop dat dit hier by ons sou sneeu. Dan was al die gebibber en gebeef die moeite werd en kon ons met foto's van sneeumanne en sneeuballe by julle spog. Maar op hierdie stadium is daar geen glansryke foto's van my en Tommie nie. Ons twee kruip saans met ons teddies styf teenaan ons in die bed vir 'n bietjie teddiehitte. Bedags as die sonnetjie floutjies agter die horison uitkruip, dan is ons egter gereed vir die dag se take. Ons draf so 'n paar keer op en af langs die heining, blaf uit volle bors vir die verkluimde voetgangers en as jy jou oë uitvee, lyk ons nie meer soos twee Koue Bokkeveld vierpotiges nie.  

Kom ek begin by gister se klein kringetjie vergadering (KKV) wat Tommie ongenooid bygewoon het. Maats, julle weet mos sekuriteit is my afdeling en Tommie is my ekstra paar oë en ore. Dit blyk dat dié klompie 'n verrassingsverjaardagpiekniek vir een van hulle maats beplan. Almal kon sinvolle kommentaar op die voorstelle lewer. Tommie se bek werk vinniger as sy brein, gevolglik blaf hy eers en dan dink hy. Hy blaf in geen onduidelike taal dat dit
'n doodgebore idee is. Die koue saam met die aktiewe westewind, is piekniek langs die swembad nie in die winter haalbaar nie. Hy is egter sy blaf belet, gevolglik het hy in stilte verder na die sinlose voorstelle geluister. 

Die klompie het toe besluit om oor die voorstel te gaan slaap en die volgende dag terug te kom. Ek weet nie of Tommie toegelaat sal word om die volgende KKV by te woon nie.

Terwyl ek nou so flink aan die skryf is, gaan ek sommer met julle my gedagtes oor Vadersdag en Jeugdag deel. Dié twee dae lê my naby aan die hart. Eintlik is dit die ironie wat hierdie twee dae verteenwoordig, wat 'n yslike bekommernis vir my is en ek wonder ook of hierdie twee dae vir julle dinkdae is en of die betekenis van dié spesifieke dae by julle verbygaan.

Dit is ‘n mooi gedagte om een spesifieke dag te gebruik om spesiaal vir pa's dankie te sê vir al hul liefde en opofferings deur die jaar vir ons. Maar my gevoel is dat elke dag eintlik Vadersdag behoort te wees. Ons moet elke dag vir ons pa's dankie sê vir alles wat hulle vir ons doen. Hulle is nie net daar om 'n salaristjek huis toe te bring en in die gesin se finansiële behoeftes te voorsien nie. Hulle het 'n belangriker doel - hulle verteenwoordig die Hemelse Vader hier op aarde. 
Ek en pa - jare terug op Petrusburg

Dit is egter net hier wat al my hare op my rug orent staan. As ons een vir een in die eetsaal moet opstaan en sê wat ons van ons pa's weet, gehoor het, ervaar het of waardeer, hoeveel van ons kan dit met vreugde doen?

Ons almal kan boekdele vol skryf oor afwesige pa's. Pa's wat nie omgee of daar vanaand kos op die tafel is en of ons skoolgeld betaal word nie. Pa's wat nie vir ons gelukwens met ons verjaardae nie en pa's wat naweke saam met sy pêlle by die kuierplekke rondhang omdat die verantwoordelikheid van pa-wees lankal vir hulle geskiedenis geword het. Outjies, niks wat ek sê kan of gaan julle situasie verbeter nie, maar onthou dit: Leer uit jou pa se foute, maar die heel belangrikste is - wees jý 'n beter pa vir jou kinders as wat jou pa vir jou is. En meisies, kies vir julle eendag 'n lewensmaat wat in alle opsigte 'n goeie pa vir sy kinders sal wees - dit is my hartswens vir elkeen van julle hierdie Vadersdag. Ons kyk vorentoe en nie agtertoe nie, want dis nie waarheen ons op pad is nie. 

Pa en Tommie in 2024
En vir julle wat 'n prima-pa het: bederf hom, waardeer hom, leer van hom en koester hom, want hy is een uit 'n miljoen. Loop in sy voetspore en volg sy voorbeeld. 

Dit bring my by Jeugdag ... 'n dag wat so belangrik is, dat dit 'n nasionale vakansiedag is. Hoe belangrik is Jeugdag vir jou? Dink jy oor die jeug, jou eie jeug en oor jou toekoms? 

Ek wil regtig nie soos my ouma Annie van Petrusburg klink nie, maar as ek elke aand die nuus kyk, verstaan ek hoekom sy met elke foonoproep vir my en Tommie preek. Die nuus oor ons jeug skok my tot in my kleintoontjie. Bendegeweld, dwelms, misdaad en opstande is aan die orde van die dag. Jeugdag is vir my die dag waarop ons as Suid-Afrika ons toekoms vier. Maar hoe kan ons ons toekoms vier as ons klaar verkeerde keuses gemaak het?

My Kiddie-maats, onthou altyd: 'n mens kry elke dag keuses om te maak tussen reg en verkeerd. Tussen lig en donker. Tussen lewe en dood. Moenie hierdie kans om die regte keuse te maak, verbrou nie. En as jy sukkel met jou keuses, kom maak 'n draai by my of Tommie, tannie Christelle of jou huisma. 

Ons hartsbegeerte vir elkeen van julle is om doelgerig verantwoordelikheid te neem vir jou toekoms. Wees vasberade dat die verkeerde besluite wat jou pa gemaak het, nie jou keuse gaan wees nie. Onthou, daar is GEEN beperking op wat jy kan bereik nie.

Maats, op hierdie noot van hoop en moontlikhede, wil ek vir julle 'n heerlike jeugdag toewens! 

Warm groete tot 'n volgende keer!
Ruben

 
 

Wednesday, 11 June 2025

Rosetta se goeie wense: Lewe goed


God werk op vreemde wyses.
Sy wil is nie ons wil nie.
Sy gedagtes is nie ons gedagtes nie.
Sy tyd is nie ons tyd nie.
Daarom moet jy:
* Diep dink
* Saggies praat
* Baie liefhê
* Vriendelik wees
* Gereeld lag
* Blymoedig gee
* Opreg bid
* Hard werk
* Voluit lewe.
Want elkeen wat goed lewe,
lewe lank want ons lewenstyd
word nie bereken in jare, dae of ure nie.

Saturday, 7 June 2025

Ruben-humor: Lawwe definisies

* Wat is die definisie van 'n tiener?
Iemand wat alles weet, nie bang is om dit vir die wêreld te vertel nie, maar nie genoeg kennis het om eksamen te skryf nie.

*  Wat is die definisie van 'n kalender?
'n Kaart wat jy volg om by Kersfees uit te kom.

* Wat is die definisie van 'n hond?
'n Vel vol blaf.

* Wat is die definisie van selfvertroue?
Dit is as jy jou Huisgenoot-blokkiesraaisel met pen invul.