Monday, 29 December 2025

Vakansie-idees: Probeer dit!

* Leer om 'n analoog-horlosie te lees.

* Doen vrywillige werk by die DBV of 'n diereskuiling.

* Leer 'n paar kaarttruuks aan en vermaak jou maats as julle verveeld is. Los 'n slag die selfone uit.

* Leer om die blombeddings te bemes en potplante uit te plant. Jy het dalk groenvingers en jy weet dit nie eens nie.

* Vra vir Tannie Mittah om jou te leer konfyt kook. Jy kan nie vir 'n beter leermeester vra nie.

Saturday, 27 December 2025

Ruben-humor: Lawwe definisies

* Wat is die definisie van rolskaatse?
Dit is tekkies sonder remme.

* Wat is die definisie van 'n kat?
Iets wat aanmekaar in ander mense se erwe en lewens is, in plaas van in sy eienaar s'n.

* Wat is die definisie van 'n hond?
Iets wat snags verskriklik blaf en hopies probleme skep.

Thursday, 25 December 2025

Kerswense 2025

'n Kersfeesboodskap

Mnr. G. Grobler van Laerskool Koedoeskop: "Ek het die volgende boodskap ontvang van iemand spesiaal, dalk bring dit ‘n boodskap tuis vanjaar. Matt 9:13 “Ek het nie gekom om mense te roep wat op die regte pad is nie, maar die sondaars”

Kersfees is ‘n tydperk van besluite - waar gaan ons wees, wat gaan ons eet en wie gaan wat kry? Jingle Bells en Stille Nag se klanke oor winkelsentrums se klanksisteme in jou ore dui die frustrasie van nog ‘n jaar se Kersfeesverkope aan. Jy en mamma het al ‘n geveg voor die eerste geskenk gekoop is. Indien dit die geval is, lees die volgende verhaal en gee dit vir iemand voor dit te laat is."

Waarheen is jou skip van drome op pad?
Sy het bekend gestaan as die skip van drome. Sy was agthonderd en negentig voet lank. Veertienduisend mense het aan haar gebou. Die anker het vyftien en ‘n half ton geweeg en is deur twintig perde van die fabriek af tot by die skip getrek. Die binnekant van hierdie skip het tien maande geneem om te voltooi, altesaam ‘n paar miljoen ure se werk aan Louis Quinze Klassieke Versailles en Victoriaanse versierings, Crown Berger skilderye, Franse kafees en Turkse baddens om maar net ‘n paar te noem.

Sy is ook genoem: Die onsinkbare skip en in ‘n koerant van 1912 word berig dat selfs God haar nie kan sink nie.

Maar op Sondagaand 12 April 1912 sink die Titanic binne twee ure en neem 1500 lewens saam na haar watergraf.

Tydens hierdie twee ure het interessante verhale afgespeel. Daar was te min reddingsbote. Die rykes en vernames het gesorg dat hulle eerste plek kry. Later het die kaptein oor sy megafoon afgekondig dat net vrouens met babatjies plek op die reddingsbote mag kry. ‘n Man met ‘n babatjie in sy arms het verby ‘n vrou gehardloop wat nie ‘n kind gehad het nie. Vir haar was die afkondiging ‘n doodsvonnis. Skielik het haar situasie verander toe die man sy kind in haar arms sit en sê: Dit is joune ... hardloop vir jou plek op die reddingsboot!

Wat is jou grootste Kersgeskenk?

Ons is almal daarvan bewus dat ons lewensvaart iewers soos die Titanic gaan sink. Ons is ook bewus daarvan dat nie almal in hierdie lewe die reddingsboot van Jesus gaan haal nie.

Met Kersfees kom sit God opnuut weer sy kind in jou arms en sê: Dit is joune ... hardloop na my reddingsboot. Moenie wag tot dit te laat is nie. Wanneer ‘n skip sink, word lug uitgeblaas en water ingesuig. Wag jy tot dit te laat is, word jy saam ingesuig, al spring jy. Die meeste mense wat hulle lewe in die Titanic ramp verloor het, het nie verdrink nie maar verkluim. Wie wil in koue water ronddobber as Jesus reeds vir jou ‘n plek op sy onsinkbare reddingsboot voorberei het.

Miskien is daar iemand waaroor jy baie bekommerd is of wonder waar hulle welvaart hulle aan die einde van nog ‘n jaar bring. Miskien sukkel jy ook soos ek om geskenke te koop en wonder wát jy vir daardie een sal koop die jaar. Gee dan bogenoemde Kersfees-reddingsverhaal vir daardie persone as ‘n geskenk. Sit Jesus in die arms van mense wat oop oë besig is om te sink. Dit is tog al waaroor Kersfees gaan, dit mag dalk daardie persoon se grootste geskenk wees in sy lewe.

Sonder Jesus is ‘n vyftien ton anker te lig. My wense vir almal is: dat julle reeds plekke het op God se reddingsboot.

[Kwêvoël - December 17, 2010]

Monday, 22 December 2025

Die waarde van 'n drukkie

Het jy al ooit gewonder ... wat in 'n hartlike drukkie opgesluit is? Is dit bloot 'n gebruiklike groet, 'n bond van vertroosting of 'n gebaar om te wys dat ons omgee? Watter betekenis dra die vlugtige drukkie? Wel, dit blyk dat ouers se drukkies vir hul kinders groot gewig dra. 

In die Skrif sien ons die diepgaande uitwerking van 'n vader se omhelsing in die gelykenis van die verlore seun (Luk. 15). 'n Eenvoudige drukkie was instrumenteel om die innerlike konflik van die eiesinnige seun tot bedaring te bring en het gedien as 'n tasbare versekering van sy pa se onwrikbare liefde.

As jy 'n ouer is, en dit spreek tot jou, knyp vandag 'n tydjie af om jou kind 'n stywe drukkie te gee. Ons kinders het nie nog 'n lesing of 'n streng berisping nodig nie, wat hulle nodig het, is om die Evangelie van genade te ervaar.

[Bron: JUIG! Tydskrif: Mei 2024]

Vakansie-idees: Probeer dit!

* Wees gaaf met die kelner wat jou bedien.

* Gee jou brakkiesakkie van die restaurant vir 'n hawelose persoon. (Jy het te veel kos geniet en hy sit en wag vir iets om die hongerpyne te stil - plaas jou in sy posisie!)   

* Elke keer as jy nuwe klere kry, gee van jou ou kledingstukke weg.

* Groet jou bure vriendelik as jy hulle in die straat sien. 

* Glimlag sommer vir iemand wat verby jou loop. (Baie gou raak hierdie 'n gewoonte wat nie net vir jou beter laat voel nie, maar ook die persoon wat die opregte glimlag gekry het.)

* Samel toiletware en ander noodsaaklikhede in vir 'n skuiling vir haweloses.

*  Sê gereeld dankie as iemand jou help.

Dankie vir AL bogenoemde voorstelle. Julle outjies kook as dit by idees kom. Sommige voorstelle is regtig van lesers met 'n hart vir uitreik. Uitreiking het gewoonlik verrykende gevolge en ons sal dit graag hier met ander wil deel!

Sunday, 21 December 2025

Ruben deel sy vriendin Talana se brief


Liewe Maats

Vandag gaan ek met 'n ander een se kalwers ploeg. Ek kan dit egter nie beter stel nie en ek glo dat liewe Talana nie sal omgee as ek haar brief met julle gaan deel nie. Sy het die tienerrubriek in die KEUR hanteer in 1994 - julle is reg - dit voel soos eeue terug. Nietemin, lees asseblief haar brief en laat weet my wat julle daarvan dink.

Dus kry julle vandag 'n brief binne 'n brief.

Liewe Tieners

Wel, waar ons die pylvak van nog 'n jaar binnegaan, wil ek vir julle vra dat julle my groete vir die Kerstyd en die hartlikste wense vir 'n aangename, geseënde en voorspoedige nuwe jaar aan julle ouers sal oordra ... en natuurlik ook vir julself elkeen 'n groot skep goeie wense neem. Julle is immers die belangrikste rede hoekom hierdie rubriek bestaan.

Julle sien, al lyk dit nie elke dag so nie en al voel julle soms bedruk en hartseer en onvoldoende toegerus vir al die eise wat aan julle gestel word, bly julle nog steeds die hoop vir ons land se toekoms.

Ons is oud, uitgedien en het ons beurt gehad, goed of sleg. Dis verby. Maar julle, wat nog jonk is en vir wie die wêreld wyd en oop lê, kan die toekoms maak of breek.

Jy kan bou of afbreek. Jy kan glo of ongeloof laat hoogty vier. Jy kan verbeter of versleg. Jy kan groei of stagneer.

Niemand kan jou máák bou, glo, verbeter of groei as mens en persoon as jy nie sélf wil nie. Jy sit met die magtigste wapen in jou tienerhande: dat jy jou eie toekoms en jou eie lewe kan beheer.

Die boustene is daar wat jy moet benut: geloof, opvoeding, norme en waardes, tradisie en kultuur. Wat jy daarmee gaan doen in die nuwe jaar, weet net jyself. Ek glo voluit in julle as tieners en in jul potensiaal.

Jy hoef nie berge te versit of brûe te bou in een dag nie, maar 'n klein, klein klippie van geloof, liefde, aanvaarding, selfrespek,  trots en vasberadenheid elke dag kan aan die einde van volgende jaar 'n stewige muur gevestig hê waarop jy dag na dag, jaar na jaar kan voortbou in geloof in die toekoms. Dit kan jou beskut, jou anker, en aan jou 'n vastrapplek gee om te waag in die lewe.

Die grootste dam het begin met een druppel water. Die hoogste boom het begin as 'n nietige saadjie. Die rykste mens moes iewers die eerste keer 'n enkele sent in sy hand gehou het. Die beste spreker in die belangrikste parlement het ook op 'n tyd probeer ba-ba-ba sê en dit reggekry.

Die geheim is dat jy daardie eerste woord, eerste tree, eerste aksie sal probeer, en dit regkry. Dis maklik. Dan moet jy daarop voortbou. Tree vir tree, woord vir woord, sent vir sent en druppel vir druppel, tot jy kom waar jy wil wees. probeer dit. Voordat jy jou kom kry, is jy magtig, ryk en beroemd, deur die filosofie van one step at a time.

Die tweede geheim is dat jy nooit jou oorsprong sal vergeet nie. Al is jy eendag hoe ryk, hoe magtig, hoe beroemd, sou jy niks gewees het, sonder daardie een enkele tree, daardie sukkelende woord, daardie nietige geldstukkie nie. Wanneer jy op die toppunt is, kan jy ander se hande vat en hulle help op daardie eerste tree, met daardie eerste woord en aan daardie eerste sent. Want hierdeur kan 'n mens ryk, magtig en beroemd bly én gelukkig wees in alles wat jy doen. 'n Mens koop nie geluk nie. Jy skep dit vir andere en dit reflekteer duisendvoudig keer na jouself ...

Probeer dit. 

Maats, hier is soveel goeie wenke en gedagtes vir 'n blink toekoms, dat ek julle graag wil uitdaag om dit ter harte te neem. Skryf een gedagte voor in jou huiswerkboek en werk die nuwe jaar daaraan, sodat 2026 'n onthoujaar vir jou sal word.

Hartlike groete uit Kimberley tot 'n volgende keer!
Ruben













[Bron:  Kom ons gesels met Talana KEUR 14 Januarie 1994]

Saturday, 20 December 2025

Ruben-humor: Anderste raaisels

* Raai, raai, wat noem 'n mens 'n vlieg sonder vlerke?
- 'n Loop

* Raai, raai, watter maand praat meisies die minste?
- Februarie

* Raai, raai wat gaan op en kom nooit weer af nie?
- Jou ouderdom

* Raai, raai wat was was voordat was was was?
- is (teenwoordige tyd en was is verlede tyd)

* Raai, raai ek het ‘n perdjie, hoe verder ek hom ry, hoe korter word sy stertjie. Wat is dit? 
- Naald en gare

Monday, 15 December 2025

Vakansie-idees: Probeer dit!

* Skryf 'n briefie, kaartjie of e-pos aan 'n onderwyser wat 'n verskil in jou lewe gemaak het. (Leef altyd dankbaar!)

* As jy iets in die kombuis mors, maak dit dadelik skoon voordat iemand daarop gly en seerkry. (Bied sommer vir jou ma aan dat jy die hele kombuis vir haar van hoek tot kant sal skoonmaak vir 'n Kerspresent.)

* Leen of gee vir iemand 'n inspirerende boek. (Die groot lekkerte lê daarin dat julle die boek kan bespreek.)

* Bring vir iemand 'n klein aandenking wanneer jy 'n nuwe plek besoek, om te wys jy het aan hom of haar gedink.

* As 'n groep mense oor iemand skinder, onderbreek die gesprek deur iets moois van die betrokke persoon te sê. (Doen dit net hierdie vakansie en voordat jy jou oë uitvee, is dit 'n gewoonte wat aansteeklik inwerk.)

* Vra jou ouers of julle as gesin 'n troeteldier kan aanneem wat nie 'n huis het nie.

* Indien jou ouers NEE sê vir bogenoemde idee, gaan werk dan by die DBV/SPCA. 'n Ekstra paar hande om hokke skoon te maak of diere te bad, is nooit te versmaai nie.  

* Pas 'n enkelma se kind gratis op sodat sy 'n aand uit kan geniet.

* Bied aan om die trollie vir iemand terug te vat nadat hulle hul inkopies in die kar gelaai het.

Dankie vir AL bogenoemde voorstelle. Julle outjies kook as dit by idees kom. Sommige voorstelle is regtig van lesers met 'n hart vir uitreik. Uitreiking het gewoonlik verrykende gevolge en ons sal dit graag hier met ander wil deel!

Sunday, 14 December 2025

Kersfeesprojek verras en maak drome waar


Ons hier by Christina Kiddie Kinder- en Jeugsorgsentrum het gister opgewonde kon deel in die feesseisoen se vreugde danksy The Word Church se Kersgeskenk-inisiatief, onder leiding van Zane en Anja.

Die kinders is elkeen bederf met 'n Diamond Pavilion Mall-geskenkbewys en gisteroggend het die jongmense die inwoners mall toe geneem sodat elkeen sy of haar bewys kon spandeer op dit wat net 'n gedagte of 'n vae droom was. Die skielike waar word van drome is nog besig om in te sink tussen opgewondenheid en ongeloof. 

'n Verbaasde, maar ewe opgewonde personeel het gedeel in hierdie vreugde en 'n uit-die-hart-DANKIE vir elkeen se geskenkbewys.

Dankie The Word Church dat die ware Kersboodskap nie net lippetaal is nie, maar dat julle die pad met elkeen van die kinders loop.

Mag julle as gemeente ryklik geseën word in alles wat julle aanpak. Mag Sy goedheid en guns julle elke dag van jul lewe volg. Vreugde en seën vir Kersfees 2025!!!

Saturday, 13 December 2025

Ruben-humor: Algemene vrae met sinvolle antwoorde

* Hoekom is ’n olifant groot, grys en verrimpeld?
Want as hy klein, wit en rond was, sou hy ’n Disprin wees.

* Wat kry jy as jy ‘n windhond met ’n muishond kruis?
’n Dier wat met ’n stink spoed hardloop.

* “Wat gee jy jou ma en pa vir Kersfees Jannie?”
“’n Lys van alles wat ek wil hê, Juffrou.”

* Buurman: "Koos, kom gou! Jou hond het so pas ’n man gebyt, terwyl hy op sy fiets ry!"
Koos: "Wat makeer die verbrandste hond? Ek het hom spesifiek verbied om vandag met sy fiets te ry!"

Monday, 8 December 2025

Vakansie-idees: Probeer dit!

Na aanleiding van, Maandag - 6 Oktober 2025, se vakansie-idees, word die volgende idees geplaas wat so broksgewys per e-pos aangestuur is.

* Bak kolwyntjies of muffins vir iemand wat deur 'n moeilike tyd gaan.

* Skenk jou boeke wat jy nie meer lees nie, vir die biblioteek, ouetehuis of liefdadigheid. 

* Skenk kinderboeke vir 'n kinderhuis.

* Begin 'n spaarbussie vir liefdadigheid en skenk die geld na 'n jaar vir hulle. (Verstommend is die hoeveelheid geld wat 'n mens in 'n jaar gefokus bymekaar maak.)

* Reël 'n insameling van speelgoed vir minderbevoorregte kinders.

* As jy iemand is wat van tuinwerk hou en jou oupa se groenvingers geërf het, gaan bied jou hulp aan by 'n ouetehuis, kerk of jou skool om vir die liefde van die saak in die tuin te werk. Niemand sal dit glo dat enige een so hulpvaardig wil wees nie. Sleep sommer jou beste maat saam om jou te help. 

* Iets wat nie sommer gaan byval vind nie, maar wat voorgestel is: Gaan was die venster van julle polisiestasie.  

Stuur asseblief foto's vir ons hier by Koester Karos dat ons vir die lesers kan wys dat julle voorstelle nie net op papier geskryf is nie, maar dat julle tieners is wat die daad by die woord voeg!

Saturday, 6 December 2025

Ruben-humor: Raaisels

* Waarin ry 'n vark hospitaal toe as hy siek is?
In 'n HAMbulans

* Waarheen word 'n siek haas geneem?
Na 'n HAASpitaal

* Wat word 'n vrolike vlooi genoem?
'n HOPtimis

* Wat is die teenoorgestelde van 'n haarkapper?
'n HOMkapper

Thursday, 4 December 2025

Ondersteun Lize en WB se liefdesprojek

Kontakpersone: 
Lise: 063 697 3040
WB: 071 491 0057

Ruben se een minuut storie: Vat hom, Jakkals!


[Onthou om verlede week se storie te lees, voordat jy hierdie een lees. Dis goed om jou geheue te verfris, sodat jy kan sien wat Hasie weer in die mou voer.]

Party dae is Hasie glad nie waaksaam nie en is hy nie op die uitkyk vir gevare nie. Party dae vergeet hy eenvoudig om wakker en waaksaam te wees en loop dan sonder dat hy dink aan al die misdaad in die land.

Vandag is een van daardie dae. Hasie is glad te gerus. Sing-sing loop hy in die paadjie. Wirts warts vinnig om die bossies. Kyk nie waar hy loop nie; trap nie waar hy kyk nie. Skielik en onverwags! Woep! Daar sit hy. Jakkals het taai voëlent aan ‘n stomp gesmeer en dit in die paadjie neergesit. Hasie spook, maar hy sit net al hoe vaster. Hy ruk en pluk en skree.

Jakkals kom tussen die bossies uit. “Ha! Nou het ek jou, Haas!” sê hy. Sy lippe is nog altyd skeef geswel van die bysteke sodat dit lyk asof hy nie kan ophou lag nie. Jakkals het hom voorgeneem om Haas nie te vergewe vir die klomp bysteke nie. Hasie gaan beslis vandag op die Jakkals-gesin se tafel land!! 

Hasie word stil ... sommer doodstil!  

“Ja, jy het my, Jakkals,” sê hy. “Nou kan jy my maar opeet. Dis net jammer om so dorstig te sterwe. Ek was juis op pad rivier toe.”

“Nee, ons kan ‘n bietjie gaan drink,” sê Jakkals, wat hom heeltemal droëtong gehardloop het om die strik vir Hasie reg te kry. Hy pluk Hasie los van die voëllym af, gooi hom oor sy skouer en stap af na die drinkplek toe.

Ai, hoe stil en blink is die water nie. Jakkals laat sy kop sak om te drink. Maar kyk hoe ongeskik is hierdie ander jakkals! Hy druk sommer sy snoet tussenin. “Gee pad!” brom Jakkals.

“Wat is dit nou, Jakkals?” vra Hasie agter sy skouer.

“Kyk self,” sê Jakkals, en hy sit hom neer. En: “Staan soontoe!” sê hy vir die ander jakkals wat hom al weer skeef aankyk.

Hasie sien dadelik dat Jakkals met sy eie weerkaatsing baklei, maar hy sê niks nie.

“Loop weg hier!” sê Jakkals vir die derde maal, en hy wys tande, maar die waterjakkals wys terug.

“Moenie so met jou laat speel nie!” roep Hasie. “Kyk hoe staan daardie ander dier se mond soos hy jou uitlag. Vat hom, Jakkals!”

Toe Jakkals gryp, gryp die ander jakkals ook. Toe Jakkals duik, is hulle doems al twee binne in die water. Toe Jakkals verdwyn, is alles weg.

“Ha ha ha!” lag Hasie:

“Kwaai is kwaai,
en kwaai se voet:
ou Jakkals soek
sy eie bloed!”

En toe Jakkals hangstert uit die water klim, sing Hasie al ver in die paadjie af.

[Die Mooiste Afrikaanse Sprokies uitgesoek en oorvertel deur Pieter W Grobbelaar. Klik HIER vir tonekrulstories.]

Wat het ek uit hierdie storie geleer?
* Wees altyd waaksaam - op hierdie manier bly jy uit die moeilikheid.
* Jy moet altyd 'n slim manier hê om uit die moeilikheid te kom.
* Moenie jou opponent onderskat nie - eendag is eendag dan gaan jou plannetjies nie werk nie.

Wednesday, 3 December 2025

Dankie aan al die Desember-engele

Dr. Donald Katts: "Desembermaand vier ons nie net Kersfees nie, maar is dit algemeen die tyd vir die viering van goeie bedoelinge, welwillendheid, die bewys van genade, goeie gees en gesindheid."

Ons by Christina Kiddie Kinder- en Jeugsorgsentrum beaam heelhartig dr. Katts se woorde. Die goeie gees en gesindheid wat ons van Kimberley se kinderkoor (KCC) en Kimberley se mense ervaar het, stem ons tot diepe dankbaarheid vir Sy groot genade. God bederf sy kinders met Goddelike omgee en sorg.

Dankie dat julle aan ons gedink het en dankie dat julle met 'n oop hand na die Kersuitvoering gekom het.

Mag julle elkeen hierdie Kersfees God se onbeskryflike liefde en genade in oorvloed ervaar!

Die uitnodiging wat soveel harte
verbly het.
'n Verrassing: 'n Hartsbrief uit een van die sakke.
Dankie!!

Rosetta se goeie wense: Blye Boodskap


Desember is die laaste hoofstuk van die jaar.
Mag die Blye Boodskap elke bladsy
vul en jy die grootste geskenk Jesus,
daagliks teen jou hart vasdruk en
koester met oneindige dankbaarheid. 

Saturday, 29 November 2025

Ruben-humor: Allerlei

* Ek het nog altyd gedog my bure is oulike mense, maar toe sit hulle 'n wagwoord op hul wi-fi.

* Tagtig skoorstene plus agt skoorstene plus sewe skoorstene is gelyk aan?
Baie rook.

* Krieketspeler: "Ek het gewonder hoekom die bal al groter en groter word ... en toe tref dit my."

* In 'n boetiek
Klant: "Kan ek asseblief die rok in die venster aanpas?"
"Nee, jammer, Mevrou, ons het aanpashokkies daarvoor."

Friday, 28 November 2025

Black Friday-pryse: net vandag en môre

Beperkte voorraad @ Black Friday-pryse!!


* Klein koekies teen 'n ongelooflike
R129,99 p/kg.

* Pasteitjies teen 'n bekostigbare 
R39,99 vir 6

Bestel nou dadelik hierdie lekkernye, betyds vir Kersfees, teen 
Black Friday-pryse!

WhatsApp-bestelling: 060 882 9291

Black Friday-pryse: net vandag en môre


Beperkte voorraad @ Black Friday-pryse!!

* Klein koekies teen 'n ongelooflike R129,99 p/kg.

* Pasteitjies teen 'n bekostigbare R39,99 vir 6 

Bestel nou dadelik hierdie lekkernye, betyds vir Kersfees, teen Black Friday-pryse!

WhatsApp-bestelling: 060 882 9291

Vakansie-idees: Probeer dit!

* Kweek groente van saad in julle tuin.

* Weet jy hoe om 'n vuur te pak? Vra jou pa/oom/meneer as julle volgende keer gaan braai of jy die vuur kan pak.

* Skerp jou kennis van geskiedenis op, al hou nie daarvan nie. Google net wie die uitvinders is van 'n spesifieke item en hoe dit gebeur het en jy sal verbaas wees oor hoe interessant dit is. 'n Voorbeeld: Wie het die eerste uitveër gemaak? Wat is die oudste tydskryf op aarde?  Hoe verskil vakansies in verskillende lande en hoekom?

* Leer hoe om die grassnyer te gebruik en ook sommer om die randte mooi te knip. 

* Leer om 'n paar klimtoltoertjies te doen.

* Kan jy jou eie klere stryk? Leer hoe om te stryk voordat jy eendag jou eie nes gaan skrop.

* Leer om 'n landkaart te lees, al is daar tegnologiese hulpmiddels. Nie almal kan 'n landkaart, selfs 'n stadskaart lees nie. 

Portia's Friday advice

Thursday, 27 November 2025

BLACK FRIDAY is hier! Bestel NOU!

Moenie hierdie Black Friday-aanbod deur 
jou vingers laat glip nie!! 


* Klein koekies teen 'n ongelooflike R130 p/kg.

* Pasteitjies teen 'n bekostigbare R40 vir 6 

Bestel nou dadelik hierdie lekkernye, betyds vir Kersfees, teen Black Friday-pryse!

WhatsApp-bestelling: 060 882 9291

Ruben se een minuut storie: Die Byekerk


Elke dag is so vol en besig dat Hasie mooi moet beplan hoe hy sy dae gaan inkleur. Vroeg een oggend hardloop Hasie na die berg se kant toe, en daar sien hy ’n bynes diep in ‘n klipskeur. 

“Ai!” sê Hasie: “Lekker is lekker,
en goed is goed -
en die beste lekker
is heuningsoet!”

En Hasie druk sy kop diep in die skeur om die nes by te kom, maar hy het nie geweet dat Jakkals al weer spoorsny nie. Hy sit nog so, toe Jakkals hom aan die hakskeen gryp. “Ha! nou het ek jou, Haas,” sê Jakkals, en hy wil hom sommer sy tande in Hasie se sagte vleis laat insink.

Maar Hasie het klaar geskrik. Hy sit sy brein in hoogste versnelling en dink baie vinnig. Hy weet Jakkals wag vir 'n geleentheid om van hom 'n maaltyd te maak. Gelukkig is hy strate slimmer as Jakkals en kry hy dit reg om elke keer vir Jakkals uit te oorlê.

“Sjuut, Jakkals,” sê hy. “Kan jy nie hoor my vriende hou kerk nie?”

“Waar?” vra Jakkals nuuskierig.

“Hier in die klipskeur,” sê Hasie. “Ai, hulle sing tog te pragtig!”

“Laat ek hoor, sê Jakkals, en hy druk sommer in. Dan trek hy sy kop weer uit en sê: “Nee wat, hulle kan nie sing nie. Dis net brom brom brom, al op dieselfde wysie.”

“Hulle is seker moeg,” sê Hasie. “Steek ‘n bietjie ‘n stok daar by die voordeur in dat hulle weet ons is hier. Dan moet jy hoor.”

En Jakkals gryp ‘n stok, en hy werskaf in die klipskeur rond, en toe druk hy sy kop in om goed te luister.

Nee kyk, dit was ‘n sonde. Die bye mors met Jakkals; hulle verniel hom; hulle steek hom byna dood. Hy spring om en hardloop, maar die bye het nie tyd nie. Dis net zoem tjiek! “Eina!” Zoem tjiek! Zoem tjiek! Zoem tjiek! “Eina! Eina! Eina!”

Hasie lê soos hy lag. Hy rol soos hy lag. Hy maak hom eintlik seer. Nee, Jakkals sal hom nie gou weer pla nie. Hy sal vir die volgende week heerlik kan rondloop, sonder dat hy voortdurend op die uitkyk vir Jakkals moet wees.

[Die Mooiste Afrikaanse Sprokies uitgesoek en oorvertel deur Pieter W Grobbelaar. Klik HIER vir tonekrulstories.]

Wat het ek uit hierdie storie geleer?
* Maak seker dat jou nuwe vriende nie vals vriende is nie.
* Vals vriende lyk asof hulle in jou doen en late belangstel, maar eintlik kyk hulle net waar hulle jou      
    aan die hakskeen kan byt.
* Dink voordat jy enige iets doen.

Saturday, 22 November 2025

Koop jou kleinkoekies vir Kersfees NOU - moenie wag nie!!

Kom koop nou jou kleinkoekies vir Kersfees by 
Christina Kiddie Kinder- en Jeugsorgsentrum!


Come and choose from a variety of
Christmas cookies at
Christina Kiddie!!

Ruben-humor: Allegaartjie

* Wat noem jy 'n hond wat kulkunsies doen?
'n Labrakadabrador 

* Wat eet rekenaars vir 'n versnapering?
Mikroskyfies!

* Hoekom het die man met net een hand die pad oorgesteek?
Hy wou by die tweedehandsewinkel uitkom.

* Wat het die 0 vir die 8 gesê?
Oulike belt.

Thursday, 20 November 2025

Ruben se een minuut storie: Vat hom, Jakkals, die ryperd


Jakkals is sommer smoorkwaad vir Hasie, want hy het stories by mevrou Jakkals gaan aandra, en nou het sy haar man die huis belet. Jakkals wil vir Hasie terugkry. Maar Hasie het baie planne. Op ‘n dag hoor hy Jakkals suutjies in die paadjie draf. Toe gaan lê hy in die bossies en kreun.

“Ha! Nou het ek jou, Haas,” sê Jakkals, en hy wil net spring, maar Hasie antwoord met ‘n swak stem: “Vat my maar, Jakkals. Ek is te siek om te vlug. Tel my op jou rug, dan dra jy my huis toe.”

En Jakkals dink dis glad nie so ‘n slegte plan nie. Nou sal sy vrou sommer weer vir hom goed word as hy met ‘n lekker stuk haasvleis daar aankom. Jakkals laat loop in die paadjie af, en Hasie moet net klou.

“Jakkals, Jakkals!” roep hy later, “Die vlieë pla baie. Pluk tog vir my ‘n taaibostakkie dat ek hulle kan wegjaag.”

“Ai, jy is lastig,” sê Jakkals, en hy gaan pluk maar.

Toe hulle nog van ver af na Jakkals se huis toe aankom, staan sy vrou al op die stoep om te kyk wat haar man hier kom soek. “Vrou, vrou!” roep Jakkals. “Ek het vir jou ‘n lekker vet haas gebring.”

Maar kyk, nou sit Hasie regop, en die pyne is skielik uit sy lyf, en die taaibostak is ‘n lat. “Vrou, vrou!” koggel hy Jakkals, “Ek het vir jou ‘n lekker vet jakkals gebring!” En die lat gesels oor Jakkals se blaaie, en Jakkals bokspring en galop. Toe wip Hasie van sy rug af en verdwyn lag-lag in die bossies.

“Nee, so ‘n treurige man wil ek nie hê nie,” sê mevrou Jakkals. “Waar het jy al van ‘n jakkals gehoor wat hom deur ‘n haas laat ry? Maak dat jy wegkom hier voor my oë!”

Arme Jakkals moes maar die aftog blaas, want sy vrou is regtig kwaad vir hom.

Die Mooiste Afrikaanse Sprokies uitgesoek en oorvertel deur Pieter W. Grobbelaar. Klik HIER vir tonekrulstories!

Wat het ek uit hierdie storie geleer?
* Moenie as iemand iets slegs aan jou gedoen het, hom wil terugbetaal nie. Jy gaan beslis tweede kom.
* Moenie lelike stories van iemand versprei nie - een of ander tyd gaan dit jou inhaal.

Wednesday, 19 November 2025

Rosetta se goeie wense: "n Seker wete ...

Jou Vader is getrou in sy liefde en beskerming teenoor jou. Dit is sy belofte aan ons. Gaan leef vandag en elke dag hierna met dié stuk vrede in jou hart. Hou my styf vas, asseblief, Here.

Saturday, 15 November 2025

Ruben-humor: allerlei vrae

* Hoekom leef party visse in soutwater?
Want peperwater sal hulle laat nies.

* Hoekom is koalas nie regte bere nie?
Hulle het nie al die koala-fikasies nie.

* Het jy die grappie gehoor oor die koppie tee?
Dit was maar flou!

*  Ädriaan, hoekom het jy jou teddiebeer in die vrieskas gesit?
"Omdat ek 'n ysbeer wil hê." 

Thursday, 13 November 2025

Ruben se breinbrekers

1. Mnr. Johnson is 45 jaar oud en sy seun 13. Oor hoeveel jaar sal mnr. Johnson 3 keer so oud soos sy seun wees?

2. Lerato en Ken het albei hamsters. As Ken een van sy hamsters vir Lerato gee, het hulle albei dieselfde aantal hamsters. Maar as Lerato een van haar hamsters aan Ken gee, het hy tweemaal soveel hamsters as sy. Hoeveel hamsters het elkeen?

3. Kan jy deur slegs die syfer 8 te gebruik, 'n som maak met die antwoord van 1 000.  

Probeer eers self die antwoorde uitwerk voordat jy na die antwoorde hieronder kyk.

ANTWOORDE

1. Oor 3 jaar. Mnr. Johnson sal dan 48 wees en sy seun 16.

2. Lerato het 5 hamsters en Ken het 7. As Ken een van sy hamsters aan Lerato gee, het sy ses. Gee Lerato een aan Ken, het Ken 8, dus dubbeld soveel as Lerato wat net 4 oor het.

3. 888 + 88 + 8 + 8 + 8 = 1 000

Wednesday, 12 November 2025

Rosetta se goeie wense: Byt vas ...

Byt vas, liewe mens! Onthou altyd dat die Here sterk is juis wanneer jy swak is en dat Hy jou vashou wanneer jy laat los.

Tuesday, 11 November 2025

'n Volle handvol kersies

Die week begin sommer met 'n verjaardagmaatjie. 'n Heerlike seuntjiekoek word in die eetsaal vir *Johan gegee en blikke van bewondering swiep oor die koek. 

'n Koek met 'n ruwe Safari-roete en vier karretjies daarop is die rede vir 'n vyfjarige seuntjie se sterre in sy oë.

Daar is geen twyfel dat sy verjaardag 'n baie spesiale dag op sy 2025-almanak is nie.

In Ruben se woorde: "Vreugde vir jou nuwe lewensjaar!"