Monday 26 August 2024

One tree at a time - plant a free tree where you live

Maandagmotivering

Ruben dink hardop oor die waarde van speel


My liewe Maats 

Speel is 'n saak wat vir my baie naby aan die hart lê. Ek dink dis omdat ons wat in die platteland grootgeword het, speel as 'n werkwoord ken. Daar was nie 'n klomp winkels waar ons allerhande speelgoed kon koop nie. Verder het my ma-hulle nie geld gehad vir speelgoed nie - ons was 'n klomp kinders en ons moes buite speel waar daar genoeg ruimte was vir hardloop, wegkruip en boomklim. As jy en jou broer of suster argumenteer of  baklei, is dit so goed of ons meld ons aan vir huiswerk. My ma het dan gereken as ons nie lus is vir speel nie, dan moet ons haar help om die huis se netheidsvlak tot nuwe hoogtes te voer.Vloere vee en was of selfs vensters was, was die eerste op haar lysie van werk uitdeel. Ons het niks daarvan gehou nie, so ons het ons speeltyd ten volle gebruik en geniet. Dit het weer ander probleme veroorsaak - ons wou nooit ophou speel nie. My arme ma moes sukkel om ons voor donker in die huis te kry. Maar sy het nie nonsens gevat nie en ons het vinnig geleer om te luister ... goed te luister.

Dis eers later dat ek besef het hoe belangrik speeltyd eintlik is. Al daardie kruip, hardloop, swaai, klim en klouter, balspeletjies, klippies optel, modderkoekies bak en albaster speel, is alles aktiwiteite wat nodig is om jou groot- en fynmotoriese ontwikkeling te ondersteun. Dit vorm die fondasie vir jou skoolloopbaan en alles wat jy later gaan leer.

Maats, dink net hoeveel keer hoor ons nie van spelterapie nie? En dan dink ons dat dit nie ons probleme gaan oplos nie - dit klink heeltemal te eenvoudig om jou probleem speel-speel op te los en tog sê navorsers dat die eerste 7 jaar eintlik net speeltyd moet wees, want dis die laaste kans wat 'n kind het om vry te speel en sy of haar kreatiwiteit spontaan te laat ontwikkel. Nou dink ek mos aan 'n belangrike ding - dié van ons wat spelterapie nodig het, het dan mos te min gespeel en te veel voor die TV gesit. Dan moet ons dit dadelik regstel. Eerder te laat as nooit.

Dit was vir my baie lekker toe julle van die kerk af kom en sommer agterop die bakkie klim. Ek sien party van julle klim baie vinniger op as ander - ons sal 'n bietjie daaraan moet werk. Intussen bearbei ek solank die eienaar van die bakkie om ons net so 'n draaitjie om die blok te laat ry - maar ek het nog nie 'n definitiewe ja gekry nie. Dis asof ek my ma se stem hoor: "Klim dadelik daar af. Netnou kry iemand seer. Julle weet na lekker lag kom lekker huil." 

Ek sal maar voor sit, want dan kan ek 'n beter oog oor julle hou. As ek agter sit, skrik die kind in my wakker en stel ek dalk nie so 'n goeie voorbeeld nie.

Terwyl ek daar in die bakkie gesit het, het ek besef dat 'n kind se werk eintlik speel is. En watter heerlike werk is dit nie. Ek wil op 'n stadium met julle praat oor skermtyd - dit behoort eintlik nie in ons woordeskat te wees nie - maar dis 'n gesprek vir 'n ander dag. 

Ek sal op 'n latere stadium vir julle meer vertel van die voordele van speel, maar ek wil julle regtig nie vandag verveel met feite nie. Nou wonder julle seker hoekom ek in elk geval vir julle dan wil bemoei daarmee. Die antwoord is doodeenvoudig: Dis belangrik dat ons nie die foute van ons ouers herhaal nie. En as ons nie genoeg speeltyd gehad het nie, moet ons sorg dat ons kinders eendag genoeg speel sodat hulle lewenswenners kan word.

Een van die waardes van speel is dat 'n mens vaardighede leer wat weer bydra tot ons selfvertroue - dink maar aan ons Springbokspan wat die Australiërs so lekker die loef afgesteek het - daardie spelers het as kinders graag met 'n bal gespeel - geskop, geslaan en gedribbel en so speel-speel het hulle sportvaardighede ontwikkel. Kyk gerus na die spelers as hulle weer 'n wedstryd speel - is etiese en morele waardes deel van hulle wedstrydplan? En waar dink julle leer 'n mens dit?

Met hierdie vraag, groet ek eers vir julle tot 'n volgende keer. 
Ruben-groete!


Sunday 25 August 2024

Through It All

I’ve had many tears and sorrows,
I’ve had questions for tomorrow,
there’s been times I didn’t know right from wrong.
But in every situation,
God gave me blessed consolation,
that my trials come to only make me strong.

Through it all, through it all,
I’ve learned to trust in Jesus,
I’ve learned to trust in God.
Through it all, through it all,
I’ve learned to depend upon His Word.

I’ve been to lots of places,
I’ve seen a lot of faces,
there’s been times I felt so all alone.
But in my lonely hours,
yes, those precious lonely hours,
Jesus lets me know that I was His own

Through it all, through it all,
I’ve learned to trust in Jesus,
I’ve learned to trust in God.
Through it all, through it all,
I’ve learned to depend upon His Word.

I thank God for the mountains,
and I thank Him for the valleys,
I thank Him for the storms He brought me through.
For if I’d never had a problem,
I wouldn’t know God could solve them,
I’d never know what faith in God could do.

Andrae Crouch

Click HERE and HERE for more info.

Wednesday 21 August 2024

Rosetta se goeie wense:


Laat die Skepper se kreatiewe energie
vandag en elke dag in my lewe invloei
as ek oor U nadink
om so die lewe wat U ons mee seën
vir onsself en vir ander oop te breek.

Monday 19 August 2024

Binnekringnuus: 'n CK-personeelvergadering los 'n soet smaak in die mond


Korrespondent: Augustus is 'n baie goeie maand om 'n personeelvergadering te hou. Die rede? Dis vrouemaand! Na afloop van 'n baie sinvolle vergadering, kon elke personeellid vir haar 'n bederfbottel kies. So tussen die lyne het van die personeel laat blyk dat dit 'n eerste is en terselftertyd die hoop uitgespreek dat hierdie hopelik nie die laaste keer gaan wees nie.

Maandagmotivering

Sunday 18 August 2024

Binnekringnuus: Opening van nuwe mall in Kimberley

Korrespondent: Die gerugte wat die afgelope 4 maande die rondte doen dat Kimberley 'n nuwe mall gaan kry, is waar. 

Volgens die mede-eienaars en die ontwikkelingsbestuurders van dié grootliks onbeplande sentrum, is daar beoog om die CK-mall vroeg Januarie 2025 te open, maar druk van die gemeenskap het die proses verhaas.

'n Versekeringskenner het die mede-eienaars gewaarsku om waaksaam te wees teen moontlike diefstal, verdagte bedrywighede en verdagte persone, aangesien dit die eerste keer is dat die sentrum sy deure gaan oopmaak. Net een van die eienaars, Madison, het gehoor aan hierdie waarskuwing gegee en diefwering voor haar winkelvensters laat aanbring. 

Natuurlik was dit sommer 'n grootse geleentheid en opgewonde, nuuskierige mense het van heinde en verre gekom om te deel in die winskopies van so 'n eerste dag! Die winkeleienaars sit vanaand met seer voete, maar met groot smiles op hulle gesigte. 'n Onverwagse suksesvolle dag, het hulle hoop in die ekonomie van die land sommer 'n groot hupstoot gegee. 

Hierdie is ’n baie groot projek wat sonder twyfel Kimberley se ander twee sakesentrums op hul tone gaan hou. Sekuriteit is uiters belangrik en inwoners in die omgewing van die nuwe mall kan verseker wees van uitstekende sekuriteit by die sentrum.

Koester Karos se fotograaf het die geleentheid op kamera vasgevang.
Leë boksies en botteltjies
het vir ure se pret
gesorg
.
Lindiwe, 'n gereelde klant
by die koffiewinkel,
wag vir haar cappuccino.
Die eienaar van die spaza
het vir veiligheid,
diefwering voor haar
winkel se vensters
laat aanbring.
 
Vir jou en ander se veiligheid,
moet jy baie versigtig
wees.
Tannie Dorah het sommer
die groente by CK-mall
gekoop teen 'n baie goeie prys.
Hier sit sy saam met 'n klompie
winkeleienaars wat haar
koopkrag wil bekom.

Ek wil vir jou die storie van Robbie vertel.

Robbie kom uit ’n baie moeilike huis ... 

Mens kan sê ’n slegte huis, ’n huis sonder ’n pa, met ’n ma wat die meeste van haar lewe onder die invloed van drank was. Sy het vir Robbie baie sleg behandel, het hom soms genadeloos geslaan, hy het dikwels nie veel gekry om te eet nie, want daar was nie geld nie. Robbie het egter gewonder hoe sy die drank en sigarette kon gekoop het. Hy het vir ’n paar jaar skool toe gegaan, maar hy is altyd gespot en sleg gesê en het uiteindelik begin stokkiesdraai en wegbly van die skool af. Daar was dikwels mans by sy ma, maar hy het nie geweet of een van hulle dalk sy pa was nie.

Toe hy sy ma eendag vra waar sy pa was, het sy gesê dat rubbish soos hy nie ’n pa kan hê nie. So het die een oom hom Robbie Robbish begin noem en lustig deelgeneem aan die mishandeling. Een dag kon Robbie net nie meer nie, toe loop hy weg. Hy het homself belowe dat hy nooit weer sal terugkom nie en hy het op die straat begin lewe. Met bedel, kos soek op vullishope en soms iets uit ’n winkel steel, het hy aan die lewe gebly.

Hy was vry ... so het hy gedink. Robbie het baie van Jesus gehoor. By die skool het hulle ’n Bybel-periode gehad, maar by die huis het hy die naam Jesus ook gereeld gehoor, wanneer sy ma kwaad was en dit uitgeskree het. Dit het hom verwar, want by die skool het hy gehoor van Jesus se liefde, maar by die huis het hy gedink dis ’n vloekwoord. Nadat Robbie weggeloop het, het hy soms gewonder of iemand na hom soek. Hy het nooit weer huis toe gegaan nie en op die straat gelewe.

Robbie het in ’n stegie geslaap onder goed wat hy op ashope opgetel het. Diep in sy hart was iets goeds geskryf wat hy nooit verstaan het nie. Hy het probeer om niemand skade aan te doen nie. En toe, op een goeie dag, kom daar mense van ’n kerk en hy kry die grootste geskenk van sy lewe: ’n splinternuwe kombers en ’n sakbybeltjie. Omdat hy nie goed kon lees nie, het hy maar saans net so bietjie daarin rondgeblaai. Die een naam wat heeltyd opgeduik het, was Jesus. Hy het meer en meer begin wonder wie dit was. Daar was ’n ouer man wat ook in die stegie geslaap het. Sy naam was Dave. Dave het vir hom vertel dat hy ’n geleerde ou is en op universiteit was, maar die lewe het sy rug op Dave gedraai en hy is uit sy gesin uit en het ook ’n boemelaar geword. Maar Dave was slim en het geweet van die Bybel. Hy het dit ook gereeld gelees en soms met Robbie oor Jesus gepraat. Hy het gewens Dave was sy pa. Eendag het Robbie verby ’n kerk geloop en daar was ’n groot bord met die woorde: “Jesus is die antwoord” Maar hoe goed hy ook al op die bord gelees het, het hy nie geweet wat die vraag is nie. As Jesus dan die antwoord is, wat is die vraag? Dit het hom verwar.

Een Sondagoggend het hy buite die kerk gestaan en luister na die prediker wat gepraat het oor liefde. Maar hy het nie geweet wat liefde is nie. Dié aand het hy vir Dave gevra wat liefde is. Dave het gesê: “Jesus is liefde”. Toe is hy nog meer verward oor die vraag. Hy het ’n antwoord, maar nie ’n vraag nie. Hy het gedink hy kan seker nie weet nie, want hy is mos ’n rubbish. Een aand het Robbie vir Dave gevra hoekom mense vir Jesus ken en hy wat Robbie is, nie. Hy het ook nie verstaan hoekom dit net ryk mense is wat vir Jesus ken nie. Eendag het hy weer buite die kerk gaan luister en gehoor die pastoor praat oor die wet.
 
Dié aand het hy vir Dave gevra om dit vir hom te lees. Eks 20:1-17 Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie, want die Here sal die een wat sy Naam misbruik, nie ongestraf laat bly nie. Sorg dat jy die Sabbatdag heilig hou. Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet, maar die sewende dag is die Sabbat van die Here jou God. Dan mag jy geen werk doen nie, nie jy of jou seun of jou dogter of die man of vrou wat vir jou werk, of enige dier van jou of die vreemdeling by jou nie. Die Here het in ses dae die hemel en alles daarin gemaak, die aarde en alles daarop, die see en alles daarin. Op die sewende dag het Hy gerus, en daarom het die Here dit as gereelde rusdag geheilig. Eer jou vader en jou moeder, dan sal jy lank bly woon in die land wat die Here jou God vir jou gee. Jy mag nie moord pleeg nie. Jy mag nie egbreuk pleeg nie. Jy mag nie steel nie. Jy mag nie vals getuienis teen 'n ander gee nie. Jy mag nie iemand anders se huis begeer nie. Jy mag nie sy vrou begeer nie, ook nie 'n slaaf of slavin, 'n bees of 'n donkie, of enigiets anders wat aan hom behoort nie.

Dit was egter vir Robbie die spyker in die doodskis. Hy het nie sy ouers geëer nie, hy het sy ma gehaat. Hy het soms iets gesteel; hy het nie God geëer nie, hy het dikwels gelieg as hy gebedel het. En hy het begeer - veral as hy gesien het hoe iemand smul aan iets lekker. Toe sê hy vir Dave: “Ek kan nie hierdie goed doen nie. Ek is te sleg. Ek is ’n Robbish. Dit is nie vir my nie.” Dave het toe hierdie woorde gesê: “Robbie, Jesus is die antwoord.” Robbie het amper omgeval, want toe kry hy die vraag van die antwoord. Dave het verder vir hom verduidelik: “Omdat jy nie kan nie, kan Jesus. Jesus is die antwoord op alles.” Robbie het besluit hy gaan hierdie pad probeer. Daardie aand het Robbie sy ma vergewe, onvoorwaardelik.
 
Dave het vir hom die Onse Vader-gebed gelees en hy het verstaan waar sy daaglikse brood vandaan kom. Die volgende oggend het Robbie nie wakker geword nie. Dave het hom gekry met ’n salige trek op sy gesig. Yskoud. Hy het in sy slaap gesterf. Dave het besef dat daar geen teleurstelling vir Robbie is nie. Hy het dit gemaak. Dave het by homself gedink, Robbie was geen rubbish nie, want God maak nie rubbish nie, al het Robbie dit in sy kort lewe geglo. Hy het ook geweet Robbie glo nou anders. Hy het gewonder hoekom die Here vir Robbie so vroeg in sy lewe kom haal het. Hy het egter vertroosting gekry in Johannes 14:1-3.
 
Robbie was nie ’n Robbish nie. Jy is ook nie, weet jy? Want die Here maak nie robbish nie. Dis teen die aard van Sy liefde. Ten spyte van swaarkry en moeilikheid, bly Hy steeds die antwoord, ongeag wat jou vraag is. Hy bly altyd die antwoord op alles. Die probleme gaan nie noodwendig altyd weg nie, maar Jesus is steeds die antwoord. Altyd. En of ek en jy ons lewe lank die Here dien, of net-net betyds die Here vind, soos Robbie, is ons uiteinde dieselfde. Ons sal vir Robbie sien by Jesus se wederkoms.

[Dankie, Anoniem, wat hierdie met ons deel.]

Saturday 17 August 2024

1000 dankies aan die Market for Charity (MFC)


'n Mens staan dikwels verstom oor al die engele wat Christina Kiddie Kinder- en Jeugsorgsentrum se pad kruis. Kyk 'n mens terug, sien jy dat elkeen van ons wat betrokke is by KJSS, die personeel, kinders, terapeute en borge, deur omgee-engele gelei is tot waar ons vandag is en dan kan ons nie anders as om onwrikbaar in die wonderwerke van die toekoms te glo nie.

Dankie vir MFC se betrokkenheid by ons - Vrouemaand is vir ons 'n besondere maand en ons is bly dat julle ons gekies het om te deel in die vreugde wat julle so mildelik uitdeel. 

Sterkte vir die res van die jaar met al die goeie werk wat julle doen! 

Hieronder volg die datums van die liefdadigheidsmark by die McGregor Museum - ondersteun gerus hierdie verdienstelike projek en as jy graag daar wil uitstal of enige vrae het, whatsapp 079 981 1240.  Die organiseerder sal met graagte help.

Oorblywende datums:  
* 7 September
* 5 Oktober
* 2 November
* 7 Desember (Kersmark) 
Klik HIER vir meer inligting!

Thursday 15 August 2024

My liewe kind

Solank jy in hierdie huis bly, sal jy die reëls gehoorsaam.
Wanneer jy jou eie huis het, kan jy jou eie reëls maak.
In hierdie huis het ons nie 'n demokrasie nie.
Ek het nie 'n verkiesingsveldtog gehou om jou ouer te wees nie.
Jy het nie vir my gestem nie.
Ons is ouer en kind deur die genade van God,
en ek aanvaar die voorreg en ongelooflike verantwoordelikheid.
In aanvaarding hiervan het ek die plig om
die rol van 'n ouer te vervul.
Ek is nie jou pel nie.
Ons ouderdomme verskil te veel.
Ons kan baie dinge deel, maar ons is nie pelle nie.
Ek is jou ouer.
Dit is 100 keer meer as wat 'n pel is.
Ek is ook jou vriend, maar ons is op totaal verskillende vlakke.
Jy sal in hierdie huis doen soos ek sê, en hoewel jy vrae
mag vra, mag jy nie my gesag bevraagteken nie.
Onthou asseblief dat wat ek jou ook al vra om te doen,
deur liefde gemotiveer is.
Dit sal vir jou moeilik wees om te verstaan
totdat jy eendag 'n kind van jou eie het.
Tot dan, vertrou my. 

Wednesday 14 August 2024

Rosetta se goeie wense:


Mag jy vandag God se normaal ervaar en
nie wat die wêreld vir ons voorhou as normaal nie.
Met ander woorde, kom ons doen vandag God se wil.

Tuesday 13 August 2024

'n Unieke geleentheid vir Kimberley - moenie dit deur jou vingers laat glip nie

Kimberley is bevoorreg om besoek van twee besondere predikante te kry, vanaf 23-25 Augustus 2024. Ds. Ray Goddess van Portsmouth (Verenigde Koninkryk) en ds. Mike Endicott van Wallis gaan die Closer to God Conference and Teaching vir die Kimberliete by Dutoitspan-saal aanbied. Hierdie konferensie wat oor twee dae strek, is in drie interaktiewe sessies ingedeel. Daar gaan onder ander gefokus word op die eenvoud van die Koninkryk van God.
Die koste verbonde aan die tweedag-konferensie is net R120 per persoon, wat verversings en 'n ligte ete insluit. Registrasie sluit reeds 16 Augustus
en die inskrywingsvorms is by die kerkkantoor beskikbaar. Navrae kan aan ds. Ensie (079 522 9680) gerig word of kontak die kerkkantoor vir meer inligting.

Die Teach a Teacher-program word in verskillende dele van die wêreld aangebied en die suksesstatistiek spreek boekdele. In Handelinge 2 lees ons van die opgewondenheid onder die dissipels. Hoekom was hulle so opgewonde en kan ons vandag nog dieselfde opgewondenheid ervaar? 


Klik op die geel kaartjie om inligting duidelik te kan lees.
Datums: 
23 Augustus 2024 - 19h00-21h00
24 Augustus 2024 - 09h30-13h00
24 Augustus 2024 - 14h00-16h30
25 Augustus 2024 - die naweek se verrigtinge word afgesluit met 'n aanbiddingsdiens.

Dinsdaggedagtes van Katelyn Marais

Sunday 11 August 2024

Die las van aartappels

‘n Laerskooljuffrou vra haar klas om die volgende oggend aartappels in ‘n sakkie, saam te bring skool toe - een vir elke persoon wat hulle haat en hulle kan sommer die name op die aartappels skryf.

Almal het aartappels gebring. Sommige net een, maar daar was kinders met twee, drie en selfs meer aartappels in hul sakkies. Hul opdrag was om die sakkie met aartappels vir die hele week saam met hulle te dra, oral waar hulle gaan. Hulle mag glad nie sonder die aartappels wees nie, of hulle nou winkels toe of skool toe of kerk toe gaan, die sak moet saam.
Soos die tyd verby gegaan het, het van die aartappels snaaks begin ruik. Van die aartappels het begin vrot en van die kinders het daaroor begin kla. Van die kinders met meer aartappels, het ook gekla dat hul sakkies swaar raak en dat hulle moeg is om dit rond te dra.
Juffrou het hul egter aangemoedig om die taak te voltooi en almal was baie bly toe die week uiteindelik verby is.
Juffrou gee toe vir elkeen die geleentheid om te vertel hoe hulle die taak gevind het en hoor toe weereens hoe almal kla oor die verrotte aartappels se reuk wat hulle orals agtervolg het en die feit dat die sakkie swaar begin raak het. Hulle het glad nie van die taak gehou nie.
Die juffrou sê toe aan haar klas: “Die situasie is presies dieselfde as die swaar gevoel wat mens in jou hart dra as jy nie van sekere mense hou nie. Die haatgevoelens is nie goed vir jou hart nie en jy dra al daardie negatiewe emosies orals met jou saam waar jy ook al gaan. Julle het die aartappels vir ‘n week gedra, dink net hoe moeilik dit sal wees om sulke gevoelens vir ‘n leeftyd met jou saam te dra. Ons harte is baie sensitief en dit kort mooi gevoelens en gedagtes oor ander mense, om ons (en hulle) te laat glimlag en goed te laat voel oor onsself en die lewe.
Vergewe die mense wat jou iets aandoen, en laat al die negatiewe gedagtes oor hulle vry, sodat jou hart en siel met oorgawe kan glimlag vir die lewe. So maak mens meer plek vir mooi gedagtes om in jou hart pos te vat.
Here, vandag bring ek my sakkie aartappels na U toe, Vader hulle het vir my te swaar geraak en die reuk is meer as wat ek kan verduur. Verwyder asseblief hierdie haatgevoelens, verwyder my gevoelens teenoor ander wat my kwaad aangedoen het, help my om hulle te vergewe en hulle vry te spreek.
[Dankie, Rosetta vir die aanstuur. Kliek HIER vir nog gedagtes.]

Saturday 10 August 2024

Ruben groet hartsmense


Liewe Maats

Ek het regtig lank laas vir julle geskryf, maar ek is nogal besig, as nie-amptelike sekuriteitsbeampte het ek nie regtig baie tyd op pote nie. Ek blaf so af en toe vir julle van my gedagtes of as ek sien dat julle nou 'n reël of twee oortree, maar al my blaffery val op dowe ore. Daarom het ek maar besluit om weer die pen op te neem om vir julle te skryf wat ek op my hart het.

31 Julie, het oom Kleinbooi sy laaste dag by ons gewerk en nou is hy met pensioen. 17 jaar is 'n lang tyd en hy het baie mense en kinders sien kom en gaan. Baie van hulle het, terwyl oom Kleinbooi onkruid uit die akkers getrek het, vir hom vertel van die onkruid in hulle lewens. Dan het oom Kleinbooi op sy stil manier geluister en met die wysheid wat ouderdom meebring, vir hulle gesê wat hy dink. Ek weet dat op sy manier het hy baie goeie raad vir die outjies uitgedeel. Oom Kleinbooi het egter net een raad vir onkruid gehad en dit is om dit met wortel en tak uit te roei. Ek is maar 'n paar maande hier, en my lekkerste kuierplek is in die tuin. Ek en oom Kleinbooi het al kopstukke gesels en ek het ook al gehoor hoe julle outjies met hom praat. 

Oom Kleinbooi, ek gaan ons geselsies mis, maar ek gun vir Oom die rustiger tempo. Geen gejaag om betyds by die werk te kom nie en ook nie 'n gesukkel met die fiets in die koue nie. Maar lank stilsit is ook nie so lekker soos wat dit klink nie - as dinge te stil en eensaam by die huis word, kom kuier gerus vir ons. 

Buiten oom Kleinbooi, moes ons ook vir tannie Kagi groet. 'n Vrou van goeie deugde. Sy is al 20 jaar deel van die personeel. 'n Ywerige en flukse tannie wat nie staan en gesels en allerhande praatjies maak nie. Sy was taakgerig en het gesorg dat elke kind se klere skoon gewas, gestryk en netjies opgevou is. Dis 'n groot werk, maar tannie Kagi het elke dag, vir 20 jaar lank, haar werk met nuwe ywer en 'n glimlag op haar gesig aangepak. Ek hoor my ma stem as ek aan haar volgende woorde dink: Sy is nog van die ou soort, hulle word nie meer gemaak nie. Vandag se jongmense weet nie wat harde werk is nie.

Maats, julle kan dan net dink hoe skuldig ek voel, want ek val mos onder die groep wat sy reken nie meer hard kan werk nie. Ai, dis dan wanneer ek sommer so 'n ekstra rondte op die terrein doen, my stem verhef en so 'n paar harde blawwe gee dat almal in die omgewing kan hoor ek is op my pos. 

Terug by tannie Kagi - sy was altyd so trots op haar kinders as hulle in die oggend skool toe gaan, en hulle so netjies uitgevat is in hulle kraakskoon skoolklere. Sy het hulle met 'n tevrede kopknik agterna gekyk en dan die strykyster met mening vasgevat. Sy het allerhande rate geken hoe om kolle uit klere te kry - jy kan maar sê sy was 'n kol-uithaal-deskundige.    

Dit is so jammer dat tannie Kagi se gesondheid nie meer na wense is nie. Tannie Kagi, gaan rus nou goed, makeer die pas en gee aandag aan tannie se gesondheid. O ja, en luister mooi na wat die dokter sê - hy weet wat help en wat help nie. Hy is mos die gesond-word-deskundige. Kom kuier gerus vir ons as die verlange te veel word.

Die Bybel sê mos daar is 'n tyd om te kom en 'n tyd om te gaan en Donderdag het ons klomp oom Kleinbooi en tannie Kagi op 'n gepaste wyse gegroet en hulle verras met hulle geskenke!

Daar is egter ook 'n ander minder aangename manier om te groet en dit is om afskeid te neem van iemand wat nie meer met ons is nie. Ons liewe tannie Sanette, ons huisma, se man is gedurende die vakansie oorlede. Baie van die inwoners het nie geweet hoe om hierdie nuus te hanteer nie en het by my in die tuin kom sit en my kop gevryf terwyl die trane oor hul wange geloop het. Die diens is by ons in die saal gehou en daar het die boodskap tot ons deurgedring dat die oom Mike Hanssen, ons huispa, die handyman van Christina Kiddie, se lewensirkel voltooi is. Nooit weer sou ons hom met 'n tang of saag of stuk gereedskap dinge sien heelmaak en regmaak nie. Party dinge in die lewe kan eenvoudig nie met gereedskap reggemaak word nie - verlange, hartseer, gemis, is maar enkele daarvan. 

As ek aan oom Mike dink, dan staan sy sin vir humor uit - die kreukellagplooitjies langs sy oë verklap dit. Hy was 'n goeie storieverteller en 'n mens het heimlik gewens dat as jy hom raakloop, hy vir jou 'n storie gaan vertel - daar was humor, maar ook weggesteekte lewenslesse in sy stories. 

Tish was oom Mike se skaduwee, sy bruin labrador wat die appel van sy oog was - ek ken die tekens, ek weet, ek is mos tannie Christelle se oogappel!

Oom Mike, jou sagte hart, jou heerlike humor en jou raakvat en regvat, word reeds gemis en gaan nog meer gemis word.    

Maats, party van ons se lewensirkel gaan klein wees en ander s'n gaan groter wees, dit hang van ons groetouderdom af.    

En daar tydens die diens het ek besef dat 'n mens jou lewe betekenisvol moet maak. Leef 'n lewe van betekenis, sodat jy eendag met 'n voltooide lewe kan sterf. Dit is tog die sin van die lewe. En dit, liewe Maats, is my boodskap vir elkeen van ons - pak die lewe aan, met al sy opdraandes en afdraandes, bou aan jou lewensirkel - meet jou lewe aan die lewe van hulle wat jy aangeraak het en 'n verskil gemaak het.

Op hierdie ernstige noot groet ek eers tot 'n volgende keer.
Ruben-groete!

    


Friday 9 August 2024

DANKIE!! 53 000 keer!

Portia's advice

Gelukkige Vrouedag

Ons leef in 'n land waar armoede, werkloosheid, siekte en veral misdaad steeds op 'n daaglikse basis mense, veral vroue, beïnvloed. Maar ons leef ook in 'n tyd waar die vrou soveel rolle het om te vervul: Eggenoot, ma, ouma, broodwinner, gemeenskapsleier, onderwyser, kerklidmaat, motiveerder en beskermer. Die vrou is dikwels die pilaar van die gesin en die familie. Met goeie opleiding en 'n goeie werk sal sy hierdie rolle net soveel makliker kan vervul.

Greg Mortenson het gesê: “If you teach a boy, you educate an individual; but if you teach a girl, you educate a community.”

Mag elke vrou in ons land 'n geseënde Vrouedag hê en mag sy waarlik besef watter belangrike rol sy as vrou in die gemeenskap vervul. Mag sy haar dogters grootmaak met deursettingsvermoë om elke dag 'n beter mens te wees as die vorige dag. Ons het vroue nodig om 'n verskil in die land te maak.

Dankie vir elke vrou se stil insette en die voetspore wat sy in mense se lewens laat.

Thursday 8 August 2024

Personeel: Tannie Kagi en oom Kleinbooi se spesiale dag!

 

Tannie Kagi en oom Kleinbooi was vandag die rede dat die kollegas lekker gesellig om die lang tafel kon kuier, gesels en skerts, terwyl hulle gepeusel het aan allerlei lekkernye voordat hulle bederf is met 'n heerlike hoofgereg en nagereg. 

Christina Kiddie het vandag van hierdie twee kollegas afskeid geneem wat albei pensioenouderdom bereik het. As ’n mens aftree, dan kyk jy terug op al die ure wat jare geword het wat jy by jou werkplek deurgebring het en jy hoop dat die verskil wat jy gemaak het, onthou sal word. Skielik verander jou perspektief, jy kyk na jou kollegas en die kinders wat agterbly en jy hoop dat jy vir hulle iets van werksetiek en ywer geleer het.

Onthou: Moenie net gaan sit nie - probeer om elke dag 'n verskil aan een mens se lewe te maak, al is dit net met 'n vriendelike woord. Geseënde rustyd.

[Lees meer HIER en HIER oor die twee afgetredenes]

Ons groet tannie Kagi

Christina Kiddie Kinder- en Jeugsorgsentrum neem hierdie maand van 'n tweede personeellid afskeid, nl. tannie Maria Tshabala, beter bekend as tannie Kagi. Dis nooit maklik om iemand te groet nie.

Tannie Kagi het vanaf 2004 op haar stil manier diep spore in ons kinders se harte getrap. Sy is die een wat elke weeksdag gesorg dat 28 kinders se klere gewas en gestryk is. Vir 20 jaar het sy gesorg dat elkeen gedress en gepress by die koshuishekke uitstap - en sy was tog só trots op haar handewerk.   

Hardwerkendheid, getrouheid, stiptelikheid,werkywer en vriendelikheid is maar enkele van haar mooi karaktereienskappe. Haar liefde vir die kinders het haar werk in 'n plesier verander.

Tannie Kagi, jy was altyd getrou by die wasgoeddrade of by die strykkas - nooit het jy tyd gehad vir niksdoen of kuier gedurende werksure nie. Hierdie skaars werksetiek het jou uniek gemaak.

Dis só jammer dat Tannie se gesondheid aftrede onvermydelik maak. 

Christina Kiddie sê dankie vir al die jare se harde werk. Mag hierdie nuwe fase vir tannie Kagi baie seën en genade inhou. Dankie vir die spore wat agterbly - spore van LIEFDE en OMGEE!

Ons sal beslis die skaam glimlag en die werkywer mis.

Wednesday 7 August 2024

'n Groot dankie aan die Market for Charity (MFC)


'n Spesiale Christina Kiddie-dankie uit die hart, dat ons hierdie maand in die bevoorregte posisie was om by julle besondere mark te baat. Dankie, Mona Ditlow, organiseerder van MFC, vir al jou harde werk en vir die besondere uitkoms van die maandelikse mark. Mag jy baie seën op jou onvermoeide ywer kry.

Dit was vir ons 'n riem onder die hart, toe 8 van ons kinders by julle liefdadigheidsmark kon optree, as deel van Rozinda's Disco Dance-groep. 

Hieronder volg die datums van die liefdadigheidsmark by die McGregor Museum - ondersteun gerus hierdie verdienstelike projek en as jy graag daar wil uitstal of enige vrae het, whatsapp 079 981 1240.  Die organiseerder sal met graagte help.

Oorblywende datums:  
* 7 September
* 5 Oktober
* 2 November
* 7 Desember (Kersmark) 
Klik HIER vir meer inligting!