Kyk, Maats, Krummels kom loer kort-kort oor my skouer, hier waar ek sit en skryf. Ek het mos vir haar belowe dat Maart se idiome net oor
katte sal gaan. Ek is op hierdie oomblik besig om idiome oor
katte in die woordeboek te soek. Kyk gerus op die foto - julle sal my dik woordeboek sien.
Vandag begin ek met die letter K. En julle kan natuurlik raai hoekom. Elkeen van die volgende paar weke se idiome gaan die woord KAT of KATTE inhê. Ek wil kyk hoeveel van hierdie idiome julle kan memoriseer. Doen dit asseblief, ter wille van Krummels. Geniet dit!
* Die kat uit die boom kyk.
Betekenis: Dinge eers goed deurkyk voordat jy iets aanpak (byvoorbeeld voordat jy ’n transaksie beklink).
* Geen katjie om sonder handskoene aan te pak nie.
Betekenis: ‘n Baie moeilike persoon.
* Gooi die kat in die duiwehok.
Betekenis: Veroorsaak ‘n groot konsternasie.
* Jou ‘n kat in die sak koop.
Betekenis: ‘n Slegte koop sluit; jou laat verkul. As die kat dik is, smaak die muis bitter.
Betekenis: As iemand genoeg geëet het, smaak die kos nie meer lekker nie.