[Ek plaas graag hierdie storie, omdat stories baie keer die meer effektiewe pad is om te vat, in plaas van preek, baklei en raas. Haar adres verskyn aan die einde van hierdie uittreksel.]
“Toe ek sewe jaar oud was, moes ons ‘n mondeling op skool
doen oor wat ons wil wees as ons eendag groot is. Ek het gesê ek wil ‘n skrywer
word, want dit was al wat ek ooit wou wees vandat ek kan onthou. Maar die
onderwyser het my baie mooi laat verstaan dat skryf ‘n stokperdjie is – nie ‘n
beroep nie. Dit sou baie jare van frustrasie en ongelukkigheid neem voordat ek
sou leer om my nie aan ander se opinies te steur nie. Voordat ek sou besef dat
ek nooit werklik vrede sal hê as ek nie my stories kan skryf nie...” – Anna Emm
Toe Anna Emm besluit om onderwys te gaan studeer in die
Boland, het sy geen idee gehad waarheen hierdie pad haar uiteindelik sou lei
nie. In 1997 het sy begin skoolhou, as jong onderwyseressie met groot planne om
die wêreld te verander. Maar sy was gou ontnugter. Die 8-jarige kinders in
haar klas het uit arm, agtergeblewe gemeenskappe gekom. Sy het gou besef dis
amper nutteloos om vir kinders te probeer skoolhou, terwyl hulle honger,
verwaarloos, getraumatiseerd en stukkend is. Nadat een van die dogtertjies in
haar klas gemolesteer is en ‘n ander kind se ma in gesinsgeweld doodgeskiet
is, het Anna die kinders probeer troos met die enigste ding wat ooit werklik
vir háár gewerk het: stories.
Sy het ure elke dag vir die kinders in haar klas stories
voorgelees en later het sy begin om haar eie stories vir hulle te skryf en te
vertel. Sy het die kinders in haar klas self die helde in haar stories gemaak
en hulle met haar verbeelding op allerhande avonture gestuur! Die uitwerking
wat die stories op hierdie kinders gehad het, was ongelooflik. Nie net het die
luister na stories hulle rustiger gemaak nie, maar dit het ook hulle
kreatiwiteit en selfvertroue gevoed en gou het hulle leervermoë drasties begin
verbeter. Selfs die swakste leerdertjies het begin om kleurvolle prente te
teken, hulle eie stories te skryf en met entoesiasme en verbeelding deel te
neem aan klasgesprekke! Hulle kon feite beter onthou. Hulle kon slegte
ervarings beter verwerk en makliker daaroor praat.
Anna het begin navorsing
doen oor die gebruik van stories as terapie en sommer gou het sy geweet dat sy
haar droom om die wêreld te verander, kon uitleef met die skryf van haar
stories.
In 2001 het sy uit die onderwys bedank op soek na ‘n
platform vir haar droom.
Nadat sy waardevolle ervaring as skrywer en regisseur
op die stel van twee televisie-reekse opgedoen het, het die multimediagogga
haar gebyt en het sy besluit om die stories wat sy as onderwyseres geskryf
het, op CD te laat opneem. Hierdie stories was die heel eerste reeks
storie-CD’s uit die pen van Anna Emm en sou die eerste produkte word wat deur
Anna Emm (Pty) Ltd vrygestel en vervaardig is. Vandag, meer as tien jaar later,
is hierdie maatskappy die grootste vervaardiger van Afrikaanse kinderstories in
die land, met meer as 2 000 nuwe stories op CD, DVD en in boekvorm! Bekende
name soos Gys de Villiers, Anna-Mart van der Merwe, Chris Chameleon, Koos
Kombuis, Anrich Herbst, Vicky Davis, en talle ander, het al kom kinderstories
opneem.
Meeste van die stories is deur Anna self geskryf.
“Ek glo in die krag van stories. Ek glo dat ‘n goeie storie
kan inspireer, motiveer, aktiveer en genees soos geen ander medium op aarde
nie. Dit is my hoop dat Anna Emm (Pty) Ltd ‘n bron van sulke stories sal wees.”
– Anna Emm
Lees Anna se getuienis nou in haar outobiografie
DIE STORIEVERTELLER SE BOEK / THE STORYTELLER'S BOOK!