Saturday, 31 May 2025

Ruben-humor: Diereraaisels met 'n kinkel

* Wat het meer pyn as 'n kameelperd met 'n seer keel?
'n Duisendpoot met wintersvoete.

* Hoe sit 'n olifant sy slurp in 'n krokodil se bek?
Baie baie versigtig.

* Wat is 'n muis se geliefkoosde kar?
'n Muiscedes Benz

* Wat het die een haai vir die ander haai gesê toe die walvis verby hulle swem?
Dis nou 'n feesmaal wat hier verby ons swem.  

Wednesday, 28 May 2025

Monday, 26 May 2025

Binnekringnuus: 'n Tommie-gerug wat die inwoners hond se gedagtes laat kry ...

Korrespondent: Woensdag, 19 Maart 2025, is daar berig dat Tommie vermoedelik 'n kantoorhond is. Ons het egter nou bewyse dat dit wel die geval is en dat Tommie opleiding ontvang om nie net die ore van die koshuis te wees nie, maar ook die oë! 

Met Ruben wat buite diens doen, is dit net logies dat Tommie die agterhoede binne moet dek om sodoende op hoogte te bly van die doen en late van die inwoners.

Uit hierdie foto blyk dit duidelik dat Tommie geen hondelewe lei nie en sy houding spreek van waaksaamheid, oplettendheid en duidelike nuuskierigheid.

Die inwoners sal voortaan op hulle hoede moet wees en in hulle spore trap.  

Saturday, 24 May 2025

Ruben-humor: Anderste raaisels

* Wat kry jy as jy tabak en springmielies kruis?
'n Sigaret wat sy eie as afskud. 

* Wat kry jy as jy 'n houtkapper met 'n kangeroe kruis?
'n Sak met saagsels.

* Wat kry jy as jy 'n hoender met 'n sementmenger kruis?
Iets wat goed bakstene kan lê.

* Wat kry jy as jy 'n leeu met 'n muis kruis?
'n Vaal, klein diertjie met dodelike slagtande.

Wednesday, 21 May 2025

Rosetta se goeie wense: Sonskyn


'n Hart vol sonskyn en liefde
saam met volop lag
is my wens vir jou
op hierdie helder dag.

Tuesday, 20 May 2025

Resep: Tommie deel nog 'n ouma Annie resep - Rice Crispy en BarOne blokkies

My vinnige resep van verlede maand, het die meeste van Koester Karos se jong lesers aan die rol gesit. Die feit dat hulle nie naby 'n stoof hoef te kom nie, was 'n bonus en daar was verskeie versoeke vir nog sulke maklike lekkernye. Ek het die lyne Petrusburg toe geslaan en ouma Annie het vir my hierdie gunsteling gestuur. Jy moet ongelukkig van die bestanddele oor lae hitte smelt, maar dan is die grootste deel van die werk agter die blad. 

Ouma het laat weet dat sy deur haar resepteboek sal blaai om te kyk of sy nog vinnige kulkoekieresepte het. Sy het egter gevra dat ek volgende keer weer 'n opregte koekieresep sal plaas. Dis nou ons oumas se oumas se oumas se resepte. En as ek dit op Koester Karos publiseer, is dit 'n manier om die koekieresepte te bewaar. Ek het poot en bek belowe dat ek dit sal doen, ek kan nie waag om in ouma Annie se slegte boekies te kom nie. Julle weet mos dat die pad na 'n kleinkind se hart loop deur sy ouma se koekieblikke of het ek nou die kat aan die stert beet?? 

Van katte gepraat ...

Tannie Christelle het 'n steelfoto van my geneem waar ek Krummels se pad versper - hy was mos reguit op pad na my koekieblik toe en sonder om slapende honde wakker te maak, het ek net eenvoudig met 'n uitgestrekte lyf op die vloer gaan lê - ek wou soort van 'n stelling gemaak het - skoon vergeet van tannie Christelle se skerp kameraoog ..!

Volgens Krummels is die Petrusburg-koekies baie lekkerder as Friskies of Whiskas s'n, maar dit kan 'n mens nou nie loop en verkondig nie.

Rice Crispy en BarOne blokkiesresep van ouma Annie 

Bestanddele:
1 BarOne
60 ml botter
80 ml suiker
15 ml goue stroop
500 ml Rice Crispy

Metode:
Smelt BarOne en botter saam oor lae hitte. 
* Voeg suiker en stroop by en roer tot suiker opgelos is. 
* Verwyder van hitte en voeg Rice Crispies by. 
* Meng vinnig deur en skep in voorbereide gesmeerde pan.
* Druk stewig vas en verkoel tot hard.
* Sny in blokkies.
Geniet dit en gaan groot!!!

Dinsdaggedagtes van Katelyn Marais

Saturday, 17 May 2025

Ruben-humor: Lawwe definisies

* Wat is die definisie van 'n werkende brandweerwa?
Dit is 'n boorgat op wiele.

* Wat is die definisie van somer?
Dit is die tyd wanneer kinders die deure toeklap wat hulle in die winter oopgelos het.

* Wat is die definisie van 'n optimis?
'n Kalkoen wat twee weke voor Kersfees op die werf rondloop en "moe" sê sodat elkeen dit duidelik kan hoor. 

Thursday, 15 May 2025

Ruben se een minuut storie: Die Skilpad en die Haas


‘n Skilpad is ‘n dier wat baie stadig beweeg. Hy laat hom nie aanjaag nie en skilpad is ook die enigste dier wat sy huis elke dag met hom saamdra. Dit is eintlik die groot rede hoekom ou skilpad so stadig is. Ten spyte van hierdie swaar las wat skilpad daagliks moet hanteer, is hy gedetermineerd en gefokus in alles wat hy doen. Hy is die een dier wat nie kort paaie vat of skelmstreke uitdink. As skilpad sy woord vir jou gee, kan jy hom maar glo.

Eendag sê die stadige skilpad vir haastige Hasie: “Ek wed jou ek sal jou wen as ons twee resies hardloop.” 

Die hasie kyk verbaas na skilpad en dink by homself: “Ek het seker nie reg gehoor nie. Glo hierdie trapsuutjies nou regtig hy sal my wen? Weet hy nie hoe vinnig ek kan hardloop nie? Hier is nie ‘n hond op hierdie plaaswerf wat my kan vang nie! Die man is beslis van sy sinne beroof. Ek sal lag-lag wen en dan gaan skilpad op sy neus kyk.”

”Nou goed,” sê Haas, “ons kan môre resies hardloop en dan kyk ons wie kom eerste by die wenstreep aan.”

Die volgende oggend het al wat dier is bymekaar gekom om hierdie resies dop te hou. Hulle weet sommer dat Haas stof in Skilpad se oë gaan skop en dan gaan Skilpad nog meer in sy dop gekruip wees. 

Skilpad en Haas staan gereed.

”Op julle merke, gereed en weg is julle!” roep die olifant en hy blaas die fluitjie so hard dat dit deur die bos weergalm. Haastige Haas spring met ‘n vaart in die pad.’n Groot stofwolk agtervolg hom en hy verdwyn heeltemal daaragter. Skilpad stap maar voetjie vir voetjie aan. Hy is baie rustig en glimlag vir homself. Hasie dink toe dat hy genoeg tyd het om nou eers ‘n bietjie te rus en ‘n bietjie te eet. Hy gaan lê uitgestrek in die koelte van ‘n ou groot boom en begin knibbel aan die soet groen gras wat daar naby hom groei. Dit smaak heerlik, dink hy, en lê agteroor. Hy lê so lekker dat hy insluimer en skoon vergeet van ou Skilpad. Skilpad loop bult-op en bult-af. Hy kyk nie regs nie en ook nie links nie. Hy hou net aan. Uiteindelik is hy twee treë van die wenstreep af. Dis toe dat Hasie wakker skrik en onthou van die weddenskap en die resies! Hy spring soos ‘n weerligstraal daar weg, maar te laat! Skilpad is oor die wenstreep!

Al die diere juig en klap hande vir die wenner, want hulle ken Skilpad as 'n dier met geduld, deursettingsvermoë en iemand wat ander diere soos 'n boek kan lees.

”Jy sien,” sê Skilpad, “dit is waar wat hulle sê: HOE MEER HAAS, HOE MINDER SPOED. Jy het gedink jy is vinniger as ek en toe het jy te gerus geraak.”

Skilpad stap weg met ‘n glimlag wat van oor tot oor strek.

Wat het ek uit hierdie storie geleer?
* Geduldige mense is suksesvoller in die lewe.
* 'n Grootprater is nie altyd so goed soos wat hy dink hy is nie.
* Deursettingsvermoë is een van die belangrikste eienskappe op jou lewensreis.

Sunday, 11 May 2025

Moedersdag: Mamma

Met die sagste oë staar sy na my,
verby al die foute
en dinge wat ek kortkom.
Sy kyk verby die lag-masker
op my gesig
en sien die krake in my raak.
Haar glimlag is eg en suiwer,
soos die sonopkoms
is daar geen pretensies.
Met haar eie seer diep weggebêre
dra sy my wanneer ek te moeg raak om te loop.

Elke dag vertel ‘n verhaal van hoe ek
poog om soos sy te word.
Met haar liefde wat uitstraal
uit haar siel,
verlig dit alles wat donker is.
Haar groen oë weet presies wanneer om saam te lag,
en ook wanneer om te treur.
Met haar sagte hande omvou sy my gebroke menswees
en ek voel weer heel.

Die grappies en lag,
skets soms ‘n ander prentjie
as die seer wat sy in haar koester.
Sy veg onverpoosd voort
en met die soet uit haar hart
verwoes sy enige bitterheid.
Haar gedagtes is ‘n vol-kleur tuin
waar blomme ryklik groei
en skoenlappers baljaar.
Met haar innige omgee
maak sy plek vir selfs die mees gebroke en af-vlerk voëltjies.

Haar arms word ‘n plek van tuiskom
en rus by die stille waters waarvan die Bybel praat.
Sy staan gereed om jou te vang,
op te help, en om jou selfs te dra.
Haar hart ken van voete-was,
en wangdraai,
en die grootheid van liefde.
Met haar onvoorwaardelike liefde leer sy my elke dag
meer van wie ek eendag wil wees.

Duisende woorde het sy nie nodig,
nie eers ‘n groot verklaring of gedigte wat rym.
Nie groot arms vol blomme,
en klein boksies met blink juwele.
Sy waardeer die kleinste gebaar,
en is tevrede met so min ...
En selfs ‘n gewone “hallo mamma”
vertel haar van elke emosie wat binne my ontstaan.

[Uit die pen van Hencia Marais 'n spesiale gedig vir haar ma.]

Ruben sê dankie vir ma's, oumas en tannies langs sy lewenspad

Liewe Maats

Julle weet dat dit vandag Moedersdag is. Moedersdag is die één spesiale dag van die jaar waarop ons opreg kan dankie sê vir daardie mens in jou lewe. Dié persoon wat jou nog altyd mildelik met liefde, deernis, trots en wysheid hanteer en omarm het.

Die tweede en belangrikste Ruben-rede hoekom ons Moedersdag moet vier is om ons daaraan te herinner dat elke dag eintlik 'n Moedersdag behoort te wees.

Die ma-figure in ons lewens kan verskillend wees, óf dit biologies, aanneem, instaan óf geestelik is, hulle is die sout van die aarde en ook in ons lewens. En daarom is dit vir hulle moontlik om die beste geure in ons na vore te bring.

Hier in Christina Kiddie Kinder- en Jeugsorgsentrum hoor ek dikwels hoe van julle outjies met en oor julle ma's praat. Somtyds swel my ou hondehart sommer van trots en gee ek 'n vreugdesblaf omdat ek saamstem en ander kere is ek so ontsteld dat ek sommer onder my geliefkoosde dinkbank gaan lê.

In ons familie (ons oupas, oumas en ouers) in Petrusburg, weet ons dat die deurlopende dryfkrag wat ons almal op die regte pad hou, by ons ouma begin het. My ma se grootste vreugde is as sy al daardie eienskappe van deernis, intelligensie en integriteit in haar kinders en selfs kleinkinders sien reflekteer.

Ek wil graag vir die ma's wat my stukkie lees, dankie sê dat julle ons veilige vangnet is, maar dat julle ook vlerke aan ons drome gee.

Liewe Maats, Moedersdag beteken vir ons elkeen iets anders, want ons omstandighede verskil. Daarom wens ek namens my en Tommie vir elke tannie hier by Christina Kiddie Kinder- en Jeugsorgsentrum geluk met Moedersdag, en sê ons twee dankie vir al die goeie waardes wat julle in elkeen van ons belê. Dankie dat julle tannies tyd maak vir ons, ons met liefde omring en die regte pad vir ons wys in hierdie moeilike en uitdagende tyd waarin ons leef. 

Liewe hartsma's ... tannie Christelle, tannie Katrien, tannie Sanette, tannie Meloni, tannie Elsie, tannie Mittah, tannie Dorah, tannie Maria, tannie Stella en tannie Mpho, saam met ons maatskaplike ma, tannie Chrizelna, dankie vir die juwele wat julle in ons almal se lewenstassie van herinneringe sit. In hierdie onthoutassie sit ons die waardevolle lesse wat ons by julle leer, julle navolgingswaardige voorbeeld en eendag kan ons ook soos my ma in Petrusburg van vreugde blom omdat waardevolle lesse deel van ons lewens geword het. 

Namens ons almal wil ek ook vir Christina Kiddie Kinder- en Jeugsorgsentrum se bestuur 'n besondere Moedersdag toewens. Met apologie aan Sophia Loren weet ek dat tannie Raedun, tannie Melanie, tannie Philda, tannie Natasha en tannie Anja nooit alleen is met hulle eie gedagtes nie. Hulle moet altyd twee keer dink, een keer vir hulself en een keer vir Christina Kiddie Kinder- en Jeugsorgsentrum.

Dankie vir al die tyd wat ongevraagd, direk en indirek aan elke inwoner afgestaan word. 

Vreugde vir hierdie besondere dag.

Ruben-groete tot 'n volgende keer.

Maats, gaan lees asb. my storie oor ma's HIER!!

Saturday, 10 May 2025

Ruben-humor: Lawwe definisies

* Wat is die definisie van 'n rosyntjie? 
Dis 'n druiwekorrel wat 'n senuwee-ineenstorting gehad het.

* Wat is die definisie van 'n by?
Dis 'n brommer met 'n rugbytrui aan.

* Wat is die definisie van 'n ambulans?
'n Taxi met diskoligte aan!

* Wat is die definisie van 'n vakansieganger?
Iemand wat baie ver ry om 'n selfie op FB te sit.

Thursday, 8 May 2025

Een minuut storie: Rose vir Mamma


Die middeljarige man stop by die bloemiste, hy wil gou ’n bestelling plaas vir blomme wat deur Interflora aan sy moeder gestuur moet word. Dit is môre haar sewentigste verjaarsdag, maar hy sal nie môre kans kry om die tweehonderd kilometer af te lê om die blomme vir haar te neem nie.

Terwyl hy uit sy motor klim, merk hy die dogtertjie op wat op die sypaadjie sit en huil. Hy vra haar wat fout is en sy antwoord: “Ek wil graag ’n rooi roos vir my moeder koop, maar ek het net een rand en die rose kos vyf rand ’n roos.”

Die man glimlag en sê: “Kom saam met my, ek sal vir jou ’n mooi rooi roos koop.” Hy koop toe vir haar die roos wat sy graag wil hê en plaas die bestelling vir sy ma se blomme. Terwyl hulle uit die winkel stap, bied hy aan om haar by die huis te gaan aflaai.

Sy antwoord: “Ja, asseblief! Maar sal u my na my moeder toe neem.”

Sy beduie vir die man die pad en weldra arriveer hulle by die begraafplaas. Sy klim uit en stap na een van die nuut opgemaakte grafte en plaas die roos op die vars hopie grond wat oor die graf is.

Die man het teruggegaan na die bloemiste, die Interflorabestelling gekanselleer, die grootste bos blomme in die blommewinkel uitgesoek en die tweehonderd kilometer gery na sy ma se huis.

Ons moet aan hulle vir wie ons lief is, blomme gee terwyl hulle lewe, wanneer hulle dood is, kan hulle dit nie waardeer nie.

Wednesday, 7 May 2025

Monday, 5 May 2025

Ruben skryf spesiale verjaardagwense vir tannie Christelle


Liewe Maats

Ek skryf net 'n baie kort briefie om ons tannie Christelle terug te verwelkom by die werk. Ek het die laaste ruk aanmekaar vir julle geskryf en ek besef dat te veel van 'n goeie ding, nie goed is nie. Tog wil ek nie hierdie kans deur my vingers laat glip om vir tannie Christelle duidelik te laat verstaan dat ons haar gemis het en dat haar plek in die kantoor en in ons harte leeg was nie.

Ek, in my hoedanigheid as hoof van sekuriteit, het haar regtig gemis. Daar is so baie dinge wat ek graag met haar sou wou bespreek, veral as ek hond se gedagtes gekry het, maar dan het ek maar op my instinkte staatgemaak. Ek het hierdie afgelope week ook agtergekom dat jy nie slapende honde moet wakker maak nie, want jou eie honde byt die seerste.

Dankie, tannie Sanette, dat jy nie tannie Christelle se verjaardag vergeet het nie en dat jy vir haar haar gunstelingkoek gebak het. Ek, Tommie en ouma Annie het koppe bymekaar gesit om vir jou spesiale wense te skryf. Tannie Sanette het ons gehelp met al die byvoeglike naamwoorde.

'n Verjaardag is 'n sprankeling
wat jý alleen kan voel ...
'n Verjaardag is 'n warmte
wat jý alleen gewaar ...
'n Verjaardag is genoeglikheid
wat jý alleen verstaan ...
'n verjaardag is 'n dag,
net 'n bietjie sonniger,
en helderder,
'n bietjie liefliker
en baie gelukkiger
as 'n gewone dag ...
en die beste van alles ...
dis alles joune!

Liewe tannie Christelle, ons hoop dat jou verjaardag saam met jou familie baie spesiaal was en dat jy met ons definisie van 'n verjaardag saamstem.

Ruben-groete tot volgende keer!

Saturday, 3 May 2025

Ruben-humor: Anderste raaisels

*  Wat is die vroulike vorm van papaja?
Mamaja

* Wat is die vroulike vorm van appel?
Appelliefie

* Wat is die manlike vorm van Henriëtte?
Haanriëtte

* Wat is die manlike vorm van appel? 
Appelkoos

Thursday, 1 May 2025

Ruben praat met die kinders oor Werkersdag


Liewe Maats

Dit voel vir my asof ons van een vakansiedag na 'n volgende een hardloop. Vandag is Internasionale Werkersdag. Ek dink al die afgelope week oor wat ek vir julle gaan sê. Hoekom is Werkersdag oor die wêreld heen dan so belangrik? Daar is seker baie redes, maar die belangrikste een, volgens my, is om hulle te eer wat getrou en hard werk en volhard daarmee, al is die omstandighede nie altyd goed nie. Ook om vir ons ouers dankie te sê vir al die opofferinge wat hulle vir ons doen. 

Vir ons wat nog op skool is, is al die gepraat en toesprake nie regtig belangrik nie, behalwe as jou ouers deel van die 42% van die bevolking is wat nie werk het nie. Dan kyk en luister jy anders na die wêreld. Dan bestaan werkersdag nie vir jou nie, want daar is niks om te vier nie. Die bekommernis staan diep gelyn op jou ouers se gesigte en die hoop in hul oë word daagliks minder en minder. Jy, as kind, voel asof jy kan versmoor in die atmosfeer van bekommernis en die dampe van armoede. Jy voel skuldig, maar terselftertyd ook magteloos en dan luister jy na al die werksbeloftes wat niks verder as die radius van televisieklank strek nie.

Wat kan my bydrae as skoolkind tot werkersdag wees?

Wel, Maats, dit is nie nou die tyd om fees te vier en op ons louere te rus nie. Dit is tyd vir aksie. As jou pa of ma miskien nie werk het nie, beteken dit nie dat jy nie gaan werk hê nie. Maak nou 'n keuse. Wees beter as die gemiddelde.

Ek glo dat elkeen van ons harder moet leer en beter moet doen. Dit is ons WERK! En slegs as my punte wys dat ek meer as my beste gedoen het, dan weet ek dat ek eendag 'n nuttige bydrae kan lewer. Van middelmatigheid het die wêreld genoeg.

Ek lees die koerant, luister na die radio, kyk televisie en hoor wat die optimiste, die pessimiste en die doemprofete te sê het. En ek glo in my hart dat elkeen van julle Kiddies suksesvol gaan wees in wat jy gaan doen en as jy eendag 'n volwassene is, gaan jy Internasionale Werkersdag vier, omdat jy 'n werk het.

Sit skouer aan die wiel tot 'n volgende keer!