"Kazuo, jy is nie gesond nie en het geen aanleg vir leer nie," het sy vader gesê, toe hy hom sommer uit die bloute afgeskryf het!
"Jou ma is oorlede en nou hang dit van jou af as die oudste om na die vyf jonges te kyk!" Hy was maar slegs 9 jaar oud; daarom het sy vader se woorde hom verpletter. "Ek is net goed genoeg om die neuse en boude van die jonges af te vee," het hy gedink, terwyl hy oor sy tweederangse bestaan gedink het.
Kazuo Taira wou bitter graag iets van sy lewe gemaak het, maar sy familie het in 'n klein vervalle koolmyndorpie gewoon. Hy kon op geen hulp van van sy vader steun nie, wat boonop geen vertroue in Kazuo se vermoëns gehad het nie en wie se inkomste nie genoeg vir kos op die tafel was nie.
Hy het gewens om gesonder, sterkter en gelukkiger te wees, maar het verlate en wanhopig gevoel. Al die inwoners van die dorpie was negatief, krities en moedeloos. Kazuo wou uit hierdie omstandighede ontsnap. Hy was vasbeslote om 'n meer positiewe omgewing te vind waar hy 'n nuwe lewe kon begin.
"Genoeg is genoeg!" het Kazuo vir homself gesê toe hy 14 jaar oud was en het daarin geslaag om uit sy situasie te ontsnap. Hy het na die groot stad, Osaka, gegaan. Sy lot was egter om 'n klerewinkel te vee en skoon te maak, omdat hy geen skoolopleiding gehad het nie en hy gevra het of hy 'n vakleerling kon word.
Lang werksure en degeneratiewe lewenstyl was te veel vir sy tingerige liggaam. Eendag het hy longbloeding opgedoen en is dadelik gehospitaliseer. Dit het al sy drome vir 'n beter lewe vernietig. Hy was fisies uitgeput en verskriklik bang. Mense rondom hom het gesterf en hy het gedink dat hy heel waarskynlik die volgende een gaan wees. Vrees vir die dood was voortdurend in sy hart.
Een middag toe hy in een van die lang gange van die hospitaal afgestap het om te gaan verduidelik waarom hy nie sy rekening kan betaal nie, het hy mense hoor sing soos nog nooit tevore in sy lewe nie! Hy het gestop om te luister na die woorde en is vreemd getrek na die kamer waar die evangelis Karasawa van Japansending 'n byeenkoms gelei het. Die evangelis het na die byeenkoms vir hom 'n Bybel gegee, waarna hy moes erken dat hy nie kan lees nie.
Die volgende dag het mnr. Karasawa hom in sy saal besoek en hom 'n woordeboek gegee. Hy het Kazuo aangemoedig om te leer lees en skryf. Dit was die eerste persoon wat hom ooit aangemoedig het om opgelei te word sodat sy lewenskwaliteit kan verbeter. Dit was die keerpunt in sy lewe.
Toe hy die hospitaal verlaat, het hy 'n brandende begeerte gehad om te leer en opgelei te word. Hy was toe 20 jaar oud en elke primêre skool wat hy genader het, het hom toelating geweier. Hy het bly aansoek doen en is uiteindelik deur 'n skool aanvaar wat hom toegelaat het om saam met die jong kinders te leer. Na skool het hy lang ure gewerk om geld te verdien om sy uitgawes te dek en sy familie te help.
Eendag het Kazuo by 'n kerk in sy omgewing uitgekom en dit het hom herinner aan die boodskap van hoop wat hy gehoor het in die hospitaal. Hy het die byeenkomste begin bywoon en 'n paar maande later het hy sy sonde bely en heelhartig geglo in die versoenende bloed van Jesus Christus.
Die woord van die kruis van Christus is wel dwaasheid vir dié wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God. (1 Kor.1:18)
Hierdie vers het Kazuo baie bemoedig, maar hy het verkeerdelik gedink dat hy ná hy 'n gelowige in Christus geword het, nie meer beproewings en probleme in sy lewe sal hê nie. Dit was 'n groot skok vir hom toe hy weer 'n slagoffer van tuberkulose geword het. Hy het so mismoedig geword dat hy wou sterf. Maar die evangelis in daardie hospitaal het hom aangemoedig om aan God te bly vashou. Agtien maande later is hy gesond verklaar en ontslaan.
Kazuo Taira was 'n wyser en ryper man toe hy die hospitaal vir die tweede keer verlaat het en het 'n aktiewe lid van die plaaslike kerk geword.
Die Here het sy hart met vrede en blydskap gevul, terwyl Hy Kazuo gehelp het om die wrok wat hy teenoor sy vader gekoester het, te hanteer. Menslik gesproke was dit onmoontlik, maar die inwerking van die Heilige Gees het sy bitterheid laat verander in ware liefde.
As jy dan jou gawe na die altaar toe bring en dit jou daar byval dat jou broeder iets teen jou het, laat jou gawe daar voor by die altaar bly en gaan versoen jou eers met jou broeder en kom dan en bring jou gawe. (Matt. 5: 23-24)
Na hy finansieel selfstandig geword het, het hy sy bejaarde vader genooi om by hom te kom bly. Dit het hom die geleentheid gegee om met sy pa te praat oor God se vergifnis en hom te vertel van die reddende genade van Jesus!
"As kind het my vader my afgeskryf, maar ek is so bly dat God sy oë op my het en in sy voorsiening het hy my lewe verander. God is nou my getroue metgesel en ek steun elke dag op die voorreg van sy teenwoordigheid in my en my familie se lewens!"
[Japansending Januarie/Februarie 2012]
Vir meer inligting klik
HIER