Friday, 20 December 2024

Dankie, Mediclinic Gariep Hospitaal


Mediclinic is vanjaar 10 jaar oud en toe kry Christina Kiddie die hééérlikste en grootste verjaardagkoek wat hulle nog gesien het. Dit was 'n reuse koek ... vergelyk dit met grootte van die waatlemoen in die agtergrond.

Dankie, Mediclinic, dat julle Christina Kiddie-inwoners se dag gemaak het. Dit was vir hulle baie spesiaal!

CK-boodskap: "Mediclinic, baie geluk met die afgelope 10 jaar wat julle wonderlike diens aan die gemeenskap van Kimberley en die Noord-Kaap gelewer het. Mag die jare wat kom, vol voorspoed en seën wees! Ons eet 'n snytjie koek op julle voorspoed!"

Portia's advice

Thursday, 19 December 2024

Binnekringnuus: Opgedress vir Dinsdag se modeparade


Verrassings en juwele het uit die dress up-boks uitgespring en gesorg vir ure se pret, lag en drome. Dit het sommer idees gegee vir toekomstige matriekafskeidrokke of konsertrokke. Gelukkig was hoë hakke nie 'n vereiste om 'n draai op die loopplank te maak nie. Tannie Christelle, jy is 'n voorslag as dit by vakansie-idees kom.  
 

Dankie, Tannie Anoniem

Dankie! Dankie!! Dankie!!!

Ons kan nie wêreld om ons verander nie, maar ons kan die wêreld van iemand om ons verander. En dit is presies wat Tannie Anoniem gedoen het. Sy het 26 bakke koekies afgelaai by Christina Kiddie. ’n Luuksheid wat enige kinderhart begeer. ’n Bak koekies per kind beteken dat die soet lekker nie gou sal opraak nie en dat dit nie met iemand gedeel hoef te word nie. 
Dankie vir die Kerstyd-mededeelsaamheid en 
dat Kersfees vir u ’n werkwoord is! 

'n Spesiale DANKIE, Beefmaster!!


Kersvader daag in verskillende gedaantes by Christina Kiddie op. Vandag het Kersvader opgedaag vermom as Beefmaster!! Ons Kerskous loop oor! Dankie dat julle ten spyte van 'n besige Kerstyd, vir Christina Kiddie op julle uitreiklysie het. Ons kan met vrymoedigheid die lesers aanraai om te gaan snuffel tussen al die spesiale Kersaanbiedings by Beefmaster.  


Dankie, Kersvaders, vir Christina Kiddie se Kersgeskenk!

Klik  HIER  vir meer inligting!

Een minuut storie: Die hemel se poskantoor


‘n Engel was besig om ‘n nuut gearriveerde Christen ‘n toer van die hemel te gee. Die twee het langs mekaar ingestap by ‘n groot poskantoor gevul met ander engele.

Die Engel het met die Christen gestop by die eerste afdeling: “Hierdie is die ontvangsafdeling. Hier word al die gebedsversoeke aan God ontvang”.

Die Christen het gesien dat hierdie afdeling baie besig is. Daar was engele besig om te sorteer deur blaaie en blaaie versoeke van mense regoor die wêreld.

Hulle het verder gestap en by die volgende afdeling gekom. Die Engel het aan die Christen vertel dat dit die verpakkings-en-aflewering afdeling is. “Hierdie is die seeninge van God in antwoord op die gebede en hier word dit verpak en afgesend aan die wat daarvoor gebid het op die aarde.

Die Christen het gesien hoe besig dit daar is. Daar was baie engele wat in daardie vertrek
gewerk het besig om die talryke seeninge van God te verpak om afgelewer te word.

Uiteindelik, in die verste hoek was ‘n kamer en hulle het gestop by daardie afdeling. Tot die Christen se verbasing, was daar net een engel en hy was besig om niks te doen.

“Hierdie kamer is die Dankie sê kamer,” het die Engel die Christen vertel.

“Hoe is dit dat hier niks aangaan nie?” het die Christen gevra.

“Dit is die hartseer ding,” het die Engel geantwoord.

“Nadat mense op die aarde die antwoorde op gebed en seëninge ontvang het waarvoor hulle gevra het, sê baie min van hulle dankie vir God.”

“Hoe wys ons dan ons dankbaarheid?” het die Christen gevra.

“Eenvoudig,” het die Engel geantwoord. “Jy sê net dankie, God.”

Wat het ek uit hierdie storie geleer?
Wees altyd dankbaar.

Wednesday, 18 December 2024

Rosetta se goeie wense:


Mag die boodskap van redding aan almal bekend wees,
en mag die vreugde van Kersfees ons lewens vul.

Tuesday, 17 December 2024

'n Spesiale DANKIE, Malu!!


Malu is 'n familiebesigheid wat met hart en siel die ekstra myl loop! Dankie vir julle omgeeharte en dat Christina Kiddie op julle uitreiklysie is. Ons adverteer Malu met die grootste liefde en vrymoedigheid. Gaan maak voor Kersfees 'n draai by Malu wat die kuns verstaan om 'n begroting te laat klop. Ons plaas ook hulle besigheidsure hier!!  


Dankie vir Christina Kiddie se Kersgeskenk!

Dinsdaggedagtes van Katelyn Marais

Sunday, 15 December 2024

Ruben is nie skaam om sy tekortkominge in die oë te kyk nie. Hy gaan daaraan werk!


Liewe Maats

Ek het regtig baie lank terug vir julle geskryf. Ek voel skoon skuldig, maar met al my verpligtinge hier op die terrein en die eindeksamen, het ek werklik my pote volgehad met ongesiene toesig en natuurlik veiligheidswerk.

Gelukkig kan ek darem rapporteer dat ons almal kan asemhaal na 'n spanningsvolle en vinnige vierde kwartaal en dat ons nou net kan vakansie hou.

Ek was Donderdag so opgewonde dat jy met my kan toor. My rede was die blou swembad, voor die hoof se kantoor. Die een wat toegegrendel is en waaroor 'n mens nie eens kan klim vir 'n vinnige afkoelswem nie. Ek hou hierdie swembad al 'n hele klompie maande dop en wonder hoe dit sal voel om my pote nat te maak. Maar ek het nog nooit die geleentheid gekry nie. As die kinders swem, is ek gewoonlik op hekdiens en dan hoor ek net hoe almal gil en jil en ek wonder of ek ook só plesierig sal voel.

Wel, Donderdag, die 12e, was my kalenderkringetjiedag! Tannie Christelle het besluit dat ek saam met die kinders kan speel, baljaar en swem. Ek dink die hittegolf het die swembad se hek oopgedwing en onder die wakende oog van ons ma, kon ek nie wag om in te spring nie. En daar moet ek tot my bittere skande uitvind dat ek effens versigtig vir die water is. Ek kan nie spontaan swem soos wat ek verwag het nie. 

Miskien het dit iets met my grootwordjare te doen. Julle moet weet ek kom van Petrusburg se omgewing en het my verstand in die dorre Noord-Kaap gekry. Dit beteken water is nie iets waarmee of waarin jy speel nie. Dit is kosbaarder as korale in hierdie droë areas. En dan moet ek verder bieg: Die veearts het vir Tannie Christelle gesê ek doen duidelik te min oefeninge en as ek volgende keer vir my verpligte besoek by haar 'n draai maak, wil sy 'n verskil op die skaal sien. My veerkragtigheid waarmee ek laas somer so kon spog, het hierdie somer verander in 'n hoop minder beweeglike spiere. En treetjie vir treetjie is ek die swembad in - my verskoning - ek wil nie golwe in die water maak terwyl die kleintjies so lekker baljaar nie. Ek het my eerste draaie in die koel blou waters gemaak, maar dit het nie die bekoring ingehou wat ek verwag het nie. Ek het gedink ek sal soos Eno's borrel en bruis, maar helaas was ek eintlik 'n besadigde Ruben wat net sy lyf so effens natgemaak het. Net daar op die swembadtrappie het ek besluit om minder onder die koeltebome te lê, minder draaie by die kombuis te maak, terwyl ek so uitbundig vir die personeel knipoog en my stert swaai en met groter ywer my patrolliewerk te doen - dubbeld die hoeveelheid, want dit gaan sommer ook nou my fiksheidsoefeninge wees. Fiksheid van been, kan dalk net my swempogings verbeter.  

Ek het gelukkig 'n video waarop my historiese wateroomblik vasgevang is. Ek gaan dit nie op FB sit nie. As 'n lewenscoach is ek voortdurend op soek na temas waaroor ek met die jongmense kan praat en as ek self 'n VOOR- en 'n NA-ervaring het, kan ek mos uit ondervinding praat. Ek gaan die video volgende jaar vir julle wys, want Donderdag was wel my eerste swem, maar nie my laaste swem nie.

Die kringetjie op my kalender is om te herinner aan my opgewondenheid, my intense teleurstelling en my vasberade voorneme dat swem my nie gaan wen nie. Ek sal julle op hoogte hou van my vordering.

Ek groet tot volgende week, wanneer ek my breë-bors-nuus met julle gaan deel. En daarvan het ek heelwat foto's. Raai gerus! Ons praat weer.

Ruben-groete!

  

Thursday, 12 December 2024

Koester Karos koester sy medewerkers

Koester Karos is bevoorreg om medewerkers te hê wat weekliks 'n bydrae lewer. Hierdie jaar is bydraes gelewer deur Katelyn Marais, Portia Kgopodithata, Rosetta Venter, Ruben en die NK-vrywilligers.

Voordat almal besig raak met hulle vakansiedinge en by hul families gaan kuier, (of dalk kuiermense en speelmaatjies kry), wil ons uit Koester Karos-geledere baie dankie sê vir julle volgehoue en raaksê-bydraes. Julle insette word opreg waardeer. Party van julle het julle melktande op hierdie blog geslyp. Moenie ophou om te skryf en mense rondom julle te motiveer nie. Ruben het besluit hy gaan sy aanslag volgende jaar 'n bietjie verander en ons kan nie wag om te sien wat uit sy pen gaan kom nie. 

Geniet julle Kersseisoen, onthou om uit te reik na hulle wat baie minder as jy het. Liefde is baie meer as gekoopte geskenke onder 'n Kersboom, wat se waarde daagliks afneem. Heerlike eetgoed in 'n helderkleurige bakkie vir hulle wat karre oppas, sekuriteitswerk doen of hulle wat sorg dat jy petrol in jou kar het en orals kan rondry, saam met mooi en opregte wense, los spore van liefde.

Mag 2025 vir elkeen van julle 'n besondere blomjaar wees. Onthou altyd: Koester jou geliefdes. Ons sien uit na julle bydraes!

Katelyn Marais:

Portia Kgopodithata:

NK-vrywilligers:

Rosetta Venter:

Ruben:

Een minuut storie: Die seun wat wolf-wolf geroep het


Baie lank terug was daar 'n seun wat verveeld geraak het met sy werk. Hy moes die skape van die dorpsmense buite in die veld oppas. Hy het aan maniere gedink om sy dagtaak ‘n bietjie meer opwindend te maak.

So skree hy eendag dat daar 'n wolf tussen die skape is. Al die dorpenaars het aangehardloop gekom om die wolf te verjaag. Hulle kon egter geen wolf sien nie. Die seun het gedink dat dit baie snaaks is om mense die skrik op die lyf te jaag, maar die dorpenaars was nie beïndruk nie.

Hulle het vir hom gesê om dit nie weer te doen nie. Nie lank daarna nie, bak hy die dorpenaars weer dieselfde poets. Omdat die skape die dorpenaars se belangrikste bate was, het hulle weer aangehardloop gekom, net om te vind dat die seun vir hulle lieg.

Later daardie selfde dag sien die seun regtig 'n wolf tussen die kudde rondsluip. Hy het geskrik, opgespring en om hulp geroep. Maar niemand het hierdie keer gekom nie, want hulle het gedink hy maak nog steeds 'n grap.

Teen sonsondergang het die dorpenaars na die seun  gaan soek. Hy het nie met hulle skape teruggekeer nie. Hulle het hom huilend gevind. Hy het vir hulle gesê dat daar werklik 'n wolf was, en dat die hele kudde weg was.

Die dorpenaars was bitterlik ongelukkig, maar 'n ou man het hom kom troos en vir hom gesê dat niemand 'n leuenaar sal glo nie, selfs al is hulle eerlik.

Wat het ek uit die storie geleer?
Leuens verbreek vertroue, selfs al bedoel jy dit as ‘n grap.

Wednesday, 11 December 2024

Rosetta se goeie wense:


Mag ons vandag die diepte van Sy raad,
die krag van Sy heerskappy,
die liefde van ons ewige Vader,
en die vrede wat Hy alleen kan bied, ervaar.