‘n Joernalis by ‘n koerant het elke jaar, net voor Kersfeestyd, gevra dat kinders vir hom briefies moet stuur om te vra wat hulle graag vir Kersfees wil hê. Hy het elke briefie met liefde gelees en al die geskenkies uit sy eie sak aangekoop.
Die geskenkies is sorgvuldig toegedraai en dan per pos na die kindertjies gestuur. Die oom was baie lief vir Jesus en sy geskenke aan die kinders, was een van sy dankbaarheidsdade. Die Bybel sê mos duidelik in 1 Johannes 3:18 – “My kinders, laat ons nie liefhê met woorde of met die tong nie, maar met die daad en in waarheid”.
Op ’n dag kry hy ’n briefie van ‘n seuntjie wat vra of hy tog nie asseblief ‘n mooi, rooi vragmotortjie kan kry nie. Die briefie is met ‘n bewerige hand op geel, verkreukelde papier geskryf. Hy koop ‘n groot, helderrooi vragmotortjie en draai dit toe in vrolike geskenkpapier en bind ’n groot rooi lint daarom. Hy kyk na die adres wat aangegee is en sien toe dat die woonbuurt waar die seuntjie bly, nie baie ver van sy werk af is nie. Die verslaggewer besluit toe om die geskenkie self te gaan aflewer.
Die adres lei hom na 'n eenvoudige, maar netjies versorgde huisie. Hy klop en die seun se moeder maak die deur oop. Sy groet baie vriendelik. Die verslaggewer verduidelik wat die doel van sy besoek is en dat hy graag die geskenk persoonlik aan die seun wil gee. Die tannie neem hom na ‘n slaapkamer agter in die huis. Voordat hulle die vertrek binnegaan sê die tannie vir hom dat die seuntjie ‘n kankerlyer is en baie ernstig siek is. So siek, dat hy enige tyd kan sterwe.
Die tannie gaan staan toe voor die seuntjie se bed en roep saggies: “Marius!” Hy maak sy oë oop. “Die oom van die koerant is hier. Hy wil net gou aan jou ’n geskenk oorhandig”. Marius beur orent. Hy glimlag toe hy die oom sien, neem die geskenk en maak dit baie versigtig oop. Sy oë rek! Dit is die mooiste rooi vragmotor wat hy nog ooit gesien het! Sy gesig straal van blydskap. Sy beker loop oor van geluk!
“Baie, baie dankie oom! Nou het ek ’n geskenk vir my boetie. Hy wou nog altyd so graag ‘n rooi vragmotortjie hê! Dit sal my laaste Kersgeskenk aan hom wees.” Trane rol vrylik oor die wange van sy mammie en die oom. Marius praat weer saggies: “O Mammie, Jesus is so goed vir my. Om te dink Hy het in die oom se hart gewerk om my laaste wens te vervul; ’n geskenk aan my boetie. As ek eendag nie meer daar is nie, sal hy my onthou, elke keer as hy met sy rooi vragmotortjie speel.”
Marius se mammie was ‘n weduwee. Hulle pappie was op daardie stadium reeds agt jaar oorlede. Hulle was maar arm, maar hulle was ryk in die Here. Hulle het almal aan Jesus Christus behoort en Hom baie liefgehad, soos Marius deur sy liefdesdaad op sy sterfbed, gewys het.
Marius is drie dae na Kersfees oorlede, maar leef steeds in sy geliefdes se harte.
Maats, “Laat julle lig ook so skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik.” (Matt.5:16)
Ouma Gerty